En so gebeur dit toe ... byna twee maande se wag is verby. Vrydagaand 30 Mei 2014 om 19h00 en die
SOUSTREIN trek in Nelspruit in. 'n Mens kan die opgewondenheid byna voel en die geure van kos meng met die stemme ... hier gaan geeet word.
|
Die STOEP ... die SOUSTREIN trek in ... |
Die gaste is reg by die peron by die STOEP en die Laeveld het ons geseën met 'n pragtige aand. Nie 'n windjie nie en net lekker.
Die gaste gesels met gedempte stemme en almal wonder wat presies hulle moet verwag. Die is 'n nuwe ding vir die meeste en die rumours oor die geregte laat party nogal frons. "Olyfgrond" op die bord ...
Drankies word bestel en die geselskap begin bietjie meer ontspan ... mense begin oorkruis by tafels gesels en stadigaan begin die groepie aan mekaar gewoond raak en word een.
|
Verwelkoming en spyskaart bespreking ... |
En toe is
Renette daar ... 'n klein vroutjie met 'n groot hart. Haar glimlag verhelder die omgewing en die mense hang aan haar lippe terwyl sy die spyskaart met hulle bespreek.
Vreemde dinge word genoem en met "gusto" bekryf en die mense begin hulle lippe aflek. Een ding is verseker ... vanaand gaan daar kos met siel op die borde wees ... Renette se siel want dis duidelik dat sy haar hart in alles insit wat ons gaan eet.
Nou begin ek regtig opgewonde raak ... ek het gehoor van dinge en kombinasies wat ek gladnie ken nie.
|
Tamatie teksture ... |
Amuse Bouche: Tamatie Lollies, Bloody Mary Jellies en Tamatie Macchiato.
As mens na Renette se beskrywing luister dan vorm daar 'n prentjie in jou kop maar jy kan regtig nie die smake voorspel nie want vir die meeste van ons, wel, verseker vir my, is die iets wat ek nie ken nie.
Tamatie teksture kan ek in my gedagte sien maar Roosmaryn karamel suiker ... dit moet ek ervaar ... en dit alles op 'n stokkie.
En die Bloody Mary Jellie ... Worcestersous, Seldery en Tabasco ... dis bekend vir my maar in 'n jellie ?
Dan is daar die Macchiato ... 'n woord wat ek al baie gehoor het maar nog nooit geproe het nie. Roosmaryn, Basil skuim ... vreemd vir my.
So dis met groot afwagting dat ek die tamatie lollie hap. Die krakende karamel en sagte tamatie vermeng en my brein moet in hoogste versnelling ingaan om die smaaksensasie te ontsyfer. WOW !
Volgende is die Jellie en hier gaan dit makliker want die smake is goed bekend vir my ... net sonder die tradisionele Vodka.
Laastens is die klein koppietjie met die groot skop ... jissim dis lekker. Ek kyk rond en orals sien jy net glimlagte ... wel so hier en daar is daar ook 'n frons of twee en dis te verstane ... hierdie was 'n pallet skok vir die meeste van ons ... hierdie is kos verfyning soos wat ons nie aan gewoond is nie ... wel altans die meeste van ons.
Wat verseker is, is dat hierdie eerste gereg die grenslyn getrek het en dis HOOG !
Die plank verdwyn en 'n groot spierwit bord land voor my ...
|
Bief Carpaccio Pêrel |
Bief Carpaccio Pêrel: Beesfillet met Parmesan Vla.
In die middel is 'n mooi helder pienk beesfillet balletjie, lyk mos amper soos 'n tradisonele skilpadjie maar dit is nie ... nee die is dun beesfillet wat styf gespan is oor die mees sensuele Parmesan Vla mengsel.
'n Op en wakker Spesery sous sirkel wat besprinkel is met fyngekapte Seldery hou jou aandag op die pêrel in die middel en heel bo lê 'n Shitake Sampioen ... spierwit en onskuldig.
Maar moenie jouself laat mislei deur die wit dingetjie nie want onder daai kwansuise onskuld lê 'n byna sondige lekkerte.
Vir my wat baie van rou vleis hou was hierdie 'n belewenis ... ek ken carpaccio maar die was soveel meer as net dun skyfies vleis met 'n sousie ... die is nou verseker 'n stasie waar ek weer op die SOUSTREIN sal spring as hy verbykom.
|
Kosteater ... |
Tee Gerookte Geelstert: Geelstert wat gerook is met rooibostee.
Hierdie dis was nou een van die disse wat spesifiek teiken gevat het op die reuk organe van die gaste. Die hele dis is opgedien in 'n glas klokkie. Die klokkie het gewarrel met rook en almal het in verwondering na die bord gestaar.
|
Reuke en geur sensasie |
En toe lig die eerste gas die klokkie op en almal volg haar ... die fantastiese rook geur vul die lug en jy sien net tande soos die gaste glimlag. Hierdie was nou teater ... kosteater.
Die Geelstert is opgedien op swart rys en gebaai in 'n heerlike Sesame Mayonnaise. Die groen blaartjies gee nie net kleur nie maar sit nog so ekstra bietjie smaak by 'n dis wat reeds oorloop van geur en smaak.
|
Gerookte Geelstert |
Ek is nie 'n groot voorstander van gerookte kos nie en sê altyd ek rook liewer 'n Camel. Hier het Renette my egter 'n les geleer wat ek nie gou gaan vergeet nie, indien ooit ... gerookte kos klop 'n Camel enige dag op enige plek.
Die vis was perfek gaar gemaak en die swart rys het geur en tekstuur gehad wat vêr by my verwagting verby geskuif het.
Die mayonnaise was ryk, lekker en net genoeg.
Soos een gas opgemerk het ...
"Die is iets wat ek nie sommer van die spyskaart af sou gekies het nie en dit sou 'n moerse fout gewees het."
En ja ... ek stem honderd persent met hom saam.
Op die stadium het die kombuis laat weet dat daar nou so 15 minute pouse gaan wees voor die hoofgereg opgedien sou word en die regte rokers het almal buitentoe gestroom om so bietjie litte te rek en om die nikotienvlakke net op standaard te kry.
In die rokerskring is daar net kos gepraat en dit was vir my goed om te hoor hoe die gaste baie van die fyn nuanses van die geregte opgetel en ervaar het. Natuurlik was alles nie in almal se smaak nie maar almal was dit eens ... dit was 'n kosavontuur wat hulle vir geen geld sou wou misloop nie.
En toe kom die hoofgereg. Die was deelkos soos Renette dit bekryf en het beteken dat paartjies of groepies saam bedien is met 'n plank waarop die groente uitgepak is.
|
Trio van vleis ... Man Kos vir my |
Hoofgereg: Springbok met Roosmaryn krummel. Eend met Kumkwat Lemoen sous. Earl Grey Varklies. Groentetuin op olyfgrond.
Aanvanklik toe ons die SOUSTREIN ete beplan het was daar 'n paar mense wat gereken het dat ons net moet onthou, hulle is groot eters en toringkies kos gaan hulle verseker dwing om die naaste Takeaway Joint te gaan opsoek.
Wel, een ding is verseker ... na die hoofgereg was daar niemand wat aan Takeaways gedink het nie. Die bord was gepak met drie soorte vleis en die porsies was mildelik of "generous" soos die slim chefs dit sou genoem het. Die was nou
Man Kos vir my.
Die Springbok was geurig en die olyfkrummel was bros en krakerig. Ek is nie 'n olyf eter nie maar Renette het my gewys dat olywe lekker kan wees as dit reg opgedien word.
Die eend was vir my die Dish of the Day ... eend kan mos soms aan die geil kant wees maar Renette het daai geilgeit ordentlik getem. Die eend was sag en sappig met 'n lekker bros korsie. Die Kumkwat sous was werklik "stunning" ... lekker geurig en net taai genoeg om die eend mooi te bedek. Elke happie was soos 'n hele partytjie vir my.
Ek hou baie van varklies en Renette het my 'n kishou geslaan met haar voorberiding van die lekkerny. Die tee geur het gehelp om die vleis te geur en vir my my was die eend se onbaatsigtige porsie lemoensous 'n werklike bonus. Ek is mal oor 'n soet sous saam met vark.
|
Groentetuin op Olyfgrond |
Die groente het uitdagend gepronk op die hopie olyfgrond en die soutkors aartappel was 'n pragtige verrassing. 'n Regte aandag trekker wat die mense laat praat het.
Na die stewige bord kos het ek weer saamgetou na die rokerskring toe en die manne kon nie uitgepraat raak oor die bord kos nie.
Een man reken toe mos ...
"
Vir so bord kos sal ek 'n Ystervark kaalgat ry om by die eetplek uit te kom."
Ons slenter terug tafel toe want die nagereg word nou bedien.
|
Nagereg |
Nagereg: Lemoenstroop koek. Yogurt hangop kaas. Sjokolade lollie en gestoomde melk. Lemoen Jellie.
Die nagereg was interaktief in die sin dat jy jou sjokolade lollie self in die gestoomde koppietjie melk moes in roer om 'n heerlike ryk drankie te maak wat jy kon drink.
Die nagereg was lig en lekker en 'n goeie afsluiting vir 'n lekker maaltyd.
Wat vir my die beste was, was om te sien hoe die mense na die ete nogsteeds bly sit het en lekker gekuier het. Dit is mos die groot toets van lekker eet ... kan ons na die tyd nog kuier en dan dik vriende uitmekaar gaan.
|
Moeg maar gelukkig |
Renette het ons verseker nie terleurgestel nie en ek voel regtig jammer vir die wat die SOUSTREIN gemis het. Ek is seker almal wat daar was het iets nuuts geleer oor kos en verseker iets ervaar wat hulle nooit geken het nie.
Renette se sprankel geaardheid en haar liefde vir kosmaak het weereens verseker dat die gaste die geleentheid baie lank sal onthou.
Aan die einde van die aand het sy by ons kom sit en die gaste het almal kom gesels. Ek kon aan haar gesig sien dat sy moeg was maar ek kon ook in haar oë sien dat sy gelukkig was. Wat wonderlik vir my was, was om te sien hoe eerlik sy met die gaste gedeel het. 'n Ware mens sonder tierlantyntjies.
Nouja en toe trek die SOUSTREIN uit die stasie uit en die mense staan op die peron en waai ... heimlik hoop hulle almal dat die SOUSTREIN weer eendag in ons kontrei gaan kom stop.
Dankie dat jy hier gelees het.
Hier is my
Man Kos Facebook bladsy.
Hier is
Renette se Kokkedoor bladsy.