Saterdag 16 Augustus 2014

Suiker - Pak jou vrees vir suiker karamel weg

Krakerig en lekker
Kyk as daar nou 'n ding is wat my die horries gegee het dan was dit as ek die lyn 'n resep raaklees.

"Melt sugar in a pot and caramelise it."

Jissim my hare vlieg sommer orent en ek sien beelde van verkoolde kastrolle en ruik suiker wat brand. Die ding het mos die vuil manier om baie mooi aan te kom en jy staan penregop langs die pot en hou 'n wakende oog op die suiker ... en dan ... die hond blaf en jy kyk op, kyk uit by die deur ... gil op die brak en as jy terugkyk is daar so swartkol in die pot !

Dan is dit maar gooi weg en begin oor. Vanoggend werk ek aan die beplanning van 'n dis wat baie belangrik is vir my en ek soek kraak in die finale produk. 'n Goeie vriend, Sarel, stel voor ek maak 'n neut karamel blok en maal dit fyn. Nouja ... daar sit ek toe ... ek kannie by die karamel verby sluip nie ... die keer sal ek dit moet doen en die ergste is dat ek dit 'n paar keer sal moet doen.

Nouja ek is nie iemand wat myself sommer as 'n puris gaan uitgee nie want ek glo puriste is geneig om tegniese ontwikkeling te strem. Ek spring op Google en begin soek ... en sowaar ... flatervrye karamel is moontlik. En dit is in die mikrogolf oond en dis byna 100% voorspelbaar. So jy kan dit oor en oor doen met dieselfde resultaat.

Lees mooi en dink so bietjie ... en ek is seker skielik gaan daar honderde lekker krakerige happies opgedien word regoor die land. Grondboontjies, neute, bessies, droë vrugte, muesli, biltong, kaiings ... die moontlikhede is legio.

Hierdie is iets waarmee die manne hulle vrouens kan verras. Terwyl sy in die bad is kan jy die aanmekaar klap en sy gaan nie haar oë kan glo nie. Sit chocolate chips in, geglasuurde vrugte ... net wat jou hart begeer.

Al skottelgoed is die een beker, een klein bordjie, een groot bord en jou silikoon matjie of anders kan jy dit maar op 'n bord doen wat goed gespuit is met koekie sprei of op bakpapier.

Een koppie suiker
Hier is die storie ...

1 Koppie suiker en 60ml water in 'n oondvaste maatbeker.

Meng die water en suiker mooi dat jy so slapperige pasta kry.

60 ml water
Sit die beker in die mikrogolf vir 5 minute. Geen roerdery op oppassery nie.

Op 5 minute moet jy kyk ... die vloeistof moet byna die kleur van brandewyn hê. Moenie te donker maak nie want dit verkleur nog verder. As dit te lig is ... gee nog 30 sekondes en kyk weer.

5 minute later
En siedaar ... perfekte suiker karamel sonder die gemors en senuwee ineenstorting.

Ek gooi my neute mooi uit op a silikoon matjie wat in a oondpan lê ... nou giet ek net die karamel oor die neute en los dit om te stol.







Gemengde neute



WAARSKUWINGS:

1. Daai stroop is geweldig warm ... so moenie dink jy gaan 'n tongtippie toetsie doen nie.
Grondboontjies
2. Ek laat staan die beker op a groot bord in die mikrogolfoond. Dit help as die suiker dalk so bietjie oorkook.
3. Ek sit 'n omgekeerde klein bordjie bo-op die beker om te keer dat die suiker die hele oond vol spat terwyl die water af kook.
4. Hanteer die beker met a goeie handskoen.
5. Maak seker alles is reg sodat jy dadelik kan giet as jy die beker uit die oond haal.
6. Laat loop die warm water kran sodat jy die beker dadelik onder die warm water kan insit as jy klaar is. Dit maak die skoonmaak sommer kinderspeletjies.








Lekker kook tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... Like hom stukkend as jy wil.

Maandag 04 Augustus 2014

Brood - Ham, kaas en mosterd rolletjie

Dis weer Sondagoggend en is lus vir ietsie lekker om te eet maar meer, ek soek ietsie wat indrukwekkend kan wees. Die laaste tyd het ek met baie goed geeksperimenteer en party het maar redelik skeef uitgekom. Maar in die proses het altyd ietsie geleer.

Die rolletjies is nou lekker Man Kos wat vrouens ook van hou en die kinders is mal daaroor.

Ham, kaas en mosterd rolletjie
Hierdie rolletjies is regtig lekker en dis maklik om te maak. Ek en my warm hande en pastei deeg is gladnie lief vir mekaar nie en ek het vrede gemaak daarmee. Toe ontdek ek die wonderlike wêreld van platgerolde brood ... en net daar toe skop my brein in overdrive in ... ek het reeds twee stories oor dit geskryf ...



Bacon Snaxie vir die manne ...
Ham en Kaas Varkies ...

Vandag gaan ek voort op die tema maar ek gaan julle mooi wys hoe ek dit gemaak het sodat jy jou eie verbeelding kan gebruik en wonderlike snaxies optower.

Belangrikste is lekker vars gesny brood te kry ... die spesiale brode in die plastiek sakkies werk baie goed. Ek gaan vandag die volgraan lae GI een gebruik. Ek sny ook nie die korsies af nie want die korsie help dat die vulsel nie uitloop nie.

Ek het 8 van die rolletjies gemaak.

Die bestandele
Benodighede:
1. Vars gesnyde brood.
2. Roomkaas
3. Gerasperde Cheddar
4. Toebroodjie ham
5. Heel korrel mosterd
6. Eiers - Ek het twee gebruik.
7. Brood krummels
9. Olie, botter of varkvet - Ek het varkvet gebruik.
So het ek dit gesmeer

Begin deur jou snye brood mooi plat te rol met 'n koekroller ... ek het al gesien manne doen dit met 'n wynbottel of rum bottel. Vrouens het glo die koekrollers gevat in die egskeiding.

Reg vir die eier en krummels
Volgende smeer ek so randjie roomkaas om die broodjie ... moenie dit te dun maak nie. Die roomkaas gaan help om die rolletjie bymekaar te hou en sal ook keer dat die ander kaas sommer uitloop as jy die rolletjie braai.

Smeel nou jou mosterd op.

Strooi nou die gerasperd kaas op twee derdes van die broodjie. Moenie te naby die rant plaas nie en moenie dit te dik doen nie.

Dun ham repies
Laaste plaas jy nou die ham op die broodjie ... ok nie meer as twee derdes nie.

Die fotos wys hoe ek dit gedoen het.

Rol nou die broodjie op en let daarop dat jy nie vulsel uitstoot voor die rolletjie nie.

Varkvet in die pan
Kry jou pan nou lekker egalig warm op so medium hitte. Ek het varvet wat ek uitgebraai het met die kaiings makery gebruik maar jy kan 'n mengsel van olie en botter gebruik. Die botter help dat die rolletjie vinniger bruin braai.

Maak nou vir jou twee bakkies reg vir die eier doop en krummels. Dis makliker as die eiers en die krummels in bakkies is waarin die rolletjie mooi in kan pas. Ek het so bietjie speserye in die krummels ingemeng.

Doop stasie
As jy pan reg is begin met die dopery. Ek rol die rolletjie in die eier en dan deur die krummels. Plaas die rolletjie in die pan met die naat na onder sodat hy eerste bak.

Omtrent een manuut en dan kan jy hom draai. Ek het a bak met handoek papier in in my oond gesit op 70C en die rolletjies daar ingepak soos hulle uit die pan uit kom.

Dit is heerlik en saam met roer eiers of 'n ommelet het jy 'n lekker ontbyt.
Pasop vir te warm pan

Die rolletjies hou ook goed in die yskas en koud geëet word. Maak vir jou lekker sousie en dis nog beter. Ook lekker vir die kosblikke.

Hier het jy nou a basiese resep wat jy baie maklik kan aanpas om enigeiets te word. Sout, soet of spicy.

Voorgereg, hoofgereg of nagereg.
Reg om te gaan

Ek het dit met pampoen gemaak en in kaneelsuiker gerol op die einde. Heerlik selfs twee dae later.

Moenie bang wees nie ... gaan wyd en as dit nie lekker is nie dan weet jy tenminste wat jy volgende keer nie moet doen nie.

Heerlike Man Kos
Die belangrike ding is om die vulsel nie te dik te maak nie. As jy dit groter en dikker wil maak moet jy liewer kyk hoe ek die varkies gemaak het.

Vir my is dit 'n lekker vinnige manier om krakerige lekkerny te maak sonder om te stress oor die deeg.

Lekker kook tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... Like hom as jy wil.














Donderdag 31 Julie 2014

Afval - Skaap harte laat my glimlag van lekkerte

Gedurende my reise na Kuweit toe het ek kennis gemaak met skaap harte. Dit was vir my baie lekker en as ek daarheen gaan dan is dit een van die eerste goed wat ek opsoek. Deesdae ervaar die eet van sogenaamde afval 'n oplewing in Suid Afrika en ek is bly daaroor want vir my is afval baie lekker.

Skaap harte
Daar is verskillende manier om die harte voor te berei maar ek verkies die eenvoudigste manier ... net lekker Steak en Chops spices van Robertsons en 'n warm pan. Sout gooi ek oor as ek eet. Dis hoe ek van dit hou want dis hoe jy die smaak van die harte die beste ervaar. Soos met meeste afval, gaan jy daarvan hou of jy gaan nie ... dis jou besluit maar jy moenie besluit voordat jy dit nie eers een keer geproe het nie.
Skywe gesny en speserye op

Jy sal heel waarskynlik jou slagter moet vra om vir jou harte te kry want dis nie iets wat gewoonlik aangehou word nie. Ek het redelik lank gesukkel om 'n goeie verskaffer te kry.

In die pan
Begin by die bokant van die hart en sny sulke 10 mm dik skywe. In die boonste skywe gaan jy baie bloedvate kry en ook die kleppe. Sny dit uit of af ... jy wil nie dit eet nie want dis sening taai. As daar oormatige dik stukke vet aan die hart sit moet jy dit liefs afsny want die goed kan kwaai geil wees.

Nadat jy die skywe nou mooi skoon gemaak het gooi dit lekker dik van die speserye oor die vleis se bokant op die plank.

Draai nou om
Ek maak so twee teelepels uitgebraaide skaapvet warm in my ysterpan. As jy nie vet het nie kan jy bietjie kookolie en 'n eetlepel botter gebruik. Bring die pan op so medium warm hitte.

Plaas nou die skywe met die spesery kant onder in die pan ... dit moet goed sis en spat as jy dit insit anders is die olie te koud. Gooi nou spesery op die bokant. Los die vleis uit want jy wil dit laat braai en nie kook nie.

Reg vir die tafel
Ek los dit vir 3 minute op die eerste kant en dop hulle dan om. Nog 3 minute en haal dit uit die pan uit. Dis baie belangrik dat jy die vleis nie over cook nie ... as jy dit doen gaan dit baie taai wees.

Laat die vleis nou so 3 tot 4 minute rus voordat jy begin eet. Die rusperiode is belangrik sodat die vleis deurgaar word en ook ontspan.

Heerlik saam met vars brood
Ek eet dit net so saam met lekker vars brood met botter en konfyt.

Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.










Hier is my Facebook bladsy ... Man Kos ... Like hom as jy wil.

Dinsdag 29 Julie 2014

Ontbyt - RGR bacon eier en kaas

Deesdae word ons so gebombardeer met al die fancy Franse opdienings dat 'n man soms dink jy is werklik 'n Grotman sonder styl ... maar die toringkies, krummels en blertsies werk nie vir my nie ... hoe is Boerekos en meer belangrik ... Hoe is dit Man Kos ?

Iemand vra my om 'n dis te maak vir hulle website se Franse Week en my kop begin draai ... blertsies en krummels ... nee jong daai gaan nie vir my werk nie. Sy stuur vir my 'n lysie van die goed wat ek kan gebruik en ek broei op die lysie vir so dag of twee.

Sondagoggend is Poppie besig met dinge en kos is nie op haar program nie. Ek staan hongerig daar in die kombuis rond en die Franse ding roer my ...

"Hmmm ... ok .... ek kan hulle goeters gebruik, en ek kan seker bietjie grênd probeer wees maar die eindproduk moet onmiskenbaar Man Kos wees."

So gesê so gedaan ... ek sal 'n Brunch maak met styl en ek wil iets maak wat nie warm gedoen moet word nie want ek dink nie die manne gaan dit dan aanpak nie.

Soos julle seker al by die tyd agter gekom het, ek is nie groot op resepte nie maar eerder groot op die stories ... ek vertel hoe die goed gemaak moet word en jy gebruik jou gunsteling resep daarvoor. Hierdie is maar weer presies in daardie lyn.

Jy gaan die volgende nodig kry ...

1. Vars brood snytjies.
2. Groot Tamatie
3. Gerasperde kaas.
4. Harde kaas soos parmasaan.
5. Eiers (2 Per persoon)
6. Streaky bacon sonder die velletjie (8 repies per persoon)
7. Basil, Coriander en pietersielie.
8. Roomkaas

Die ander goedjies gaan ek noem soos ek beskryf. Die belangrikste komponet is dat jy moet lus wees om iets nuuts te probeer en dan maar die storie te volg. Nie een van die prosesse is bomenslik nie ... net geduld en bietjie fokus.

Ek gaan voorstel jy kry al jou goedjies mooi bymekaar en die panne reg voor jy begin, meson plas dink ek noem die serious chefs dit.

Die fotos is baie en gaan jou help om elke ding mooi reg te kry. So ek stel voor jy lees die storie eenkeer mooi deur en kyk na al die fotos voor jy begin en dan volg jy die storie.

Voorverhit jou oond op 180C

Eerste taak is om die bacon matjies te maak. Kry jou bakplaat reg en maak die bacon oop. Ons gaan 4 stroke vertikaal weg van jou af plaas en dan 4 strokie horisontaal invleg.





Maak twee sulke matjies as jy vir twee persone kook. Sit nou die bakplaat in die oond vir 10 minute. Dis belangrik dat jy die goed dophou dat dit nie brand nie.

Terwyl die bacon in die oond is rasper jy jou kaas, ek het wit cheddar gebruik. Dan sny jy tamatie in skyfies en haal die pitte uit. Hou die pitte en sap in 'n bakkie. Volgende sny jy die skyfies in strokies en en dan in blokkies. Jy wil eindig met stukkies so groot soos ertjies. Onthou ons probeer mos grênd wees ... so maak die goedjies mooi.



Die 10 minute van die bacon behoort nou klaar te wees. Nou verander ek die oond en skakel oor sodat net die boonste element aankom soos waneer mens grill maar nie die hitte op grill nie. Ek maak ook die oond deur oop sodat die hitte kan ontsnap en die boonste element aangaan.

Nou moet jy staan en kyk ... jy wil die bacon cripy kry maar nie verbrand nie.

As dit mooi gebak is haal die pan uit die oond en dreineer die vet uit in jou braaipan in.




Maak die bacon matjies versigtig los van die bakplaat af en plaas hulle op kombuispapier om die vet mooi uit te trek.

Kry braaipan met die bacon vet in nou medium warm. Vat twee snye brood en sny die korsies af ... jy hoef nie maar onthou ons wil grênd wees. Sodra die vet warm is, sit die brood in die pan en wag so 30 sekondes en draai dan om ... jy moet seker maak albei kante kry genoeg vet in. Moenie nou haastig raak nie, jy wil die broodjies mooi goudbruin bak in die pan. As dit reg is, haal uit en sit ook op handoekpapier.



Vat nou 'n klein pannetjie en gooi die tamatiepitte daarin, so halwe teelepel tamatiesous, blertsie balsamiese asy, bietjie chili vlokkies en so 4 druppels Tobasco. Sit nou die plaat aan. Jy moet die ding nou regtig mooi dophou want jy het omtrent so een en half eetlepel mengsel hier. Sodra die tamatie sop begin borrel, roer alles mooi deurmekaar en laat dit goed borrel. Haal af van die hitte af enskep dadelik in a klein houertjie uit. Moenie die sousie in die pan los nie, die hitte gaan die sous in a pasta laat verander binne 'n oogwenk.




Volgende breek 2 eiers in a koppie, gooi so eetlepel room in en klits goed. Jy gaan nou a klein dik ommelet maak. Gebruik weer a klein pannetjie. Moet groot genoeg wees om die broodjie te kan vat want ons gaan 'n vierkant uit die ommelet sny wat op die broodjie pas.

Pasop dat die ommelet pan nie te warm is nie en gooi so teelepel botter in die pan voor jy die eiermengsel ingooi. Gee tyd om goed te stol. Ek het so paar stukkies tamatie en snippers parmesaan kaas in die mengsel in gesit terwyl die onderkant bak. As hy mooi geset het, flip hom en gee hom so 30 sekondes op die kant. Gly die gaar ommelet uit op 'n bord.




Nou begin die finale voorbereiding. Gebruik die roosterbrood en sny die bacon matjie die regte grootte. Sny ook die vierkant uit die ommelet uit.


Volgende vat jy die bacon wat jy afgesny het en snipper dit fyn. Ek het sommer 'n kombuisskêr gebruik. Snipper die ommelet afval stukke ook fyn. Gooi die bacon en eier snippers saammet die tamatie blokkies. Kap die basil, pietersielie en coriander fyn en gooi by. Nou 'n lekker skep mayonnaise en meng goed. Sout en peper en proe of dit reg is.



Nou gaan ons die broodjie bou. Smeer roomkaas op die broodjie en moenie snoep wees nie. Volgende die eier vierkant en dan die bacon. Nou kan jy die gerasperde kaas opsit. Moenie skaam wees nie, jy will dit lekker dik opsit. Laaste lê ek so paar strokies parmesaan bo-op ... ek kerf die strokies af met my veggie peeler.

Nou moet jy bietjie spoed opdraai ... tot hier was spoed nie belangrik nie en jy kon alles doen teen 'n pas wat jou gemaklik laat voel. Maar nou is dit belangrik dat jy die dis afrond in die oond en dadelik opdien. Ek het my borde klaar voorberei en die eier/tamatie/bacon mengsel opgedien. Garnering gedoen en so paar skyfies groen vy klaar in plek gesit. Net spasie oopgelaat vir die broodjie.





Weereens die boonste element aan op 200 C. Sit die broodjie op 'n oondplaat en onder die grill in ... ek los my oondrak in die middel want jy wil hê die hele dis moet so bietjie opwarm terwyl die kaas smelt. Moenie nou ander dinge aanvang nie, hou jou oë op daai broodjie in die oond. Sodra die kaas mooi gesmelt is moet hy uit en op die bord.

Sit nou so paar spatsel van daai tamatiepit sousie op die broodjie. Myne het gebyt so wees maar versigtig.


Kyk mooi na die goed wat ek gebruik het. Hier is nie teveel komponente ingesit om die smaak te vertroebel nie en jy moet die heeltyd seker maak jy oorweldig niks nie. Op die einde wil jy al die verskillende goed kan onderskei as jy kou. Die groen vy gee varsheid aan 'n mondvol wat amper te souterig kan smaak. Wees versigtig as jy die ommelet sout en peper gee want die bacon en kaas is reeds sout.

Moenie hierdie ete onderskat nie ... hy het muscle ... daar is ten minste ses strokies bacon en twee eiers op die bord met een snytjie brood. Dis Man Kos hierdie ... honger Man Kos met so bietjie styl.

Dis vir my lekker gewees om die dis te maak en nog lekkerder om hom te eet. My vrou kon net die helfte van hare hanteer.

Hierdie dis was gemaak op versoek van die Rainbow Gospel Radio groep.

Lekker kook tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook bladsy ... Man Kos ... Like hom stukkend as jy wil.



Donderdag 17 Julie 2014

Vark - Ham en kaas varkies

Ham en kaas varkies
Ontbyt ... vir meeste van ons is dit eenvoudig bacon, eiers en toast. Na ek die Bacon en Kaas Snaxies gemaak het staan ek in die kombuis en kyk na die goedjies wat oorgebly het en wonder ... hoekom nie meer lyf nie ... Ek het heelwat goedjies gekoop toe ek die gereg moes maak vir Nina Timm se program en daar was 'n paar goedjies wat ek nie gebruik het nie.

Nouja ek is nogal bekend daarvoor dat ek 'n towenaar is met oorskiet kos uit die yskas. Meeste kere is dit verseker sulke ONE HIT WONDERS want die oorskiet is mos nie altyd dieselfde nie.

Lekker Ham
Ek maak die pakkie ham oop wat ek by My SPAR gekoop het en sny sulke 5mm repe af van die blokkie mozzarella kaas af.






Ham en kaas rolletjies


Ek sit een repie kaas op die kand van die ham en rol hom om. Nog 'n repie en maak die rolletjie klaar.






Mosterd op die brood


Volgende vat ek sny prood, hierdie keer sny ek nie die korsies af nie. Rol hom lekker plat met die koekroller, as jy pas opgebreek het met jou liefie en sy het die kombuisgekry, gebruik sommer 'n brandewyn bottel.





Brood en ham rolletjies




Smeer mosterd op die brood en rol die ham rolletjie daarin toe.



Bacon om en reg vir die oond

Volgende draai ek bacon repies om die hele rolletjie en daar lê die Man Kos Varkie, reg vir die oond.




15 minute later ...
Smeer jou bakplaat lekker met olyfolie. Oond lekker warm op 200C ... jy wil die varkie nogal vinnig bros kry. So 15 minute behoort heeltemal voldoende te wees.

Ek het dit bedien met suikermielies en 'n slaai. Jy kan dit saam met eiers bedien dan het jy die hele ontbyt.

'n Lekker kaas en sampieone sous sal ook baie lekker wees as jy dit oor die varkies gooi. Die moontlikhede is groot.

Hierdie kan die basis vorm van 'n baie lekker Saterdagoggend ontbyt.

Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook blad ... Man Kos ... Like hom stukkend as jy wil.