Sondag 20 April 2014

Brood - Toasties vir die manne

Ek het al so paar keer gepraat oor die lekkerte van brood en ek het ook al geskryf oor hoe ek toast maak.

Hier is my storie oor 'n Steak Broodjie.

Vandag wil ek so bietjie verder gaan en stap vir stap mooi verduidelik hoe ek geroosterde toebroodjies maak. My manier is verseker nou nie die beste manier nie maar vir my het dit smaak en tekstuur wat dit in 'n ander klas plaas.

As mens na geroosterde toebroodjies kyk dan is daar so paar dinge wat my die horries gee. Kom ons vat hulle so een vir een ...

1. Die bleek siel ... kyk, as jy my nou regtig wil omkrap dan moet jy vir my so bleekvaal stuk brood gee en dit toast noem. Hierdie ding het my al baie ongeskik laat optree.
2. Die verpletterde siel ... hierdie een is nogal meer algemeen as wat mens so wou sien. Dis waar die toebroodjie in die rooster ingesit is en die operateur doen sy daaglikse krag oefening op die masjien. Die dingetjie kom uit dat hy amper lyk soos twee lagies pannekoek met ietsie tussen in.
3. Die olie lap ... nou hy kan in enige van die twee voriges se klas val maar met die bonus by dat wat ookal daarin gesit was, asook die buitekant is so met die vet besmeer dat dit wat op jou bord of in die pakkie beland my nogal sterk herrinner aan 'n vadoek wat gebruik word om die stoof mee skoon te maak.

Nouja, nou het julle 'n idee van hoe ek na roosterbroodjies kyk.

Hoe dink ek moet 'n roosterbroodjie lyk ?

Eerstens wil ek dit net weer duidelik stel, ek sê nie my idee is reg of die norm waarteen roosterbroodjies gemeet moet word nie maar dis bloot net my opinie ... die opinie van 'n man wat van lekker kos hou !

Dis my opinie dat mens van enigeiets wat jy maak, iets lekker en besonders kan maak. Al wat dit vra is dat jy regtig fokus, baie liefde insit en kook uit jou hart uit. Jy moet so bietjie moeite doen en dink terwyl jy die voorbereiding doen.

Ongelukkig het roosterbroodjies in die klas van vinnige, moeitevrye en maklike kitskos verval. Ja, dis seker in 'n mate nie heltemal verkeerd nie maar dis regtig nie nodig om dit af te skeep en uit te haas nie.

a. Roosterbroodjies moet ordentlik gerooster word.
b. Die broodjie moet smaak en tekstuur hê.

Dis waarmee ek begin
Ongelukig is dit so dat enige vorm van roosterpan wat toeklap, die tekstruur van die brood gaan vernietig. Die brood word warm, effens vogtig en die gewig van die roosterplaat laat alles inmekaar druk.

Nou hoe maak mens om dit te vermy ?

Ek gaan die ou staatmaker van kaas, ham en tamatie doen.

My pan op die stoof
Ek begin met a lekker groot plat pan op medium hitte op die stoof. Geen olie of vet in die pan nie.

Volgende sny ek my brood in mooi eweredige snye. Jy kan dunner of dikker gaan soos jy verkies. Vir my is dit net so knerts dikker as die gesnyde winkelbrood.

Baie liggies gesmeer
Ek smeer baie min botter op die buite kante en sit die twee snye in die pan. Dis belangrik dat die pan nie te warm is nie want jy wil die brood lekker warm laat word en dan 'n korsie bak.

Sodra jy die brood in die pan ingesit het kan jy ietsie op die brood smeer. Chutney, chilli sous, tamatiesous, blatjan of mosterd ... enigeiets wat jy van hou. Maar moenie teveel opsit nie.

Reg vir die vulsel
Nou plaas ek my kaas op die brood in die pan en sprinkel so bietjie gedroogde chili flakes oor en gemaalde swart peper.

Volgend plaas ek die ham op een sny van die brood. Die een gaan die onderkant van die broodjie wees. Op die anderkant kan jy nou jou tamatie skyfies sit en dit geur met sout en peper. Ek sprei ook bietjie mosterd op die ham.

Kaas en ham vir my
Nou moet jy geduldig wees ... moenie rondkarring met die brood nie. Hou dit mooi dop ... spoedig gaan jy sien die kaas begin smelt. Dis 'n goeie aanduiding dat die korsie begin bak.

Heerlik en bros
Lig nou die een broodjie, ek vat die tamatietkant want die tamatie is nou besig om in die kaas in te sak, lig effens op met 'n spaan en kyk of die kors begin bruin word. As dit die geval is moet jy die een nou bo-op die ander een sit. Doen dit flink en versigtig. MOENIE PLAT DRUK NIE. Gee die toebroodjie nou 30 sekondes langer op die kant en dan draai jy die hele toebroodjie om in die pan. Die kante behoort nou min of meer dieselfde te lyk.

Hierdie laatse draai is belangrik want wat jy nou behoort te sien is dat die kaas begin rys tussen die brood en die hele ding so effens op te plomp. Dis perfek.

Poppie like tamatie by
Lig die broodjie nou uit die pan uit en sit dit op 'n draadrakkie neer ... jy wil nou nie hê die brood moet op 'n bord lê en pap word aan die onderkant nie.

Maak jou opdien bord nou reg en dan sny jy die broodjie met 'n lekker skerp mes. Plaas dit op jou bord en bedien.

Kyk na die tekstuur
Wat jy nou op jou bord behoort te sien is 'n pragtige krispie toebroodjie. As jy hom byt gaan jy deur die korsie breek en dan is jy in sagte brood met die heerlike vulsel.

En daar is hy ...

 Man Kos waarvan vrouens ook hou !

Lekker eet
Ja ek weet dis bietjie meer moeite en dit vat meer tyd maar die resultaat is dit alles werd. Op die manier kan jy van geroosterde broodjies 'n lekker maaltyd maak.

Jy kan hoender en roomkaas maak, biltong en kaas ... jis die moontlikhede is amper oneindig. Wat egter belangrik is, is die feit dat jy 'n heerlike broodjie met karakter maak.

Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook bladsy.







Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Thank you for your comment. The comments on this blog are moderated and yours should appear soon.

Greetings
Colyn.