Vrydag 31 Julie 2015

Vark - Kaiings is en bly lekker

Omtrent 'n jaar gelede het ek die eerste storie oor kaiings geskryf en die storie is een van die gewildstes op my blog. Vark - Kaiings is onweerstaanbaar vir my. Gaan lees dit gerus.

Niks so lekker saam met pap soos kaiings nie.
Sedertdien het ek vele navrae oor dit gekry en die grootste probleem was die prys wat ons moet betaal vir die rou kaiings. Die vernaamste rede hiervoor is dat varklies mos deesdae 'n lekkerny geword het en die slagters vra 'n premium prys daarvoor. Weg is die dae to varklies as 'n goedkoop snit geklassifiseer was.

So kom dit dan dat ek Woensdag dorptoe gaan en 'n draai maak by die nuwe Eskort Vleiswinkel in Riverside ... daar waar Fruit en Veg was.

Natuurlik is ek van mening dat hier darem a goeie klompie vark snitte sal wees ... maar my oë rek ... hier is baie meer as net varksnitte. Soos mens kan verwag is daar a menigte van die bekende en ook onbekende ESKORT produkte.

Kyk daardie prys !
En toe sien ek dit raak ... Pork Back Fat ... R29.95 / kg ... wow ... dis 30% van wat ek betaal vir die varklies kaiings. Toegegee, daar is minder vleis in maar die feit is ook dat mens kaiings maak vir daai lekker klein sagte vet klontjies met die krakerige velletjie oor. So ek koop 'n pakkie wat so net onder die 1.3 kg is en dit kos 'n skamele R37.91. As jy so bietjie meer vleisies wil sien in jou kaiings kan jy 'n klein pakkie van die Stirfry koop wat hulle aanhou en dit by die vet in sny.

Ek maak kaiings hoofsaaklik om die skoonvet te kry want ek gebruik dit baie plekke in my kokery in plaas van botter, margerine of kookolie.

So hier het jy dus die geleentheid om kaiings te maak teen 'n baie bekostigbare prys. Ek gaan nou nie weer die hele proses beskryf nie want dis volledig gedoen HIER ...

Hier volg 'n reeks fotos wat die proses wys.


Jy het 'n lekker skerp mes nodig.

Sny alles mooi in blokkies

Ek gooi braai speserye op.

Nou is dit tyd om die vlam kleiner te maak.

Heerlike kaiings.

Lekker skoon varkvet.

Nou sal ek baie meer gereeld kaiings maak.


Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.

Sondag 26 Julie 2015

Snaxie - Man Kos Muffins

Die debat oor skons en muffins sal seker nooit eindig nie maar dis ook nie belangrik nie ... wat belangrik is, is hoe smaak dit en hoe maklik is dit om te maak.

By Man Kos is dit my missie om goed te maak waarvan mans hou en wat mans self kan maak. Nou elke man hou daarvan om so ou peuseldingetjie op te tel en dan rustig te staan en eet terwyl sy gedagtes op vêr paaie gaan.

Vir my is daar min dinge so lekker soos 'n souterige muffin en ek het al baie resepte gemaak om die een te kry wat vir my die NOMMER EEN is. Na baie eksperimente dink ek dat ek nou die regte een het ... dis een wat maklik is en omtrent altyd reg uitkom. Meer belangrik is die feit dat mans die goedjies self kan bak.

Ek gaan nou eers oor die vulsel praat en dit is belangrik dat jy die met 'n oop kop lees want die moontlikhede is onbeperk.

Almal van ons beleef die realiteit van oorskiet vleis na 'n braai of groot aansit ete. Elke stukkie vleis wat oorbly kan werk vir hierdie Man Kos Muffin.

Begin deur die vleis in klein blokkies op te sny. Jy soek stukkies omtrent so groot soos 'n ertjie pit. Jy het omtrent 'n poedingbakkie vol nodig. Ek kerf ook suur uitjies in. Ek sit hierby nou so blêrtsie blatjan en een baie fyn gekapte rooi rissie. Die vulseltjie moet krag hê. Toets hom maar mooi voor jy ontspan, hy moet amper te sterk wees.

Nou rasper ek ook so handvol lekker sterk cheddar kaas.

Die grootste fout wat jy kan maak is om oordadig te raak met die vulsel per muffin. Volg my aanwysings en kyk na die fotos.

Kry jou oond nou warm ... 230C

Nou vir die deeg ... en die is baie eenvoudig.

Bestandele
BESTANDELE:

1 x Koppie melk
2 x Groot eiers
1/2 x koppie olie ... Jy kan enige olie gebruik en kies maar na smaak.

Klits nou die mengsel baie goed.

Voeg nou by ...
Eerste lagie deeg

1 x Koppie koekmeel
2x Teelepels Bakpoeier
1/4 x Teelepel sout.

Jy kan nou speserye na smaak byvoeg soos growwe swartpeper, cumin, coriander, ginger, mixed herbs ensovoorts ... enigeiets wat vir jou lekker smaak.
Kaas

Meng die nou by jou melkmengsel en klits goed met 'n whisk sodat jy 'n mooi gladde deeg kry. As die deeg nie lekker loperig is nie kan jy so bietjie melk byvoeg.

Vat nou 'n 12x holte muffin pan en spuit met koekie sproei.

Vulsel
Nou is dit belangrik dat jy nie kop verloor en sommer deeg in die pannetjies begin gooi nie. Sit nou een eetlepel deeg in elke pannetjie in.
Dan so klein bietjie kaas in elkeen.
Nou so eetlepel van jou vleismengsel.
Weer so paar stringetjies kaas.

Nou gooi jy een eetlepel deeg bo-oor alles. Versprei dit mooi en werk maar saggies met die lepel om die deeg mooi in te kry. Hierdie volume is net genoeg vir 12 muffins.
Nog kaas

Probeer vinnig werk want onthou, sodra die bakpoeier vog kry begin dit aktiveer en jy wil darem soveel as moontlik rys uit die muffins kry.

Laaste sprinkel ek nog so paar stringetjies kaas en so bietjie braai sout.

Oondrak in die middel en die pan is in.

Laaste deeg lagie
Onthou, die oond is baie warm en die mengsel het baie olie in. Daardie warm oond is baie belangrik om die muffin 'n lekker bros korsie te gee.

Hou maar dop ... jy soek die muffins so goudbruin kleur. Dit vat so tussen 10 tot 15 minute.

Klaar gebak
Hierdie is baie lekker en is so aanpasbaar dat jy nooit weer oorskiet vleis sommer net verlore laat gaan nie. Ek het al braaivleis, hoender, lewer, niertjies en wors gebruik om die muffins te maak.

En dit is my Man Kos Muffins wat mans maklik kan maak.

Hierdie muffins hou goed in die yskas en dit is baie lekker om in 'n kosblik te pak.

Die olie maak seker dat dit nooit droog en soos wurgkoek proe nie.

Jy kan die resep maklik aanpas om ook soet muffins te maak. Gooi net so twee eetlepels suiker in die deegmengsel en dan gebruik jy glansvrugte of droë vrugte vir die vulsel.
Heerlik

Ek sit soms gemengde groente net so uit die gevriesde pakkie in en dan gebruik ek die muffins by etes in plaas van rys of aartappels.

Dis veral lekker saam met kerrie en 'n lekker sous. As jy dit by kerrie gebruik dan verkies ek om die soet variasie te maak.

Nooit droog nie
Gebruik jou verbeelding en dink so bietjie buitekant die boksie ... hierdie is 'n baie aanpasbare resep en kan sommer maklik nuwe vonk in 'n gewone maaltyd sit.

Jy kan die vulsel met ingemaakte vrugte maak en saam met 'n slim spesery mengsel en 'n lekker vla is dit sommer 'n slim nagereg.



Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.



Saterdag 25 Julie 2015

Bos en Berg - 'n Paar dae saam met Annelien Pienaar

Die afgelope twee jaar het ek baie tyd en moeite ingesit om my teoretiese en tegniese kennis rondom bak en kook te verbeter. Ek het letterlik honderde ure in die kombuis spandeer en baie resepte gemaak. Disse wat ek nie gedink het ek sal ooit regkry nie.

Dine van Zyl, Errieda du Toit en Nina Timm was almal groot inspirasie vir my.

Helena, Maggie, Dalene en Sonja by Lekker Resepte het my baie aangemoedig en het saam met my lekker gelag vir die flops wat ek soms gemaak het.

Ambelene het altyd vinnig met raad ingespring as ek onseker was oor 'n proses, Renette het my ondersteun as ek so bietjie wyer wou gaan.

Bos en Berg Kombuis
My broer Andrè en sy vrou Vera is altyd gewillig om my kos te eet en dan my vrou, ai tog, sy is die een wat elke dag my kos eet ... soms kan ek sien dis nou nie presies wat sy wou gehad het nie maar sy eet dit maar.

Hierdie is die mense wat direkte invloede op my kokery het en dis die mense wat my inspireer om my beste te gee.

Die kos wat my ma en my ouma gemaak het is baie na aan my hart en Boerekos laat my gewoonlik breed glimlag. So gebeur dit toe dat daar so paar maande gelede 'n nuweling in my lewe in kom ... Annelien Pienaar ... ek en sy het sommer so met die intrapslag net reg gekliek en soos die tyd verby gegaan het is ons 'n vriendskap gebou. Vir my as tegnoloog van beroep was haar tegniese kennis soos 'n kers vir 'n mot.

Meet ordentlik
Ek het meer en meer van haar resepte begin maak en was altyd tevrede met die uitslag want die vrou maak seker van haar feite voor sy publiseer.

Dit was seker onvermydelik dat ek en Annelien in die regte lewe met mekaar sou kontak maak. Na my onlangse "roadtrip" Kaap toe het ek besluit ... ek het nou nodig om tyd saam met 'n kundige te spandeer. Ek het 'n vlak bereik waar ek gemaklik was in my kombuis en het nie teruggedeins vir enige ding wat ek wou maak nie. Wat ek gekort het was om net te kan sien hoe die kundiges sekere prosesse fisies hanteer.

So gebeur dit dan dat Annelien haar dagboek skommel en my nooi om vier dae op Bos en Berg te spandeer. Sondag 19 Julie 2015 pak ek my goedjies in die kar en daar trek ek. In die kar maal duisende dinge deur my kop en soms bevraagteken ek my besluit om te gaan. Ek is verseker nie onhandig in 'n kombuis nie maar ek wonder of ek die pas sal kan volhou.


Ek en die spuitsak maak kennis
Sterk skemer en ek ry tussen die ruie bosse in en volg die aanwysings na die gastehuis toe. Annelien wag my in op die stoep en ek sien dadelik hoe netjies versorg sy is en sy glimlag breed. Ek is van nature 'n mens wat fyn ingestel is op mense se lyftaal en ek kom gou tot die slotsom dat die vrou verseker nie nonsens vat nie. Sy is selfversekerd en op die punt af. Alles tekens van 'n mens wat die pad gestap het en anderkant uitgekom het. Ons kliek ook goed en die kubervriendskap ontaard gemaklik in 'n "real world" vriendskap. Nou is ek meer gemaklik want dis sou nie lekker gewees het om vir vier dae saam met 'n persoon in 'n kombuis te wees as daar ongemaklikheid tussen ons was nie.

Maandag oggend sit ek op die stoep en drink koffie terwyl die son opkom ... die blou rook van my Camel haak vas aan die koue winterlug se tandjies en ek vat nog 'n sluk koffie. Ek sal jok as ek sou sê dat ek nie effens gespanne was nie ... ek was verseker. Natuurlik was daar ook 'n goeie dosis twyfel in die pot ... twyfel of ek die mas gaan opkom.

Nog spuitsak werk
En dan kom sy tussen die bome deur, kraakvars en spierwit baadjie en 'n krat vol goeters in haar hande.

Ek gaan nou nie veel meer oor die besonderhede skryf nie want dan ontaard hierdie in 'n kortverhaal.

Spoedig begin sy instruksies uitrammel en ek fokus en voer uit. Die dag begin met 'n piesangbrood en sy leer my die prosesse verstaan waneer suiker en botter vermeng word en waneer eiers en suiker vermeng word.

Sy leer my hoe om verskillende bestandele korrek te meet en ek sien eerstehands dat mens jou kop moet gebruik as dit by die vog volumes kom waneer jy deeg maak. Die resep is altyd net 'n leiding en nie noodwendig die finale woord nie want lugdruk en humiditeit speel 'n groot rol.


Ons bak 'n marmerkoek en maak meringues. Sy wys my hoe om a spuitsak te gebruik en ek leer van kulture in deeg. Ek sien hoe mens sjokolade smelt.

Deeg vorm werk
Dinsdag begin ek die dag deur skons te maak en dan bak ek 'n rolkoek en sy wys my hoe om polka dots in die koek in te bak. Ek maak Roti en toe maak ons terte. Melkterte en vleisrolletjies.

Nog deeg vorm werk
Woensdag is dit weer skons vir ontbyt en die keer sit ek waatlemoen konfyt en pekaneute in. Dan is dit brood. Knie en vorm en bak. Croissants en Cinomon Buns. Dis 'n lang dag en die sak meel waarmee ons begin het is besig om erge letsels te wys. Ek leer van glazing en maak versiersuiker. Roomkaas en botter versiering.

Die son sak op Bos en Berg en my gat sleep ... dit was drie wilde dae maar ek is lekker moeg, lekker want ek het baie geleer.

Donderdag oggend is my blus vir bak effens uit. Sy moet my nog net wys hoe om die roomkaas versiering op die piesangkoek te doen.

By 11h00 is ek op pad terug ... my kar is gelaai met al die goeters wat ek gebak het en daar is 'n paar sakke gadgets in ook. Vir my was dit 'n pryslose ondervinding en ek is dankbaar vir die tyd wat Annelien aan my af gestaan het. Ek hoop haar belegging lewer dividente.

Fokus en fokus
As jy ernstig is oor jou bakkery en jy wil meer weet as net hoeveel van elke ding jy moet gebruik, wel dan moet jy by Bos en Berg gaan kuier.


Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.







Vrydag 05 Junie 2015

Snaxie - Weer 'n steak broodjie

Ek het die storie oor steak broodjies al voorheen vertel maar die een was so lekker ek moet dit deel.

Lekker steak
Een lekker super stukkie rump ... en ek kan hom gaarmaak presies soos ek daarvan hou want niemand gaan hier saam eet nie.

Rare is presies wat die stukkie bees verdien.

Twee lekker snye bruin brood, so bietjie uitgebraaide varkvet ... ek kry dit as ek kaiings maak en twee goeie skywe lekker kaas.
In die pan

Sny repies van die steak, smeer korrelmosterd op die brood, pak die kaas, dan steak en dan weer kaas.







Maak die toebroodjie toe en smeer liggies met varkvet aan die buitekante.



Nou in a medium pan, moenie te warm wees nie want jy wil dat daar a lekker bros kors vorm en die kaas moet begin smelt.

Lekker Man Kos

Draai die broodjie om en doen die anderkant.


Siedaar ... Man Kos uit die boonste rakke.

Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.


Donderdag 04 Junie 2015

Steak - Kry myle uit hom uit

Soos baie van julle seker al agtergekom het, is ek deesdae op 'n missie om lekker kos ekonomies te maak en ek doen dit op maniere wat dit moontlik maak dat die manne ook kan kook.

Almal van ons weet dat goeie steak deesdae baie duur geword het en ons tradisionele manier van braai is van nature geneig om tot ernstige vermorsing te lei. Daar word chops, wors en steak op die rooster gegooi om 'n weermag te voer en dan word daar nog braaibroodjies, papterte en bakke vol slaaie gemaak. Aan die einde is die kombuis vol halfgehapte stukke vleis en borde vol sous besmeerde slaai. Kyk ek weet dit klink bietjie rof maar elkeen wat eerlik met homself wil wees sal presies weet waarvan ek praat.

Vir my het porsie beheer baie belangrik geword spesifiek omdat die vetrolletjies deesdae erg onder die vergrootglas is ... dan is daar nog die tsunami van eetplanne en elkeen reken sy plan is die beste.

Nouja Man Kos fokus deesdae op maniere om eet lekker te maak sonder die noodwendige vermorsing en gepaardgaande skuldige gewetes.

Heel eerste is om porsie beheer toe te pas en dan om die aantal disse te beperk. Ek steek vas by drie disse op die bord en net een mag stysel wees.

Saterdagmiddag kom ek en Poppie terug van die Kaap af en terwyl ek my kar vol diesel maak glip ek by my gewilde Vleiswinkel in ... ek was nou lus vir 'n ernstige stuk vleis. Twee weke van hoender en vis is genoeg vir eers ... nou wil ek bees eet.

Goeie Rump
Ek kry 'n lekker stuk rump, grasvreter en droog verouderd ... hemels.

Die stuk vleis is meer as genoeg vir drie mense en ek suig stadig aan my Camel terwyl die vlamme om die bees dans. As jy so stuk vleis braai moet jy dit met die nodige respek en toewyding hanteer ... fokus op wat jy doen want dis maar net so 10 tot 12 minute en dan is dit oor.

Volgende plaas ek die gaar steak op 'n plank en stel die horlosie ... hy moet nou 5 minute rus. Hierdie is baie belangrik want dit laat die vesels ontspan nadat die vuur hulle nogal erg gespanne laat raak het.

Reg vir opdien
Na die rus periode sny ek die vleis in repies, sit so hopie growwe sout op die plank en dan gaan hy tafel toe.



Natuurlik 'n lekker vars brood. Dis my stysel.




Net drie disse
Ek het 'n mengelslaai gemaak van  groen ertjies, soet rissie, chilli, peer en rosyntjies. Eetlepel kondensmelk en swartpeper. Sout na smaak en so blerts suurlemoen.

Die slaai maak ek deur 'n eetlepel vol van elke bestandeel per persoon af te meet. Dit help kwaai vir die oorskiet want oorskiet slaai is gewoonlik nie lekker nie.

Dit was die maaltyd op die braai aand. Ons was net twee mense en derhalwe het daar 'n stuk rump oorgebly wat nie gesny was nie. Die vleis het ek in die yskas geplaas.

Man Kos Toebroodjie
Maandag middag en daar is so klein hol kolletjie wat gevul moet word. Heerlike vars brood, lekker plaas botter en so paar repies oorskiet steak.

En dis die tweede ete uit die oorspronklike rump steak uit.











Toe kom Dinsdagaand en die bees lewer die finale ete.

Lekker sous
So een derde koppie lekker olie in die pan, grof gekapte uie, knoffel, swartpeper en gemengde droë kruie. Laat hulle maar lekker kuier tot die uie sag en deurskynend is, moenie die knoffel laat brand nie.

Nou gooi ek so koppie vol klein tamaties in die mengsel en twee teelepels suiker. Een eetlepel asyn en sit die deksel op ... laat hy nou maar smoor tot die tamaties oop bars.
Heerlik

Intussen sny ek die steak in blokkies so groot soos ertjies en gooi die stukkies met vet in die smoor in. Onthou die steak is reeds gaar so jy wil dit net warm laat word.

Ek maak pasta gaar en dan gooi ek so paar eetlepels room in die smoor ... maak seker daar is genoeg swart peper in en sout na smaak. Roer goed en verdik met mielieblom as die sous te loperig is. Nou gooi ek die blokkies vleis in en roer en laat prut vir so twee minute.

Skep op en geniet dit.

Die bees het sy kant gebring en jou beursie sug van verligting.


Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.


Dinsdag 12 Mei 2015

Skons - Annelien se Lepel Skons

As daar nou een debat onder ons Boerekos mense is wat seker nooit regtig tot 'n eengesinde uitkoms sal kom nie dan is die storie oor skons. Die meer geletterde VLU bakkers sal jou dadelik vertel dat as jy die deeg in muffin pan inskep is dit dadelik nie meer skons nie. Skons is ook bekend as botter broodjies maar ek is nie geskiedskrywer of navorser nie en ek gaan my nie op hierdie pad begewe nie.

Man Kos Skep Skons
Die groot ding is dat ons baie maklik na bondeltjies deeg verwys as skons waar dit in werklikehid eintlik maar net 'n muffin is. As jy dan weer na die regte skons goeters gaan kyk dan kom jy ook gou agter dat die meeste mense maak 'n ding wat die Amerikaners 'n biscuit noem en dan noem hulle dit 'n skon.

Dit nou daar gelaat ... Man Kos is daarop gefokus om kos te maak wat mans voor lief is en waarvan vrouens ook hou. My grootste doelwit is om kos te maak wat mans ook redelik maklik kan maak ... ek maak die goed waarvoor ek lief is en dan vertel ek my storie op so manier dat 'n man dit ook dalk interresant gaan vind en self die taak aanpak.

So rukkie gelede het Annelien Pienaar 'n resep op haar blog gesit vir wat sy noem Lepel Skons ... dis ook bekend as Skep Skons en dit word in muffin panne gebak.

Laat ek dit duidelik stel ... ek kan egte regte skons bak, my ma het my geleer en Ambeleen Fandamaly het my onlangs weer so bietjie leiding gegee maar dis 'n proses wat nie baie mans sal aanpak nie want jy het geduld nodig en as dit by die botter in die meel vrywery kom dan skud baie manne hulle koppe. Jy kan jou food processor gebruik maar dis gevaarlik want binne sekondes is die botter klonte te fyn en dan is dit nie meer skons nie.

Annelien se basiese resep is die regte resep vir mans om aan te pak. En onthou ek praat nou van mans wat nie bak nie. Hier volg my variasie op haar resep. Die regte Lepel Skons is hier op die skakel.

Die bestandele is eenvoudig en ek gaan dit so vereenvoudig as moontlik.

1 Pakkie Snowflake EasyMix Savoury Muffin Mix. (500gr) Dit is bruismeel ... 4 koppies.
2 Teelepels bakpoeier.
2 Eiers
1/4 koppie olie ... ek gebruik SPAR se Olive Cooking Oil
1/4 teelepel sout ... ek glo alles moet sout inkry.
(2 teelepels suiker as jy dit soet wil maak. )
3 koppies melk.
1 teelepel suurlemoensap of asyn.

Reg vir die oond
Kry nou vir jou twee mengbakke ... een lekker groot vir die meel en so middelslag kleintjie vir die melk en olie en eiers.

Sit jou oond aan op 200C en die oondrak op die onderste derde.




Gooi die meel, bakpoeier en sout in die groot bak en klits dit goed deurmekaar met 'n whisk. As jy nie 'n whisk het nie moet jy maar sif.

Lekker goudbruin
Gooi al die melk in die kleiner bak en gooi die suurlemoensap of asyn nou in die melk.
Wag so 5 minute en jy sal sien die melk begin klonte maak.
Breek nou die twee eiers in die melk in en gooi die olie ook by.
Nou moet jy hierdie mengsel regtig goed klits. Handmenger, staanmenger, whisk of outydse eierklitser ... net wat jy voor lus het of beskikbaar het .... ek gebruik 'n outydse eierklitser want dis makliker om skoon te maak.

Dis regtig belangrik dat jy nie die meel en melk bymekaar bring voordat jy nie reg is vir die oond nie. Die bakpoeier is die ding wat jou skepskons moet laat reis en die goed werk amper soos Enos. As dit vog kry begin dit aktiveer en jy wil dit vinnig in die oond kry om die beste rys uit dit uit te kry.

Man Kos Lepel Skons
Smeer nou die muffin panne ... die mengsel maak 18 normale grootte muffins.

Sodra jou oond gereed is kan jy die melk by die meel voeg en meng vinnig met 'n metaal lepel. Ek gebruik so groot desert lepel, hy is ook reg om die skons mee te skep. Dit is 'n baie slap deeg.

Skep nou in die panne in en kry dit in die oond. My oond is effe hitsig so ek bak vir 12 minute teen 200C en dan draai ek af na 180C toe vir nog so 6 minute. Hierdie tye word baie beiinvloed deur die weer en humiditeit. So hou maar 'n ogie op die oond.

En dit is so maklik as wat dit is.

Hierdie resep wat ek gegee het is wat jy kan noem 'n basiese resep en kan die basis vorm vir 'n swetterjoel variasies.

Ek het sulke klein mozarella balletjies by My spar gekoop, omtrent so groot soos duif eiers. Ek het en bo-op elke muffin gesit en die deeg ingedruk ... moenie deurdruk tot op die bodem van die pan nie want dan gaan die kaas smelt en onder in die pan sit.

Ek het ook a 3/4 koppie vark kaiings in die meel ingemeng en so bietjie kaiings bo-oor gestrooi voor dit oond toe is.

Jy kan enige snipperde varkvleis gebruik, fyn gekapte biltong, neute of droeë vrugte.

Jy kan enige kaas in blokies sny en gebruik in plaas van mozarella.

Gebruik die Blueberry Muffin Mix en maak dit a soet dingetjie ... gooi bessies in jou deeg en sit s skeppie konfyt in a holte bo-op die muffin.

Gooi speserye in die mengsel ... kaneel, gemmer, koriander ... net waarvoor jy lus is. Eksperimenteer en leer wat werk.

Raak romanties ... gebruik skoon bruismeel en sit suiker in, vervan die melk met Appelkoos Yoghurt en los die suurlemoen uit.
Gooi chocolate chips in jou deeg en druk so paar chips bo in nadat dit in die pan geskep is. Klits vars room en vou 'n lekker likeur in die room in. Bedien dit saam.

Raak gevaarlik ... maak die soet deeg met die yoghurt maar snipper vars rissies fyn en meng in die deeg in ... druk repies groenvy in die deeg in in die pan. Hierdie een gaan jou verlei met soetigheid en so nou en dan gaan hy sê ... HOESIT !

Hierdie goedjies is so aanpasbaar dat jy omtrent enige ding met dit kan maak ... jy kan dit vir a voorgereg maak of a nagereg ... teetyd of sommer peuseltyd. Jy kan dit saam met 'n lekker stew of kerrie bedien en die koekies vervang die gewone rys of aartappels.

Die belangrikste ding is dat dit maklik is om te maak.

Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.


Saterdag 02 Mei 2015

Kombuis - Ek maak weer botter

Man Kos ... soos ek al baie gesê het, Man Kos is iets waarvan die manne hou maar baie vrouens hou ook daarvan. In sy fynste essensie is Man Kos vir my, vleis en brood. Maar en dis 'n groot maar, daardie brood word opgeskuif na nuwe hoogtes toe as dit saam met regte lekker vars tuisgemaakte botter op jou bord beland.

Vars Botter
Dadelik kom die vraag dan op ... waar kry ek egte tuisgemaakte botter, ek noem dit spesifiek nie plaasbotter nie want baie min van ons het nog toegang na plase toe, wat nog plaasbotter.

Nou hoe gemaak ... wel, dis eintlik maklik, makliker as wat die meeste mense dink. Maak jou eie. Omskep jou werksbank en so paar eenvoudige stukkies toerusting in 'n botter produksie eenheid.




Al wat jy benodig is ...

Min is nodig
1. 250 ml Room ... Ek koop vir die doel altyd 'n plaaslike produsent se room en nie die Nasionale verpakkers s'n nie. Eerste rede vir die is omdat dit gewoonlik omtrent die helfte van die prys is. Tweedens is dit gewoonlik rou room, aards en word efens suur binne a paar dae in jou yskas. Ek verkies dit dat die room so bietjie "af" is voor ek die botter maak maar dis my persoonlike smaak. Jy kan verseker kraakvars room gebruik.

2. 'n Lekker groot mengbak, ek verkies 'n glasbak maar 'n metaalbak is reg. As jy nou ernstig op die wiskunde wil fokus kan jy die bak ook so 30 minute in jou vrieskas sit voor jy begin want dan sal die koue bak help om die uitgeklopte bottervet gouer te laat klonte maak.

3. Elektriese klitser. Voorheen het ek beskryf hoe ek dit in 'n voedsel verwerker maak en toe laat weet my een kind my ... "Ek het nie so ding nie." So, toe besluit ek maar ek gaan die keer 'n elektriese handmenger gebruik. Die meeste van ons het so iets. Moenie my verkeerd verstaan nie, as jy energiek en fiks is kan jy die botter afskei met 'n draad handklitser ... whisk, vir die van ons wat gewoonweg praat.

4. My vierde stukkie gereedskap is 'n houtlepel met gleufies in. Die is ook maar net my persoonlike keuse hoofsaaklik omdat ek een het. Enige groot lepel kan werk.

Ok kom ons maak nou die botter ...

Gooi jou room in die mengbak en begin klits. Jy sal sien hoe gaan die room deur die stadiums waarvan ons baie lees. Hou maar net aan klits, verby die sagte punte stadium, dis die room wat op nageregte bedien word en die wat nie skrik vir cholesterol nie, dryf so lepeltjie vol op hulle koffie. Dan word dit stywer en dis wat jy op koeke en terte smeer.

Op die regte pad
En dan skielik sien jy dit begin nou regtig styf raak en word droog ... wel dis die stadium waar menige kompetiesie deelnemers die trekpas kry ... nou is dit nie meer room nie en begin erg vetterig proe.

Nou is jy sterk oppad na botter toe ... skielik sien jy die bak is vol krummels en die menger begin kreun onder die vrag. As jy nou 'n klompie vriende oorgenooi het vir skemerkelkies en jy het a klompie bordjies met versnapperings, dan kan jy nou net hier stop ... gooi bietjie sout en rooipeper in en bedien die saak met lekker sout beskuitjies. Sien Man Kos kan stylvol wees. Dis ook hier waar menige Masterchef deelnemer al die pot mis gesit het en die as botter aangebied het ... dis nog nie botter nie.

Amper daar
Maar ons soek botter, so hou aan klits. Hou die bodem van die bak mooi dop, skielik asof in 'n towerslag begin daar so melkerige afskeiding in die bak vorm ... nou is jy amper daar ... dit wat jy sien in die bak is nou wat karringmelk is ... dit was my oups s'n ... ons kinders kon so lepeltjie vol kry maar die bekertjie vol was oupa s'n.

Dis ook nou waar dit morsig kan raak om die mengbak want die karringmelk gaan in sulke misreën druppeltjies rondspat as jou bak nie diep genoeg is nie ... myne is gewoonlik nie diep genoeg nie en dit spat maar lekker.

En daar is dit
Sodra jy dink die meeste bottervet het geskei moet jou ophou klits. Nou kom daar so bietjie spierkrag tersprake. Maak die botter bymekaar met die lepel en pers sovceel vog uit as wat jy kan. Ek druk die botter stewig teen die rand van die bak uit.

Gooi nou die karringmelk af ... moenie weggooi nie ... dis heerlik as dit yskoud is.

As jy wil kan jy nou so twee of drie eetlepels yswater in die bak gooi en deur die botter werk om nog karringmelk uit te spoel ... gooi die spoelwater maar weg.

Volgende maal ek growwe sout oor en meng deur en plaas in die yskas. Jy kan enige ding inwerk om die botter te geur na gelang van wat jy daarmee wil doen.

Heerlike vars Botter
En daar het jy dit ... een botteltjie 250 ml vars room is sowat 125 gram heerlike botter en om en by 80 ml karringmelk.

Al wat nou kort kom is 'n sny lekker vars brood.

Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.


Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.