Saterdag 19 April 2014

Kurper - lekker vars vis

Die laaste klompie maande kyk ek baie getrou omtrent elke kook program op die TV wat ek raak blaai. Wat my opval van die Engelse en Australiese programme is die groot hoeveelhede vis wat voorberei word. Omtrent elke program is daar vis op die tafel. Nou dit is seker te wagte van lande wat deur die see omsingel is.

Toe begin ek wonder ... hier by ons is die mense wat aan die kus woon gelukkig om 'n goeie voorraad vars vis te sien maar ons in die binneland, neewat jong, vars vis is regtig skaars.

So klompie jare terug het ek koi damme in my tuin gebou en deel van die projek was om dit so omgewingsvriendelik as moontlik te hou. Baie min meganiese filters en ek het 'n groot biologiese dam ingesluit ... hier is geen koi in nie en ek het visse ingesit wat moes help om die biologiese filtrering te bevorder.

Een van die spesies wat ek ingesit het was Vleikurpers. Maar nouja soos met baie van ons planne het die een ook nie presies uitgewerk soos ek beplan het nie en spoedig het die kurpers versprei na al die damme toe. Hulle doen 'n goeie werk met die biologiese proses maar hulle sit ook 'n redelike las op die stelsel want hulle dra by tot die bio-massa.

Vleikurper
So kom dit toe dat ek jaarliks die kurpers begin oes. Ek haal so tussen 25 en 30 kilogram kurpers uit aan die einde van die herfs.

Baie van ons mense trek hulle neuse op vir enige varswater vis en dit is jammer. Ek weet nie waar kom die renons in varswater vis vandaan nie en ek dink baie van dit is meesal snobisties.

Vandag gaan ek julle wys wat ek met die kurpers doen.

Vir my tafel haal ek die uit wat omtrent so groot soos my hand is ... hulle is so 12 to 18 maande oud. Onthou dis vleikurpers en word nie so groot soos die bloukurpers nie.

Rol in gegeurde meel
Maak die vis skoon en sny die koppe af. Jy kan natuurlik die koppe gebruik om vir jou "stock" te kook.

Volgende gooi ek sout, peper en Robertsons Mixed Herbs in koekmeel en meng dit goed. Dan rol ek die visse in die meel en maak seker dit bedek die vis mooi. Geen eier of melk nie. Ek wil nie regtig a deeg omsit nie, net so bietjie meel vir die speserye.
In die pan

Volgende smelt ek 'n stewige klompie botter in sonneblom olie. Sodra die pan warm genoeg is, dan sit ek die vis in. Ek soek so medium hutte, die botter meot net lekker skuim maar nie brand nie.

Eenkant is gaar
Dis vir my belangrik om nie rond te voeter met die vis nie ... laat dit rustig lê en stadig braai totdat die meel goudkleurig raak. Dan draai ek dit om. Sowat 4 minute aan 'n kant. Hierdie metode gee nie 'n kraak vel nie. As jy dit teveel braai word die vis te droog.

Sodra die vis gaar is haal ek dit uit en plaas op kombuispapier sodat die olie bietjie kan uitloog.

Ek eet die vis gewoonlik saam met vars brood en botter maar jy kan dit bedien met slaai, tjips, maak 'n pastei of 'n toebroodjie.

Mooi gebraai en heerlik
Die vis is heerlik. Vermy die sagte vel en ook die deel reg onder by die pens. Dis hier waar die gevreesde moddersmaak kan sit. Hierdie vis en dis waar vir al ons kurpers, het net 'n rugraat en ribbekas, niks van daai duisende graatjies wat jy in karp en geelvis kry nie. Dis lekker groot vlokke en vir my is die smaak heerlik.

So volgende keer as die familie of vriende gaan visvang, vra hulle om vir jou 'n kurper of twee saam terug te bring. Miskien ontdek jy iets wat jou gaan verras.

Heerlike man kos ... vars uit die dam uit
Lekker kook tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my FACEBOOK bladsy.







Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Thank you for your comment. The comments on this blog are moderated and yours should appear soon.

Greetings
Colyn.