Saterdag 20 Desember 2014

Hoender - My hartjie my liefie

Man Kos is iets waaroor ek gaande kan raak en partymaal is Man Kos nou gladnie iets waaroor baie vrouens gaande sal raak nie.

Hoenderhartjies en pap
Die hele wêreled is vol stories oor al die hormone en medikasie wat in die hoenders ingeforseer word om hulle vinniger te laat groei en daar word groot bohaai daaroor gemaak. Wat my egter verstom is die hoeveelheid mense wat gaande raak oor die hoenderlewers. Kyk, vertaan my mooi, ek is ook baie lief vir hoenderlewers maar die Wiskunde van hoenderlewers werk nie vir my nie, veral nie die massaproduksie hoenders nie.

Die lewer is die orgaan wat die ligaam moet skoonmaak en as sulks die grootste versamelaar van gifstowwe. Nou hoe verdedig jy jou renons in battery hoenders maar jy eet die klein gifbommetjies met oorgawe ... ek vra maar net.

So 2 jaar terug het ek opgehou met hoenderlewer koop of eet tensy ek weet waar die hoenders vandaan kom.

As plaasvervanger het ek begin om die hartjies te gebruik. Die hartjies laat vir Poppie uitslaan van hoendervleis en sy gril tot in haar tone ... maar dis nie my probleem nie.

Sny die vetklont en are af
Om die hartjies lekker te maak moet jy bereid wees om so bietjie moeite te doen. Daar is so klont vet aan die bokant van die meeste hartjies en die are en slagare loop deur die vet. Die are is taai en kan ook maar grillerig in die bord lyk.

Braai die vet uit
So, eerste stap ... sit ek 'n pan op die stoof en maak hom warm. Vat nou die hartjies een vir een en met 'n lekker skerp mes sny die vetklont af. Mik mooi dat jy die are vang maar moenie teveel van die hart self afsny nie.

Gooi nou die afgesnyde vetklonte in die pan en braai dit uit soos met kaiings. Wees geduldig ... jy soek al daai vetjies in die pan. Skep nou die kaiings uit en gooi braaispeserye in die vet in. Laat dit lekker braai maar nie brand nie.

Uie en hartjies
Nou gooi jy gesnipperde uie in die vet in en roorbraai dit vinnig. Dit kan dalk nodig wees om so eetlepel of wat olie by te sit. Ek skep so eetlepel varkvet in die pan in.

Nou sit jy die hartjies in en roer goed. Strooi Robertson's se Hoender Speserye lekker mildelik en so twee teelepels suiker. Soos dit begin braai sal jy gou sien dat daar 'n sous begin vorm. Ek gooi nou 'n koppie hoender aftreksel in. Volgende gooi ek so twee teelepels van Ina Paarman se Bruin Uie Sous poeier in en bly die storie maar gereeld roer.

Speserye is op
So 10 minute in en ek gooi 250 ml Room by. Hou dop en bly roer gereeld. As jou sous nie dik raak nie kan jy maar dit met Mielieblom verdik.

Sit die plaat af en begin jou borde opstel. Jy moenie die hartjies "overcook" nie want dan word baie taai.

Heerlik en geurig
Ek eet dit met pap, kapokaartappels of op roosterbrood. Dis baie lekker saam met roereiers of op ommelet. Ek gebruik dit ook in pannekoek as vulsel. Ek maak ook koring risotto en gebruik die hartjies daarin.

Jy kan ook klein peusel sosaties maak saam met suuruitjies en glanskersies.

Dis nie lekker as dit koud is nie.

Lekker kook tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... Like hom as jy wil.

Maandag 15 Desember 2014

Hoender - Oorskiet lekkerte

Soos die mense wat my Facebook blad volg seker al opgemerk het, deesde is ek op 'n missie om eenvoudige kos te maak wat rittel en beef van die geur en smaak. Nog belangriker, ek probeer om so ekonomies as moontlik met kos te werk poog om niks te mors nie.

Net soos met braaivleis is dit ook amper altyd so dat as ons hoender maak dan is daar oorskiet. Nou in my huis maak ek seker meer as 90% van die kos wat op die tafel beland en dit beteken dat ek baie goed verstaan wat gaan deur vrouens se koppe as die son begin sak.

Saterdagaand gaan eet ons by my gunsteling braaihoender plek, Galitos in Nelspruit. Ek geniet die plek vreeslik en ek bestel gewoonlik so dat ek oorskiet huistoe kan vat.

Maandag is dit 'n wilde dag in my lewe en eers na 17h00 kry ek 'n blaaskans. Ek staan in die kombuis en kyk deur die venster ... die goue lig val in die tuin en die orgidieë pronk in die laatlig. Alles prentjie mooi maar dit maak geen indruk op die honger oë wat my aanstaar vanuit die TV Kamer nie.

Ek is nie lus vir kook nie en ek is nie lus vir sukkel nie ... ek is net honger en weet ons moet eet.

Hoender Flentervleis
My oë val op die oorskiet hoender in die yskas en ek begin dink. Ek het so uur voor dit darem kans gekry om die brood deeg in die panne te sit en ek sit dit nou in die oond. Dit gaan 40 minute wees dan is daar vars warm brood.

Ek sit maar solank ou Albert op die vuur want ek moet 'n warm pan hê, maak nie saak wat ek gaan maak nie. Ek kap 'n groot ui fyn, gooi olie en speserye in die pan en toe die uie. Ek begin 'n plan kry.

Die hoender word van die bene afgestroop en in stukkies gebreek ... om my kuber vriendin se woord te gebruik ... Flentervleis ... dankie Errieda ... ek gaan hierdie woord misbruik.

Uie in die pan
Die uie is nou reg en die hoender gaan pan toe. Ek skep so eetlepel varkvet by en die geur wat ontluik in die pan is liplek lekker. Nou glimlag ek terwyl ek die stukke roer. Kosmaak is vir my medikasie. Ek krap verder in die yskas en sien 'n pakkie sampioene ... dis daai wit goedjies ... nee man daai goed vat net plek, ek koop die bruines maar my vrou het gaan inkopies doen so ek bly maar stil en kap die sampieone op. Nie te fyn nie.

Uie is reg
Ek strooi speserye, Ina Paarman se Braaivleis mengsel ... jy moenie skaam wees nie want die wit sampioene is nou nie regtig bekend vir geur ne, dit het wel 'n smaak. Nou moet jy maar nog so eetlepel olie ingooi want die mengsel raak darem skielik droog soos die sampioene eers die vog opsuig voordat dit weer uitkom.

Een kyk na die pan en ek besef dat hierdie is mos nou amper "chicken ala king" ... wel, dan moet ons maar die helepad gaan.
Hoender flenters gaan in

Ek gooi 125gr ... halwe houer roomkaas in die pan en begin dit roer ... dis met groot genoegdoening wat ek sien hoe die kaas begin opsmelt en met die pansouse meng. Daai ligbruin sous raak al hoe meer en die klonte roomkaas al hoe minder, en dan is dit weg. Vir 'n oomblik oorweeg ek dit om nou 'n goeie skeut room in te gooi maar my gewete protesteer luidkeels ... hierdie ding raak nou geil !
Sampioene gaan in

Ek gooi so blerts melk in en roer ... nog so blerts en dan is die sous perfek.

Ek draai die vlam na amper niks en staan terug ... so warm gloed van genoegdoening spoel deur my en ek glimlag breed ... dis mos Man Kos ... Man Kos wat vrouens ook sal like.

Roomkaas in.
Die oond alarm ruk my uit my droomwêreld uit en ek haal die brode uit ... perfek, goudbruin met so lekker taai kors.

Dis byna doodstil om die tafel ... my seun doen die gebed en vergeet sommer om dankie te sê vir die hande wat dit voorberei het ... maar ek vergewe hom want die kwyl het in elkgeval sy woorde laat strompel.

Oorskiet Hoender Flentervleis in 'n ryk romerige sampioen en uie sous met heerlike vars brood, plaasbotter en tuisgemaakte konfyt.
Eenvoudig maar geurig

Die Here het ons geseën vanaand en ek is dankbaar.

Lekker kook tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.





Woensdag 10 Desember 2014

Braaivleis - Ai die alewige oorskiet

Braaivleis Koekies
Braaivleis is mos Man Kos waarvan vrouens ook hou. Dis mos nou die feestyd en as daar een ding is wat 'n boerseun doen as hy kuier, dan is dit braai. Maar soos omtrent almal al ondervind het, die braaiery is gewoonlik oordadig en vanaand as al die gaste huistoe is, dan staan jy in die kombuis en kyk na die bak vleis wat oorgebly het. Ek self is deesdae nogal ernstig oor porsies maar nouja, dis ek.

Vandag gaan ek julle bietjie vertel wat ek met oorskiet braaivleis maak.

By my is daar ook gewoonlik die gebakte aartappels wat nie alles opgeeët is nie. Trek die skil af en kap dit in blokkies, moenie bekommerd wees oor die wat fyn breek nie. Die idee is om met stukkies op te eindig omtrent so groot soos ertjies.

Volgende kap jy 'n ui ook in sulke fyn blokkies. As jy dalk mielies ook gebraai het kan jy dit van die stronk afsny. Jy kan ook oorskiet sampioene opkap.

Nou kies jy so paar stukkies vleis en kerf dit ook in baie klein blokkies.

So maak ek ...

2 Koppies gekerfde vleis
1 koppie aartappel stukkies of kapokaartappels
1/3 koppie uie
1/3 koppie sampioene
1/3 koppie mielies
2 eiers
1/2 koppie meel
1 teelepel bakpoeier.

PS ... hierdie mengsel moet jy maar self met sout en peper dokter want die vleis het gewoonlik baie speserye op.

As jy nie sampioene of mielies het nie, maak die uie maar meer.

Jy kan eintlik die koekies maak met enigeiets, hoender, wild, wors en vis ... net wat jy het.

Jy kan ook die vleis meer maak. Waarna jy moet mik is om 4 koppies van bogenoemde in jou mengbak te kry.

Nou breek jy twee eiers in en 'n halwe koppie meel en die bakpoeier.
Meng dit baie goed en kyk, jy soek 'n redelike slap mengsel. As dit te nat is, gooi nog bietjie meel in en as dit te droog is moet jy so lepel op 'n slag melk bysit.

Moenie rof raak in die pan nie
Nou 'n lekker warm pan. Ek sit varkvet in maar jy kan olie en botter gebruik. Sodra die vet warm is, gooi so teelepel braaispeserye in die olie en roer vinnig.

Skep nou grootlepels vol in die pan en druk dit versigtig plat. Kyk op die foto. Nou moet jy nie oorhaastig wees nie ... die koekie is nie baie stewig nie en jy moet toelaat dat daar 'n mooi korsie braai voor jy dit versigtig omkeer en die anderkant doen. Moenie die koekies te dik maak nie.

Ek sit dit sommer net met slaai voor. Tipiese aandete, die dag na die braai.

Man Kos Braai Koekies
Hierdie koekies is ook baie handig om in die yskas te hou vir die knaagdiere in jou familie ... in my huis hoor ek net kort kort gaan die yskas deur oop en as ek vra dan word daar met 'n bol kies gemompel ...

"Ek soek net ietsie."

Bak en brou lekker tot ek weer 'n storie skryf.





Hier is is my Facebook bladsy ... Colyn Kook Man Kos ... like hom as jy wil.




Sondag 09 November 2014

Kombuis - Bewaar jou aarbeie

9 Oktober - pas gekoop
Vandag gaan ek bietjie gesels oor die bewaring van die duurgekoopte aarbeie. Meeste van ons ken die terleurstelling ... jy betaal ten duurste vir a houertjjie aarbeie en jy sit dit in die yskas vir Sondag se nagereg. O wee ... Sondag maak jy dit oop en al wat daar is, is pap en muf bedekte bolletjies in die bak ... jou bloed wil kook want dis dan skaars drie dae terug wat jy gestaan en wik en weeg het en toe maar ingegee het en gekoop het.

Klaar gewas ...
Nou my ma het my geleer ... "Waste not ... want not!"

Ek gaan julle nou vertel hoe ek my aarbeie bewaar. Die waarheid is dat jy kan alle bessies wat jy koop so behandel. Probleem met my plan is dat dit bietjie moeite verg en uit dure ondervinding het ek al geleer dat luiheid mos maar eintlik die wenner is in die meeste gevalle waar klein dingetjies gedoen moet word.

29 Oktober - 10 dae later
As my ma groceries gaan koop het en sy kom by die huis, dan het sy sorgvuldig elke blikkie, botteltjie of pakkie met a klam lap afgevee want sy wou nie die "vuil" goed in haar koskaste hê nie. Goed wat yskas toe moes gaan is afgevee met a klam vadoek wat in Jik water gedoop was.

Terug by die aarbeie ... gooi so liter koue water in 'n glasbak en gooi dan twee eetlepels asyn in die water.

5 November - geen muf
Dompel nou die aarbeie hier in en beweeg dit goed rond. Haal die aarbeie uit en pak oop op a skoon vadoek. Gooi 'n ander vadoek bo-oor en druk liggies, jy wil die aarbei droog maak maar nie kneus nie. Ek gebruik papier handoek vir dit.

Laat lê vir so dertig minute en dan plaas jy papierhandoek onder in a goeie houer wat lugdig kan toemaak. Pak nou die aarbeie versigtig in die houer in, ek sit die grootstes onder. Moenie die stingels en blare afbreek nie.

Sit nou in die yskas.

Die aarbeie wat ek hier wys was na drie weke nog kraakvars en geen muf nie.

Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.

Saterdag 25 Oktober 2014

Hoender - Maklik en lekker uit 'n pakkie

Meeste van ons koop soms die klaar gaar hoenders by ons geliefde koswinkel en dan as ons by die huis kom dan vind jy die voëltjie is maar droog en redelik onsmaaklik ... as jy gelukkig is dan proe hy darem na een of ander spesery maar van die hoendersmaak is daar nie veel nie. As jy nie gelukkig is nie dan proe hy sommer na vis.

Sappige hoender uit die oond
Nou weet ek uit ondervinding dat 'n klomp mense sommer dadelik regop gaan spring en begin vertel van die wonderlike hoenders wat hulle by hulle uitverkose hoenderwinkel koop en die lofliedere gaan soms meer as een vers hê.

Wel my ondervinding is dat die klaargaar hoenders oor die algemeen nie lekker is nie en maar net die basiese behoefte aan kos bevredig.


Gelukkig leef ons ook in 'n tyd wat ons groot keuses het van voorafgegeurde en in 'n plastieksak verpakte rou hoenders te kan koop.

Feit is dat as jy mooi oplet dan koop jy baie keer groot winskope met die hoenders ... een rede vir dit is dat die hoenders in massa by die winkels aankom en dis gevries ... volgende begin die winkel die hoenders ontdooi en in verskillende formate aanbied in die yskaste. Nou soos dit maar is, gaan alles nie altyd elke dag verkoop nie en aan die einde van die dag sit die winkel met ontdooide hoenders wat nie eintlik weer gevries kan word nie ... en die winkels enige gewetens het doen hulle dit nie. Ten einde daai hoender nou 'n tweede kans te gee op die rak word dit in allerhande souse gedoop en so met sous en al verpak. Hulle is ook gewoonlik geneigd om die hoenders se prys te laat val om dit meer aantreklik te maak vir die kopers.

So volgende keer as jy by die hoenderrakke staan ... vat so bietjie tyd en kyk na die per kilogram pryse. Jy sal verbaas wees hoe jy soms 'n hoender met sous vir minder kry as die vars hoenders. En onthou net, jy betaal vir die sous ook daai per kilogram prys ... so moenie laat die winkel jou met 'n slappe vang nie en daar is 'n emmer sous met 'n voëltjie wat kan rondswem nie.

Nouja ... jy sien die prys is lekker en jy koop ... ek koop sommer so paar as die prys regtig warm is.

Nou kom die ding ... jy kom by die huis en jy wil die hoender gaarmaak. Ek gaan nou aanneem dat jy die hele hoender wil gaarmaak en nie in stukkies kap nie.

 Jy het heel waarskynlik honderde resepte oor hoe om so heel hoender in die oond te maak en die metodes is legio.

Reg vir die mikrogolf oond
Ek gaan julle nou vertel hoe ek die spesifike hoender doen ... op 'n Man Kos manier en dit beteken die mans kan hulle vrouens lekker bedref sonder baie moeite.

Eerste stap ... ek plaas die hoender in 'n bak waarin hy mooi plat kan lê en dan sny ek reg in die middel van die sakkie so klein gaatjie oop. Ek trek die sakkie dat die gaaitjie in 'n punt opstaan.

Nou in die mikrogolf oond in vir 12 minute ... ek het 'n 1000 watt oond. Die gaaitjie laat die stoom bietjie ontsnap terwyl daai hoendertjie baljaar in die sous.

Sit intussen jou oond op so 210C ... weereens kan dit verskil van oond tot oond maar jy soek die oond lekker warm.

Na die mikrogolf, reg vir die oond
Tweede stap ... sodra die hoender uit die mikrogolf uitkom ... sny ek die sak oop en laat die hoender met sous en al in die bak ingly.

As die oond reg is ... middelste rak ... gaan hy in ... 10 minute.

Derde Stap ... na 10 minute draai ek my oondverstelling nou dat die boonste element alleen aankom en ek bak hom nog so 10 minute ... jy kan grill ook ... wat jy soek is dat die vel so bietjie braai en brand.

Nou uit en stel die horlosie ... laat die hoender so in die bak rus vir 10 minute voor jy hom sny.

Heerlike Hoender
En daar het jy dit nou ... 'n heerlike sappige vars gebakte hoender met baie min moeite en baie min skottelgoed. Geen rede om 'n klaargebakte een nou eers weer warm te maak nie.

Sny of breek in porsies en geniet dit. Let op hoe sag en sappig die borsvleis is ... dit is mos gewoonlik streepsak droog en draderig.

Lekker kook tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.

Dinsdag 26 Augustus 2014

Botter - Maak jou eie

Vars brood en plaasbotter
As daar nou een ding is wat menige boerseun breed laat glimlag is dit die gedagte aan vars brood met plaasbotter. Plaasbotter is deesdae iets waaroor die meeste van ons net kan droom terwyl ons die gekoopte maasa geproduseerde botter skepties aankyk.

Click here for this story in English

My ma het 'n geliefde gesegde gehad ...

"Waste not, want not !"

In die kort gesegde is 'n groot waarheid weggesteek wat deel geword het van my algemene bestaan. Ek is nie iemand wat sommer iets weggooi nie en as ek a leë botteltjie of bakkie sien dan was ek dit mooi uit en pak dit weg wat eendag gaan ek so houertjie nodig kry en dan gaan daar een gekoop moet word.

Vinnig en maklik
Nou by die botter ... ek is dood seker dat meeste van ons al gesien het hoe ons botteltjie vars room sy vervaldatum verbysteek en dan met ergenis dink ... "En wat nou !"

Natuurlik kan jy die suurroom gebruik op aartappels en ander plekke mar die feit bly, die room het suur geword.

Miskien weet baie van julle dit, miskien nie. Daar is 'n baie goeie gebruik vir die suurroom, maak BOTTER !

Dis reg ... maak jou eie botter ... dit vat so 15 minute van jou tyd en so bietjie skottelgoed op die einde maar jy sit met heerlike botter.

Die bonus is dat jy dit kan geur na jou smaak.

Eerste stap ...  gooi die suurroom in jou voedselverwerker. Jy kan natuurlik vars room ook gebruik maar die suur room maak net lekkerder botter.

5 minute
Klits nou op die hoogste spoed tot jy die botter sien vorm. Vat so 5 minute.
Gooi nou so drie eetlepels yswater in en klits weer vir 30 sekondes.
Lekker botter
Gooi die karringmelk nou af ... ja dis reg ... karringmelk.

Gooi weer so drie eetlepels yswater in en klits weer 30 sekondes.
Gooi nou die water ook af ... hou die vog, dis lekker in plaatkoekies.

Skep die Botter in a metaalbakkie en pers dit met a lepel se agterkant. Gooi die vog ook af.

Druk die laaste watertjies uit.
Nou gooi ek so bietjie growwe sout in en werk dit deur. Gooi enige water wat nog uitkom ook af.

Dis die stadium waar jy nou enige geurmiddels kan ingooi, knoffel, peper, rissies.

Skep in 'n klein bakkie en sit in die yskas. Heerlike vars botter uit 'n 500ml botteltjie room wat suur geword het.

Ek kry so 170 gram botter uit 500ml room.

Al wat oorbly is om 'n lekker stukkie varsbrood nader te trek en te glimlag.

Daar is baie maniere om die water uit te pers en mense gebruik kaasdoek, hout perse ensovoorts.

Ek doen dit sommer op my manier en dis vinnig en maklik vir my.

'n Mooi balletjie vars botter.
Jy hoef nooit weer te frons as die room suur geword het nie ... glimlag en trek jou voedselverwerker nader. Pasop net dat jy nie die botter te kwaai klits op die einde nie.

Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Faceboek Bladsy ... Man Kos ... Like hom as jy wil.









Saterdag 23 Augustus 2014

Wild - Bielie van 'n wilde Frikkadel

Vandag se storie gaan oor iets wat ny na aan die hart lê ... wildsvleis. Maar vandag gaan ek spesifiek oor maalvleis praat. Ons is gelukkig in die land om so baie wild te kan hê maar dis vir my so verstommend oor hoe min mense regtig wildsvleis eet. Sommiges is sommer neusoptrekkerig as dit by wildsvleis kom.

Danksy al die kookprogramme op televisie en op die radio is daar 'n groot oplewing in die belangstelling van kos voorberei.

Dit is vir my fantasties want mense soos Dine van Zyl, Hetta van Deventer Terblanche, Errieda du Toit en Anel Potgieter grou die ou hartskos resepte uit en sit dit voor ons neer. Wat my meer opgewonde maak is die feit dat dit in Afrikaans gedoen word. In Dine se jongste nuusbrief sê sy ...

"Ek weet jy praat Afrikaans. Ek weet jy praat dit dat die spoeg so spat. Dis reg so, ons taal het ʼn kwylbek klank."

Heerlike Man Kos
Wildsvleis is nie volksvreemd vir ons nie maar baie mense het 'n heeltemal verkeerde idee van hoe dit regtig proe. Iets wat my sommer rooi laat sien is as iemand vra ... "Hoe kry ek die wille smaak uit die vleis uit."

Goeiste mens, dis dan wild, hoe dink jy nou moet die smaak wees ... wil jy dit soos hoender of skaap laat proe ... dan is dit beter gaan koop hoender of skaap en gee die wildsvleis vir my.

Deesdae sien ek by baie winkels dat daar wildsvleis is. Party winkels het baie snitte, snitte wat ons ken uit die bees en skaap etery uit. Dis goed so want dit gee jou dadelik 'n aanduiding van watter rigting om in te slaan met die kokery.

Meeste plekke het maalvleis en die pryse is baie goed in vergelyking met skaap of bees. Iets wat jy moet onthou is dat wildsvleis as 'n reël nogal droog kan wees want daar is nie eintlik vet aan die bokke nie.

So koop ek toe 500 gram wilds maalvleis. Poppie loer my so onderlangs aan en ek kan sien sy is lus om te vra wat my plan met dit is maar sy bly liewer stil. Ok maar goed so want my Poppie is erg agterdogtig as dit by vreemde vleis kom. Sy kan egter maar ontspan, ek het 'n duidelike plan met die maalvleis.

By die huis gekom is dit reguit yskas toe met die bakkie vleis. Dis vroeg en ek wil die dis vir aandete maak.

Vanaand gaan ek 'n vleisbrood maak ... dis maar dieselfde ding soos 'n frikkadel maar die is net een helse groot frikkadel.

Nou die wat my ken weet dat ek nie baie spesifiek oor resepte skryf nie maar eerder oor hoe ek die ding gemaak het. Hierdie is maar weer dieselfde. Jy gaan die vleis geur met speserye waarvan jy hou en wat jy ken.

Man Kos Bielie van 'n wilde Frikkadel:

500 gr Wilds maalvleis
250 gr Hoender Hartjies
250 gr Repies Spek - Streaky Bacon
1 Ui in blokkies gekap.
1 Koppie Gedroogde Cranberries. (Sultanas werk ook)

Basiese Geurmiddels ...

1 Teelepel Gemaalde swartpeper
1 Teelepel Koemein
1 Teelepel Rissie vlokkies
1 Teelepel Robertsons Pimento Allspice
1 Teelepel Robertson Chicken Spice
1 Eetlepel Bruinsuiker
1 Eetlepel Worcestershire Sous

Eerstens moet jy die hartjies deurkyk en as jy van hulle sien wat nog so klossie aartjies aan het, sny dit af en gee vir die hond. Moenie die vet afsny nie want jy het dit nodig, die wildsvleis is baie maer.

Volgende pols die harte so twee of drie keer in jou voedselverwerker. Anders kan jy dit fyn kap met 'n skerp mes. Jy wil dit nie pap maak nie, net fyngekap.

Maalvleis mengsel
Hou jou spek eenkant en gooi al die ander goed saam in 'n mengbak. Nou is nie die tyd om vol fiemies te wees nie. Klim in met jou hande en meng die spulletjie baie goed. Werk dit met jou hande tot jy voel die die mengsel raak taai. Soos jy seker opgemerk het, ek gooi geen brood of eiers in nie, sommige mense noem dit bindmengsel maar ek dink dit is net goed wat jou van geur gaan beroof. As jy die vleis goed gemeng het sal dit mooi bind as jy die frikkadel begin maak.

Jy het ook seker opgelet dat ek geen melding van sout gemaak het nie. Dis doelbewus want baie van die goed wat ingegooi is het sout in.

Doen die toetsie
Nou vir 'n baie belangrike stap ... sit vir jou a klein pannetjie op die stoof en maak hom baie warm. Vat so opgehoopte teelepel vleismengsel en maak 'n balletjie. Druk die balletjie plat en sit in die warm pan. Braai die toetsie nou gaar ... laat bietjie afkoel en proe ... jy moet nou besluit of jy sout wil bysit en of jy van die ander geure moet versterk. Vir die sout gooi ek sout op die toets stukkie en proe of dit beter smaak.

Soms maak ek tot 3 sulke toetsies voor ek die Bielie Frikkadel bou. Dit klink dalk bietjie langdradig maar glo my ... jy wil seker wees die basiese mengsel is reg voor jy voortgaan. Hier is 'n wenk. Sny 'n appel in blokkies en voor jy proe, eet 'n stukkie appel ... maak so elke keer as jy 'n verstelling gedoen het en weer wil proe. Die appel vervars jou mond en laat jou beter proe.

Moenie tamatiesous of chutney in jou mengsel gooi nie want dan gaan jy die mengsel te nat maak.

Bou die Bielie
Vat nou 'n bakplaat en bou jou Bielie Frikkadel op die bakplaat. Druk hom mooi styf en vleg hom toe met die bacon. Ek sit nie die bacon onder die frikkadel in nie.

Nou in die oond ... 180C vir 20 minute en dan af na 160C toe vir nog 20 minute.

Toegevleg in Bacon
Terwyl hy bak maak jy vir jou 'n lekker smeersous ... tamatiesous, Worcestershire sous, bruinsuiker, braai speserye. Meng dit goed en piets hom in die mikrogolf vir so 2 minute.

Haal die Bielie Frikkadel uit die oond en laat rus vir tenminste 15 minute voor jy hom sny.

Nou met 'n lekker skerp getande mes, sny skywe van so 15mm dik ... en siedaar ... Man Kos ... 'n Bielie van 'n Frikkadel wat vrouens ook van hou.

Heerlik en vars
Jy gaan verstom wees oor die tekstuur en daai hartjies se vet maak die vleis lekker sappig. En die beste is, jy kan nog proe dis wildsvleis.

Ek maak net een lekker vars koolslaai saam met die gereg maar jy kan kapokaartappels of rys maak.

Die smeer is lekker oor die vleis. Die volgende dag sny jy dunner skywe en sit dit op toebroodjies.
Kyk die mooi tekstuur

Nouja ... lekker kook tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook bladsy ... Man Kos ... Like hom stukkend as jy wil.