Saterdag 05 April 2014

Koffie - Lekker koffie sonder kapsules

Koffie, net die woord koffie laat mens sommer klaar beter voel en laat my dink aan lekker dinge. Boeretroos ... ek wonder waar kom dit vandaan, maar ek weet dis waar.

Koffie en beskuit ...
Nou is daar 'n nuwe ding, koffie kapsules ... ai die goed lyk, ruik en proe goed ... maar o genade ... dis mos nou 'n duur spulletjie die ... sommer niks vreemd vir een koppie om so R8.00 te kos nie ... en dis nou in jou eie plek. Maak nie saak hoe mooi die bemarkers die dinge omtower en opdis nie ... dis darem baie duur. Die oorspronlike masjiene en kapsules was gewaarborgde kwaliteit maar soos met alles het aanvraag ook aanleiding gegee vir "cheaper" opsies om die mark te betreë. En hier kom die moeilikheid, "no-name" kapsules ... "one machine fits all capsules" ... "economic replacement capsules" ... en so spoed die ekonomie voort. Die koffie kapsules ding laat my dink aan die uitbuitery met drukkers en die hervullings ... kyk dis nou rowery vir jou ... hoekom verkoop hulle nie liewers a bulk pack cartridges aan jou en gee die drukker verniet nie ?

Maar wag ... ek dwaal af ... die ding gaan mos nou oor koffie. Ja ek weet die is mos 'n blog oor Man Kos ... maar koffie is mos 'n groot deel van Man Kos ... Man Kos wat vrouens ook like.

Vir my kan koffie nog altyd goeie en lekker gedagtes laat opkom.

Ek dink aan my kinderdae en die moer koffie. Ja ek weet instant koffie is ook moer koffie ... jy moer net water by ... maar ek praat nou van regte egte moer koffie. Die handgemaakte flennie koffiesakkie wat sorgvuldig met die hand vasgewerk is aan bloudraad ring wat perfek om die koffiepot se bek pas. Ek onthou die heerlike geur wat so saam met die stoom opstyg as jy die kookwater oor die hopie moer in die sakkie gooi. Maar ek onthou ook my nukkerigheid as my pa vir koffie vra en die sakkie was nie uitgeskud nie.

Ek onthou ook die erde keteltjie wat so eenkant op my ouma se Aga stoof gestaan het, so eenkant waar hy nie prut nie maar waar hy ook nie koud word nie.

Ek sien my oupa op die stoep, gryse ou man met helder blou oë ... oë wat so vêr oor die lande uitkyk terwyl die son sak en hy slurp die warm koffie so uit die piering uit.

Ek onthou koue wintersoggende op die Hoëveld ... die ryp lê wit oor die grasperk en die windjie wat onder die toedeur deursleep is ysig om my voete ... maar my hande is gevou om 'n blikbeker met vuurwarm koffie waarin daar so klein eilandjie vars Jersey room dryf. Ja my ma het geweet hoe om my te bederf, die ou telepeltjie varsroom wat sy heel laaste in die koffie laat ingly.

En dan later jare toe kom die kitskoffie en baie van die magic van koffie verdwyn saam met die kits ding. Maar die kits koffie het sy plek volgestaan vir 'n koshuisbrak wat nie vrye toegang tot 'n kombuis het nie en in die laataand dan kook ons water in 'n blikbeker op 'n strykyster. Poeiermelk, suiker en kitskoffie ... 'n lekker blikbeker en die brousel. Ja dit was 'n brousel maar tog het dit 'n belangrike rol gespeel in my opgroei.

En toe my studente dae en daai vervloekste duiwelsdrek wat in die blink kanne in die koffiekamer aankom op gestelde tye. Jissim daai goed was sleg maar ons het dit gedrink en gesels en gekla en nog gedrink.

Ek onthou bike trips waar die reën my in my tentjie vas keer en ek prakseer 'n kookwatertjie op 'n draagbare stofie. En dan terwyl die water klap teen die tentjie sit ek en slurp die warm koffietjie uit die blik bekertjie en voel die warmte so in my maag in versprei.

Hierdie is maar 'n paar van die dinge wat ek onthou as ek aan koffie dink.

Koffie mengsel in die koppie
Deesdae is daar mos nou weer 'n oplewing in koffie kultuur maar ongelukkig slaan hulle ons met duur toerusting en duur komponente.

Ek het al baie keer in die winkel gestaan en so na die masjiene gekyk en gewonder, gewik en geweeg en dan die somme gemaak en weggeloop. Moenie my verkeerd verstaan nie ... ek is 'n ou wat vir goeie mes maklik groot geld uithaal, meer as wat sommige van die masjiene kos maar die wiskunde met die koffie kapsules werk nie vir my nie ... die goed is te duur per porsie en dis al ... en veral vir my wat so vier of vyf koppies koffie per dag drink. Ja en ek hoor die stories ...

"Man die is net vir spesiale geleenthede."

Koue melk op die mengsel
Nonsens sê ek ... so ek moet minder lekker koffie 90% van die tyd drink en dan net so elke dan en wan so ou kapsuletjie uithaal ... nee ... dit maak nie sin vir my nie.

So staan ek en staar deur my kombuisvenster ... dis laatnag en ek het nog 'n paar ure oor voor ek kan gaan slaap. Vroeër die dag het ek vir die soveelste keer voor die toonbank gestaan waar die koffie kapsule masjiene uitgestal word en al die goedjies se stories gelees en weereens het ek net my kop geskud en weggeloop.

Na die mikrogolf sessie
Ek begin die koffie mengsel aanmaak in my koppie terwyl ek wag dat die ketel kook .... en toe dink ek ... hoekom kan ek nie my eie ding uitwerk met dit wat ek hier in my huis het nie. Hoekom moet ek nog masjiene koop wat uiteindelik onder in die kas gaan beland want dit is net teveel moeite om die ding op te fire vir een koppie koffie ... en ja dan is dit ook nog daai prys.

Wat maak die masjiene eintlik ... hulle kook water of melk, maak stoom of skuim en so tower hulle 'n koppie koffie op en dit teen 'n moerse prys.

Ek kyk na my bestandele ... 1 teelepel goeie kitskoffie ... ek drink deesdae Douw Egberts, op sigself alreeds aan die duur kant maar dis vir my lekker en verseker nie R8.00 'n shot nie. Verder gooi ek twee teelepels suiker in, een teelepel Cremora en dan kookwater en melk.

Nouja ... dis mos basic en almal het dit in die huis ...

Roer die kookmelk mengsel
Op die ingewing van die oomblik gooi ek sommer die koue melk op die mengsel en ek speel nie ... twee derdes van die koppie vol koue melk. Eerste keer en ek probeer die poeiers oplos in die koue melk maar dit maak net klonte en klou aan die teelepel vas. Nee ... dit werk nie ... gooi maar uit.

Vat 'n skoon koppie, 1 lepel koffie, 2 lepels suiker en Cremora. Gooi weer die koue melk in die koppie en sit die koppie in die mikrogolf oond. My oond is groot een en ek weet hy maak melk warm tot net voor kookpunt op 1 minuut.

Ek wag geduldig en toe die tyd om is dryf daar so dik koffielaag op die melk. 'n Vinnige klits met die teelepel en alles is mooi opgelos. Nou maak ek die koppie vol met kookwater. Roer weer.

Ryk en lekker ...
Manne ... en daar staan my tuisgemaakte lattè en hy kos nie R8.00 nie.

Nouja ek doen dit nou so vir die afgelope 18 maande en menige eienaar van a koffie kapsule masjientjie het al met verwondering na my manier gekyk en hulle koppe geskud ... ek weet van een of twee wat lanklaas kasules gekoop het.

Jy kan natuurlik die Cremora en die suiker uitlos en minder melk ingooi maar die basiese idee is om die koffie in die melk te kook en dan die kookwater oor te gooi.

Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook blad.

Wees so vriendelik en "Follow" my hier en SHARE dit ook wyd en suid. Ons maak nie geld uit die goed uit nie maar dis baie lekker om te sien dat lesers die inhoud waardeer. O ja en +1 is ook belangrik.

Lees ook gerus my  Briekmerke Blog

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Thank you for your comment. The comments on this blog are moderated and yours should appear soon.

Greetings
Colyn.