Dinsdag 13 Oktober 2015

Kombuis - Houtbakke en houtborde

Ou houtbak
Man Kos en houtborde is eintlik sinoniem. Vir my is hout baie spesiaal en ek raak bedonnerd as ek sien mense verniel hout produkte. Ek raak veral erg befoeterd as ek sien dat hardehout vermors word ... hoekom ... feit is dat daai mens wat daardie hardehout boom afkap kan in sy lewe nooit weer daardie boom vervang nie. Hierdie geit van my kom al van baie jonk af en dit was 'n sterk motiverende ding vir my in die jare toe ek houthuise en houtdekke gebou het. Ryk mense probeer hulle "power" bewys en dan lê hulle skaars inheemse hardehout planke op 'n dek ... sotheid in Suid Afrika ... daardie hout het nie 'n kans in ons klimaat nie en ek gaan nou nie oor die tegniese aspekte praat nie. Feit is, aangeplante dennehout wat reg behandel is sal enige hardehout dek in Suid Afrika met baie jare oorleef.

Onderkant van houtbak
Maar kom ek kom by die punt ... baie van die wat hier lees sal sekerlik 'n hardehout snyplank hê en baie sal ook die eienaars wees van hardehout bakke. Die bakke word langs die paaie verkoop deur smouse en jy kan van dit in snuistery winkels kry. Ek het nie 'n probleem met die aankoop van die goed nie ... die skade is reeds gedoen toe die boom afgekap is ... koop die bord en versorg dit ... dan het die boom nie verniet gesterf nie.

Klaar olie gesmeer
Die waarheid is dat as jy jou houtborde en bakke goed versorg sal dit vir langer as jy bestaan en waarskynlik jou kinders en kleinkinders ook oorleef.

Ek verkies om my bakke by die smouse te koop want hulle smeer nie allerhande selers of vernisse op nie. Die meeste van hulle gebruik gewone vloer politoer. Dis om die ding te laat blink en mooi te laat lyk ... dis die wat ek koop maar verkies eintlik die wat nog rou en vaal is.
Eindresultaat.

Eerste stap as ek by die huis kom is om die bak ordentlik te skroop met warm water en seep en 'n potskuur spons. Raak ontslae van die politoer ... dit gaan jou kos in elkgeval sleg laat proe.

Nou moet jy die bak los dat hy kan droog word ... nie in die son nie ... dis ongesond om so nat bak in die son te sit. Hy kan kraak.

Nadat hy mooi droog geword het, so dag of wat later, kan jy hom begin behandel. Ek doen gewoonlik die onderkant eerste. Gebruik lekker silwerskoon vars Canola olie ... of sonneblom olie ... ek verkies Canola want dis redelik smaakloos en is baie lig in kleur.

Jy het so omtrent een eetlepel vol nodig, afhangende van die grootte van die bak. Gooi die olie op die bak en nou moet jy nie vol fiemies wees nie. Vryf die olie mooi egalig oor die hele bak met jou kaal hand ... nie 'n lap of 'n kwas nie ... jou hand. Maak seker jy smeer dit lekker dik aan en as die hout wit vlekke in het, smeer dit daar meer aan want die wit is gewoonlik sagter.

Nou sit ek die bak so onderstebo in die son vir so 30 minute. Na 30 minute gebruik ek papierhandoek en maak die bak mooi skoon. Vee die olie goed af ... niks natkolle moet oorbly nie.

Nou doen ek die binnekant net soos die buitekant en terug son toe. Dan na 30 minute vee ek die binnekant ook mooi droog met papierhandoek.

Nou is jou houtbak weer fiks en mooi vir die volgend jaar of wat. Doen dit gereeld met jou houtbakke en borde en hulle sal vir jare en jare mooi bly. Jy kan dieselfde doen met jou houtlepels en slaai vurke.

Ek sal gladnie voorstel dat jy olyfolie gebruik nie want olyfolie het 'n kenmerkende smaak en geur en dit wil jy nie in jou houtbakke hê nie. Hierdie spesifieke bak as is meer as 10 jaar in my kombuis en hy gaan nog baie jare diens gee ... net so bietjie liefde en respek.

O ja ...moenie jou houtborde en bakke in die skottelgoedwasser sit nie. Was met warmwater en seep en spoel goed af, maak dadelik mooi droog.

Ek hou altyd 'n halwe suurlemoen handig op die wasbak ... sodra ek klaar is met 'n snyplank, spons dadelik skoon met skottelgoed seep, spoel af met warm water ... vryf met die suurlemoen en spoel af met koue water. Nou is die kans vir slegte reuk baie skraal. Hou jou borde dop, as jy sien hulle begin droog lyk, olie maar weer.

Deesdae kry mens bamboes snyplanke ... hulle moenie geolie word nie en jy kan hulle na die was proses net laat staan en droog word, nie nodig om af te droog met vadoek nie ... jou houtborde moet jy droog maak.

Nog 'n onding ... moenie jou snyplanke in die water laat lê nie. As jy dit doen het jy 'n baie goeie kans om jou bord of bak te laat bars ... of hy bars tydens die lê in die water of as jy hom laat droog word. Hardehout suig nie sommer water nie en as jy hom in water laat lê dan trek slegs die buitenste lagie vog. Dit veroorsaak groot spanning op die opervlak en dis wat jou houtbord of bak sal laat kraak.

Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.

Woensdag 07 Oktober 2015

Potluck - Rek die mince

Deesdae is dit nogal 'n depressiewe ding om te gaan kos koop. Pryse van goed is mal en as jy nie versigtig is nie kan jy baie maklik 'n onsedelike klomp geld spandeer op 'n mandjie wat nie baie vêr gaan kom in jou kombuis nie.

Man Kos is op 'n missie om lekker kos te maak wat bekostigbaar is. So kom dit dan dat ek in die kombuis inloop so teen laatmiddag en ek wonder ... wat gaan ek vanaand op die tafel sit. Dit is iets wat in duisende huise gebeur en my oë dwaal oor die kaste en deur die vrieskas.

Lekker kool en maalvleis
250gr Mince, aartappels, uie, 'n klein kool koppie, blaarslaai en tamaties. Nou moet ek kos maak vir 3 mense. Dis maar 'n klein pakkie mince en beteken so omtrent 80 gram vleis per persoon ... minder as 'n burger pattie by 'n fastfood plek.

Eerste maak ek die slaai en 'n slaaisous van yoghurt, heuning, suurlemoensap en mosterd. Dis 'n lekker dik en geurige sous wat opsigself voedsaam is.

Kap die uie op en sit 'n pot op die stoof. Twee eetlepels varkvet en 'n goeie klompie braaispeserye ... die gaan die basis van my sous word en ek roer die uie totdat dit lekker sag gebraai is. Die vet is lekker warm en borrel en spat. Pasop vir brand.

Ek meng twee teelepels sous poeier in 500ml water in ... ek gebruik Ina Paarman se sous poeier maar jy kan Bisto of iets soortgelyks gebruik. Nou skep ek twee eetlepels meel in die uie en vet in die pot en roer dit goed. Spoedig verdik dit tot 'n pasta, Nou moet jy bly roer en die pasta kans gee om so bietjie uit te braai. Hou die pot lekker warm en roer gereeld sodat dit nie aanbrand nie. As jy nou brand kan jy dit maar wegsmyt en gaan fliek.

Geurig en goedkoop
Dan gooi ek die watermengsel in die pot in ... dis 'n gespat en borrel dat die stoom trek en ek roer dit aanhoudend. Spoedig het die meelpasta mooi opgelos en daar is 'n lekker sous met uie in aan die kook. Moenie die plaat afdraai nie ... laat hy maar warm bly. Nou gooi ek die mince so in die pot sous in en roer. Breek die mince op so fyn as jy kan en laat die pot kook. Die gaan nou regte vaal mince wees. Na so 5 minute is die mince mooi fyn en gaar. Onthou, mince is gewoonlik maar taai vleis en ek kook dit dit altyd goed om lekker sag te word. Gooi nou nog 'n koppie water in die sous want dis nogal dik. Jy wil 'n sous kry wat amper soos room lyk. Roer goed.

Nou is dit tyd om die sous te begin proe ... kanse is dat dit nie regtig lekker gaan wees nie maar die geheim is om dit van 'n kant af reg te maak ...

Eerste gooi ek bietjie asyn in en proe ... jy wil die suur net begin proe. Volgende gooi ek suiker in, begin met een teelepel. Proe ... jy wil die soet en die suur proe. Sodra jy dit mooi gebalanseer het dan weet jy die basis is reg ...

Nou kan jy ander speserye insit waarvan jy hou ... maar moenie sout insit nie ... dit kom heel laaste.

Jy kan chutney bysit, Worcestershire sous, soy sauce en chili sous. Dit waarvan jy hou.  So bietjie kerriepoeier is ook lekker.

Laaste toets jy nou vir sout en ek het gevnd dat as ek so teelepel sous vat en dan bietjie sout op dit strooi en proe kry ek 'n goeie idee van wat om te doen. Onthou sout verbreed die smaakprofiel ... dis wat sout doen.

Nou is die sous reg, miskien dalk nie dik genoeg nie maar dis nie 'n probleem nie. Draai die plaat bietjie stadiger en laat prut terwyl ek my aartappels in die mikrogolf gaar stoom ... dit vat so 10 minute.

Terug na die sous toe. Draai die plaat op en kry die sous baie warm ... as dit goed borrel, gooi al die gekerfde kool in, rooer goed en sit die deksel op, skakel die plaat af. Die neem so 5 minute.

Nou skep ek die borde op, breek die aartappels oop en strooi gemaalde swart peper oor en as jy wil, so lekker blêrts botter. Skep die slaaisous oor die slaai.

Die vleis sal nou reg wees. Jy wil nie die kool heeltemal pap gekook hê nie.

Laaste skep ek die vleissous en kool oor die aartappel ... lekker sopperig.

En daar is dit ... geurig, gesond en dit kos nie 'n arm en 'n been nie.


Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.

Dinsdag 06 Oktober 2015

Snaxie - lekker Corn Dogs

Man Kos is mos iets wat maklik geëet kan word ... vat dit sommer so met die hand en daar gaan jy. Nou hierdie Amerikaanse snaxie is baie lekker en verseker pure Man Kos.

Corn Dogs
Met al die publisiteit rondom al die goed wat ons mag eet en wat ons nie mag eet nie en dit wat ons verseker gaan dood maak en dit wat ongetwyfeld vet maak, word mens soms erg depressief as jy net aan kos dink.

Vir my is die belangrikste reël dat ek moet darem 'n redelike goeie idee hê van waar kom my kos vandaan. So het dit dan gebeur dat ek oor die laaste klompie jare al die gewone worsies, polonies, hoenderlewers, burger patties en viskoekies vermy soos die pes. Die goed leen hulle by uitstek daartoe dat ons allerhande gemors gevoer kan word en ons is salig onbewus daarvan.

Beslag in die glas
Hier in Nelspruit is 'n slaghuis, Meat Delights ... en by hulle koop ek die worsies waarvan so baie van ons hou. Ek vertrou die slagter dat sy nie long, poepol en tong in my worsies sal sit nie en dis goed genoeg vir my.

Rol in die meel
Corn Dogs is uit en uit 'n Amerikaanse skepping en die laaste klompie jare sien ons dit by feeste en Saterdag Markte. Sover ek kon vasstel is die naam Corn Dog blykbaar omdat daar mieliemeel in die beslag gesit word. Ek sit Jan Pap se Braaipap meel in myne want dis lekker grof. Jy kan enige mieliemeel insit wat jy het, ek sien dat sommige mense polenta in sit.

In die diepvet braaier
Nou wat presies is die Corn Dog ... dis eenvoudig ... bloot net 'n worsie wat op 'n stokkie gedruk word, in die beslag gedoop word en dan in diepvet gebraai word. Klink eenvoudig maar jissie ... dis lekker.

Die belangrikste ding is dat jy moet jou beslag aanmaak en dan gooi ek dit in 'n glas, 'n Glas wat diep genoeg is sodat die worsie mooi in die beslag ingedruk kan word. Dis belangrik want anders gaan jy sukkel. Tweede ding is, maak seker jou gekose worsies is mooi droog, ek droog hulle af met papierhandoek. As jy dit nie doen nie gaan jy probleme kry met die vog in die diepvet en jou beslag gaan nie lekker klou nie. Laastens is dit nodig dat jy die worsies in koekmeel rol voordat jy dit in die beslag doop.

Nou as jy al die dinge gedoen het dan kan jy redelik seker wees die braaiery gaan goed afloop. Ek maak my olie so 175C to 180C warm. As jy nie 'n diepvet braaier het nie, gebruik 'n groot pan want dis belangrik dat die worsie met stokkie en al mooi in die olie kan ingaan.

Hier is die resep ...

6 sausages / hotdogs - Ek gebruik gewoonlik Frankfurters of Russians.
1 Koppie Self Rising flour - as jy nie het nie. Gewone meel plus 1 Teelepel bakpoeier.
1 Koppie Mieliemeel
1 Koppie melk
1 eier
Sout en Peper ... ek gooi ook Braaivleis speserye in.
Olie vir die diepbraai.

Gooi alles in 'n bak en meng goed. Dis 'n baie stywe beslag en dis wat jy soek.

Steek nou stokkies in die worsies en doop in die beslag. Dan olie toe. Vir so 7 tot 8 minute. Moenie die olie te warm maak nie want dan gaan die deeg brand.

Hier is 'n video van hoe dit gedoen word ... Corn Dogs

Ek het al omtrent al die worsies wat hulle maak so gebraai, ek hou nogal van die Russians maar my familie verkies die gewone Frankfurters.


Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.



Maandag 21 September 2015

Kaboem mielies - Dis hartskos wat baie min mense nog ken



Die aanvanklike pakkie mielies.
Na so 3 ure se kook
Nog 'n uur later
Die finale produk
Nogal 'n belangrike ding vir my ... lekker kos. Maar daar is tye wat lekker beter gedefinieer moet word en hierdie is een van daai tye. Hierdie is kos wat ons nie maklik by eetplekke kan kry nie en om die waarheid te sê, dis 'n kookkunsie wat besig is om in die vergetelheid in te verdwyn. Ons leef mos in 'n tyd wat alles so vinnig as moontlik, met so min moeite as moontlik en soveel gemak as moontlik voor berei moet word. Ons laat toe dat die verwerkers ons kos half-gaar op die rakke sit en vergeet sommer maklik van al die gif wat hulle moet bygooi sodat die goed darem na 7 weke nog eetbaar lyk.

Kyk, ek is 'n man wat baie lief is vir lekker eet en ek kan 'n goeie bord kos luidkeels prys. Ek kan enige goed voorbereide dis met genot eet en laat almal duidelik verstaan dat ek dit baie geniet. Van 'n eenvoudige toebroodjie to 'n komplekse vyfgang maal ... elkeen kan my met verwondering laat staar na die skepping.

Een van my groot liefdes is om self te kook en ek doen dit met oorgawe en toewyding maar tog met 'n groot mate van gemak en sonder teatrale bewegings en bewoordings. Terselfdertyd het ek 'n slegte eienskap en dis die laksheid om 'n resep te volg ... nee jong ek kry 'n idee in my kop en dan is dit voorwaarts. Sonder om nou erg windgat te klink moet ek sê, min kan my klop as dit by kookvleis en maalvleis kom ... seker maar die remnante van 'n ernstige brandarm jeug.

Maar nouja laat ons terugkom na die punt toe ... KABOEM MIELIES ... 'n woord wat meeste Afrikaners goed ken maar 'n begrip waarmee nie meer so baie vertroud is nie. Moenie stamp mielies of mielie gruis hier inbring nie want dis heeltemal iets anders en goeters wat hulle eie soortige vreemde gedrag vereis ten einde die eindproduk eetbaar te kry. So tussen ons ... ek is 'n meester met die goed ... weereens te danke aan daai armgat verlede van my ... 'n verlede waar vleis vir lang tye net 'n gedagte was. (Goeie tye daai.)

Jou heel eerste probleem gaan wees om die regte mielies in die hande te kry waarmee jy kaboem mielies moet maak. Ek het gevind dat as jy by die kleinerige saadhandelaars kan uitkom wat boontjies, gort, koring ensovoorts verpak vir menslike gebruik dan het jy 'n goeie kans om die regte mielies in die hande te kry. Jy soek heelpit geel mielies. Wit sal ook werk maar geel is die regte een.

Moenie dink mielies is soos koring, rys of lensies nie ... nee heel mielies vermenigvuldig gladnie so kwaai nie. My ondervinding is dat die rou volume en die gaar volume omtrent twee to drie maal meer is. So moenie nou gaan en net a halfkoppie rou mielies uitmeet nie.

Om kaboem mielies lekker sag te kry moet jy die rou mielies vir so 12 ure in water laat week ... meeste reken koue water maar ek tap warm water uit die kraan in die pot. O ja die pot ... jy soek a lekker swaarboom pot, hy moet 'n paar uur op die stoof sit sonder om alles te verkool. Ek werk net met swart potyster potte. Nou die fotis wat volg is vir die voorbereiding van drie koppies rou mielies.

Hierdie stap moet gebeur die aand voor jy die mielies wil opdien. Plaas die mielies in die pot en laat loop die warm water kraan in die pot in terwyl jy die mielies goed roer met jou hand. Die stof en stronkies en slegte mielies dryf na bo en spoel oor die rand van die pot. Hou aan tot jy sien die mielies en water lyk skoon of tot jou hand so brand dat jy na die brandewyn bottel begin loer.

Dreineer nou al die water af en sit nuwe water in ... bedek die mielies omtrent met vier vingers water ... lekker baie. Sit die deksel op die pot en laat staan nou die pot vir 12 ure of so.

Die volgende dag dreineer jy die water af en sit nuwe water in, weereens vier vingers bokant die mielies. Strooi twee eetlepels lekker growwe sout oor die mielies. Sit die pot nou op die stoof en stel die plaat op sy heel koudste ... ek praat nou van gas, 'n baie klein vlammetjie. Die deksel moet mooi toe wees. Na sowat 45 minute sal die water fyn borreltjies begin kook en dis reg ... hou so aan vir drie ure.

Nou is die tyd om besluite te neem. Op hierdie stadium sit ek so opgehoopte eetlepel regte botter in die pot. Roer dit sodat die botter heeltemal smelt en sit die plaat af. Jy kan nou ook so eetlepel of wat kondensmelk insit ... dis wat ek gedoen het.

Laat die pot nou maar staan met die deksel toe want jy het nog so 30 minute se kooktyd oor en dit kan jy doen as dit nou nader aan jou regte eettyd is.

Sodra jy begin voel dis tyd vir eet kan jy nou een van die volgende dinge doen ...

a. Kerf bacon in vlenters, braai vinnig crispy en sit dit in die mielies.
b. Sit so lekker dubbelhand natterige, vetterige gekerfde biltong in die mielies.
c. Dreineer die water af van geblikte heel boontjies en voeg die boontjies by die mielies.

Sit nou die plaat weer aan en nou moet jy 'n oog op die pot hou want verseker wil jy nie die mielies nou brand nie. Roer die mielies gereeld maar wees versigtig, jy wil dit nie pap karring nie. Die deksel moenie op die pot wees nie want nou wil jy die vog laat uitkom. Sodra jy kan voel die mielies is goed warm, sit die plaat af ... dreineer al die vloeistof af en maak die deksel toe. Nou moet jou ander kos reg wees want al wat oorbly is om weg te lê.

OPSOMMING:

Mielies
Water
Sout
Botter
... en geduld. Die ander goetertjies is maar net om dit meer lekker te maak.

Ek stel voor dat jy maar 'n ordentlike pot vol maak want dis baie moeite en dit wat oorbly is reg om in porsies in plastiek sakkies te sit en te vries vir latere gebruik.

PS ... 'n Baie lekker variasie is om kaiings in te roer in plaas van bacon maar nouja ... waar kry mens dit as jy dit nie self kan maak nie.

Volgende sal ek 'n basiese vleispot aanmekaar slaan.
Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.

Donderdag 17 September 2015

Hoender - Maklike braai

As jy die woorde hoender en braai saam gebruik dan is daar dadelik sommer 'n klomp stories wat reg moet wees. Ek is baie lief vir hoender stukke op die vuur en het so bietjie gefokus en een van my geliefde Man Kos resepte gebruik en die fotos geneem. Hierdie is my tuisgemaakte Flame Grilled Chicken en ek weet presies wie het wat met die hoender gedoen.

Hoender stukkies in die rooster
Ek glo dat almal op hierdie stadium baie seker is oor een ding, en dis dat rou hoender defnitief nie aanvaarbaar is nie. Menige koker is al huistoe gestuur by kompetisies oor rou hoender.

As jy hoender wil braai dan het jy 'n goeie vuur nodig wat dit lank en stadig kan doen want anders is die hoender verkool voor hy gaar is. Ek het nie die tyd vir dit nie en het 'n kortpad uitgewerk.

Nou die goed wat jy nodig gaan hê om hierdie Man Kos Hoender te maak is 'n mikrogolf oond, een of ander tipe van stomer en 'n braaier. Ek gebruik al sedert 1982 hoofsaaklik gas braaiers want ek is lief vir braai maar my werk maak dit hoogs onprakties om vuur te maak en te wag vir die kole. Ek maak vuur as ek op vakansie is.

Soos gewoonlik is hierdie nie 'n formele resep nie maar gaan dit meer oor die metode.

Amper gaar
Mens kry mos sulke pakkies met vier boudjies en vier dytjies in ... dis die hoender wat ek hier gebruik het.

Eerstens vryf ek speserye in al die stukkies in, as jy onseker is oor wat om te gebruik is Robertsons se Chicken Spice 'n goeie begin. Ek gebruik enige gemengde braai speserye maar die ding is dit ... moenie skaam wees met die speserye nie. Gebruik waarvan jy hou.

Pak nou die hoender stukkies in jou stomer en dan mikrogolf oond toe vir 8 tot10 minute. Ek is seker sommiges frons nou vir die mikrogolf storie maar die praktiese deel is dat nou weet jy jou hoender is verseker mooi gaar. Kyk, dit is verseker bleek en vaal en lyk nie baie aantreklik nie maar dit is gaar. As jy nie 'n stomer het nie kan jy die stukkie in 'n Ziplock sak sit, gooi so drie eetlepels water by en seel die sak. sit die sak op 'n gepaste bord wat die mikrogolwe kan hanteer en steek so paar gaatjies in die bokant en sit dit in die mikrogolf oond.

Lekker Flame Grilled
In 'n mengbak, gooi nou tamatiesous, sweet chili sous, Worcestershire sous, en bruinsuiker bymekaar. Meng dit goed met 'n draadklitser. Ek gooi ook Tobasco en Chili Sous in die mengsel ... hy gaan vir jou hel warm proe in die bak maar dis lekker as jy klaar gebraai het want daar is nie teveel van die sous op die eindproduk nie.

Nou gooi ek weer speserye op die gaar hoender en sit dit in 'n glasbakkie ... gooi die sous mengsel oor en maak seker elke stuk is goed gesmeer. Ek laat dit so lê vir omtrent 30 minute ... genoeg tyd om die res van die kos gou aanmekaar te slaan.

Hoender sonder baie moeite
Nou braaier toe. Vuur kan maar taamlik warm wees, onthou die hoender is gaar, jy wil dit nou net daardie lekker Flame Grill afronding gee. Pasop net, die marinade brand maklik want daar is baie suiker in, so draai maar vinnig en gereeld. Ek verkies dit deesdae om die stukke in 'n toeknyp rooster te plaas. Dit laat my toe om die hoender vinnig en sonder moeite te draai.

Afhangende van die hitte van jou vuur en jou smaak, behoort die braaiery so tussen 10 en 12 minute te neem. Ek hou van die bietjie verkoolde stukkies.

Jy kan die stukkies gereeld maar smeer met die marinade sousie as jy wil.

En daar is dit ... jou eie Flame Grilled hoender stukke sommer in 'n japtrap by die huis.


Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.


Sondag 16 Augustus 2015

Steak - 'n Man Kos Feesmaal

Ek het al in die verlede genoem dat my Poppie reken mos dat 'n man eintlik net vleis en brood wil eet. Nouja, sy is nie regtig verkeerd nie ... die Grotman in my is 'n vleisvreter en daar is niks wat ek daaraan wil doen nie.

Man Kos Feesmaal
Soos ek ook voorheen al genoem het, is ek op 'n mission om lekker kos te maak, smaaklik en vullend, sonder om die bank te breek. Kos is besig om baie duur te word en prima kos raak soms onbetaalbaar. Steakhouses ruk jou 'n lelike bedrag vir 'n goeie stuk steak en menigmaal is ek erg bedonnerd as ek by die deur uitloop ... so R450.00 later vir my en Poppie en dan was dit ook nie regtig die geld werd nie. Dis die probleem vir my, ek kan self die meeste goed maak op die spyskaart en gewoonlik nog beter as wat hulle bedien.

Nou vandag gaan ek maak soos Poppie sê en vir ons vleis en brood maak ... maar dit is vleis en brood sos wat jy nie maklik op 'n spyskaart sal sien nie.

Lekker vars brood
Eerste maak ek die brood en botter, ek gebruik a sakkie SPAR Deeg vir die brood ... ek het hom twee dae terug gekoop en in die yskas laat lê ... nou het hy so effe surige reukie aan hom as jy die sak oopskeur ... perfek. Hanteer die deeg nou versigtig en rek hom so effens dat jy so langwerpige deeg kry. Ek smeer 'n bakplaat lekker met so drie eetlepels olyfolie en dan rol ek die deeg versigtig daarin en maak seker die hele bol is goed geolie. Die heletyd werk ek baie sagkens met die deeg sodat ek hom nie te plat laat val nie want die gis is teen die tyd redelik poegaai. Maak jou oond lekker warm, ek sit myne op 210C. Terwyl die oond warm word laat ek die deeg in die pan lê en net voor ek dit insit sprinkel ek fyngemaalde growwe sout oor die deeg ... dis maar hoe ek daarvan hou. Dan gaan die brood in die oond in en ek stel die horlosie vir 20 minute. Na 20 minute draai ek die temperatuur af na 170C vir nog so 15 minute. Die deeg kos so om en by R11.00.

Vars botter
Terwyl die brood bak maak ek gou 'n bolletjie lekker vars botter deur 205ml room af te karring met my elektriese klitser. Jy kan die proses hier gaan lees ... Maak jou eie Botter. As jy Clover se room gebruik gaan jy so in die omgewing van R15.00 betaal ... ek koop ons plaaslike Jersey melkery se room vir R8.50.

Nou vir die vleis ... ek het regtig ultra "rich" gegaan en 'n pragtige stuk verouderde rump gekoop. So net onder die 800gr. Die vleis se prys is R95.00 per kilogram en die stuk wat ek vat is R74.50. Kyk, ek weet dis duur maar dis verseker nie die gehalte wat Steakhouses vir jou gaan aanbied nie ... tensy jy 'n baie spesiale eetplek kry en bereid gaan wees om so in die omgewing van R300.00 per bord te betaal nie.




Pragtige stuk Steak
Dit is 'n pragtige stuk steak en ek bestrooi hom lekker dik met gemaalde swat peper en 'n braai sout mengsel. Dan bietjie olyf olie en ek vryf dit mooi in die vleis in, draai hom om in die bak en doen dieselfde aan die anderkant. Nou laat ek die bakkie met vleis rustig rus op die toonbank. Die beste is dat die vleis nou kamertemperatuur bereik voor jy dit op die vuur sit.

Reg vir die vuur
Die brood is reg en die botter is in die yskas.

Nou gaan die steak vuur toe ... en dit moet a warm vuur wees. Hierdie deel van die proses moet jy maar liewer konsentreer want die steak gaan so om en by tien tot veertien minute op die vuur wees. Hierdie steak vereis jou volle aandag en is nie reg vir die normale braai aande nie want dan gaan jy die vleis oordoen.










Lekker warm vuur
Nou is die vleis reg en ek laat dit nou rus. Ek laat die vleis so sewe minute rus. Dis die tyd wat ek die borde regsit, die brood sny en die botter uit yskas haal.







Uitgerus en opgekerf
Ek vat 'n plank en maak so paar hopies sout, speserye en vars kruie blaartjies. Dan plaas ek die steak op hierdie plank en sny dit in mooi repies. Die is nou plankie steak uit die boonste rakke.

Die vleis was murg sag en daar het so paar repies oorgebly vir 'n lekker toebroodjie later.

Die ete se bestandele het R94.00 gekos ... vir twee mense is dit gladnie sleg nie, veral as jy in gedagte hou dat dit prima bestandele is en daar het vleis oorgebly. Nou na ek die storie geskryf het, is dit vir my meer duidelik as voorheen ... ek sal nie sommer steak bestel by 'n eetplek nie.

Sommige mense kan dalk frons oor die gebruik van SPAR deeg ... wel, ek kan brood van "scratch" af bak maar vir my is die vraag, teen die prys vir die sakkie deeg ... waarom moet ek dit doen ... ek is steeds van opinie dat die manier waarop jy bak die grootste deel vorm van die sukses van die brood.

Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.

Vrydag 31 Julie 2015

Vark - Kaiings is en bly lekker

Omtrent 'n jaar gelede het ek die eerste storie oor kaiings geskryf en die storie is een van die gewildstes op my blog. Vark - Kaiings is onweerstaanbaar vir my. Gaan lees dit gerus.

Niks so lekker saam met pap soos kaiings nie.
Sedertdien het ek vele navrae oor dit gekry en die grootste probleem was die prys wat ons moet betaal vir die rou kaiings. Die vernaamste rede hiervoor is dat varklies mos deesdae 'n lekkerny geword het en die slagters vra 'n premium prys daarvoor. Weg is die dae to varklies as 'n goedkoop snit geklassifiseer was.

So kom dit dan dat ek Woensdag dorptoe gaan en 'n draai maak by die nuwe Eskort Vleiswinkel in Riverside ... daar waar Fruit en Veg was.

Natuurlik is ek van mening dat hier darem a goeie klompie vark snitte sal wees ... maar my oë rek ... hier is baie meer as net varksnitte. Soos mens kan verwag is daar a menigte van die bekende en ook onbekende ESKORT produkte.

Kyk daardie prys !
En toe sien ek dit raak ... Pork Back Fat ... R29.95 / kg ... wow ... dis 30% van wat ek betaal vir die varklies kaiings. Toegegee, daar is minder vleis in maar die feit is ook dat mens kaiings maak vir daai lekker klein sagte vet klontjies met die krakerige velletjie oor. So ek koop 'n pakkie wat so net onder die 1.3 kg is en dit kos 'n skamele R37.91. As jy so bietjie meer vleisies wil sien in jou kaiings kan jy 'n klein pakkie van die Stirfry koop wat hulle aanhou en dit by die vet in sny.

Ek maak kaiings hoofsaaklik om die skoonvet te kry want ek gebruik dit baie plekke in my kokery in plaas van botter, margerine of kookolie.

So hier het jy dus die geleentheid om kaiings te maak teen 'n baie bekostigbare prys. Ek gaan nou nie weer die hele proses beskryf nie want dis volledig gedoen HIER ...

Hier volg 'n reeks fotos wat die proses wys.


Jy het 'n lekker skerp mes nodig.

Sny alles mooi in blokkies

Ek gooi braai speserye op.

Nou is dit tyd om die vlam kleiner te maak.

Heerlike kaiings.

Lekker skoon varkvet.

Nou sal ek baie meer gereeld kaiings maak.


Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.