Maandag 21 April 2014

Wors - 'n Boerie moet mos lyf hê

Sit ek so en kyk na die Kokkedoor 2014 program en hulle maak kos by die landbouskou. Nou kyk, moenie my verkeerd verstaan nie, ek besef dat hulle ou gunstelinge nuwe baadjies aantrek en so bietjie meer kultiveer. Maar nouja, vir my is 'n boerewors rolletjie (Boerie in die volksmond) baie meer as 'n pikante happie.

Soos ek al baie gesê het, ek maak Man Kos ... Man Kos wat vrouens ook like.

Alles wat nodig is
As dit by die Boerie kom dan kan ek liries raak. Die Yankees het hulle Hot Dogs en hulle maak TV shows daaroor ... ons het die Boerie en vir my is dit ook iets om 'n Show van te maak.

Lekker uie sousie
Heel eerste ... ek soek nie die poefter rolletjies nie, nee man, geen boerewors wat sy sout werd is gaan met oorgawe in die verpiepte rolletjies in nie. Daar is altyd een of ander probleem. Of die rolletjie staan so skewe bek en met die eerste byt val daar dinge op die grond of die rolletjie verkrummel en los jou met sop en sous teen jou wange af en oor jou vingers. Of hy lyk so mooi opgehoop en "dressed to kill" op die bordjie maar as jy aan hom vat dan gaan dinge "sideways."

Reg vir die Boerie
Nee ... gee vir my 'n rolletjie wat sy man kan staan teen die boerewors. Vir my is die Ciabatta rolletjies die beste. Ek koop hulle by My SPAR of ek maak hulle self.

Eerstens het die Ciabatta 'n ordentlike kors wat die Boerie kan bymekaar hou.
Tweedens kan jy die sagte binnekant uithaal en dan eindig jy met 'n lekker houer vir die sousies en ander aangenaamhede.

Riffelpan met water
Hoekom raak ek nou so langdradig ... wel vir my is 'n Boerie meer as net 'n Hap en Stap storie ... vir my is 'n Boerie 'n ete op sy eie.

Volgende kom ons by die wors. Nou hier is ek ook sommer vol stront as dit by die Boerie se vernaamste komponent kom. Jis man hoe de hel wil jy so krom wors in 'n reguit broodjie sit. Maak mos nie sin nie ... veral nie as jy ernstig is oor jou boerie nie.

Mooi porsies
Die proses begin by die braai van die wors. Die oorgrote meerderheid braaiers gooi mos daai hele rol so op die vuur of in die pan en dan flip hulle hom soos en wanneer nodig. Pure luiheid in my boekie ... pure luiheid sê ek vir jou. Dis mos maklik om daai hele rol mooi te vat en om te draai. Ja dis maklik en jy kry 'n wors met twee gebraaide kante en as jy dit meer as net die twee kante wil hê dan word die wors droog gebraai. Verder as dit dan by die sny kom dan word die laaste ou bietjie voggies ook uitgetap en hoe nader jy aan die binnekant van die spiraal kom, hoe krommer is die wors.
Reguit en vaal 
Lekker sappig

Ek haal die wors uit die pak uit ... trek hom versigtig reguit en masseer hom so bietjie om die reguitmaak meer ontspanne te maak. Dan sny ek die wors om te pas by my broodjies.

Volgende ... en nou is ek nie by 'n braai vuur nie ... sit ek my vierkantige riffelpan op die stoof en gooi koue water onder in die pan sodat net die riffels uitsteek.

Dan sit ek die wors in ... altyd eerste op die gebuigde kant onder. Dis hoekom ek die riffelpan like want jy kan die wors balanseer tussen die riffels. Moenie worry oor die twee punte wat nou effens op wys nie ... sodra die hitte kom gaan die vel begin krimp en die wors reguit trek.

Hol die broodjie uit
Nou sit ek die pan op medium hitte en ek staan wag by daardie pan. Op my stoof is dit genoeg om te braai maar jy kan dal k meer hitte nodig kry. Spoedig begin die water kook en stoom en jy begin ook vetjies sien. Hou hom mooi dop en sodra die wors mooi reguit getrek het, rol hom om. Spoedig is die water weg en die hele wors is vaal. Nou wil jy net so bietjie braaimerke op die wors kry en dan moet dit uit die pan uit. As jy sien dit vat te lank, gee hom gas. Hoe langer jy die wors op die hitte hou, hoe meer smaak gaan jy verloor.

Gedurende die rusproses sal die wors deur gaar word maar steeds lekker sappig wees.

Gooi die sousie in
Nou sit ek van my vulsel/sous in die holte in die Ciabatta. Volgende plaas ek so bietjie ander goedjies by soos gekapte tamatie, avo, kaas ... net waarvan jy hou. Chutney, rissiesous, tamatiesous, mosterd ... almal gewilde keuses.

Vou die Ciabatta toe en siedaar ... lekker ou Boerie toegevou in die perfekte jassie. Nou kan jy maar eet en vrolik wees. Na so een gaan jy verseker nie meer honger wees nie en dis nou regte Man Kos vir my.

En daar is hy ... Man Kos
Nouja ek hoop jy gaan my Boerie met Muscle probeer.

Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Blad.




Man Kos wat vrouens ook like












Sondag 20 April 2014

Brood - Toasties vir die manne

Ek het al so paar keer gepraat oor die lekkerte van brood en ek het ook al geskryf oor hoe ek toast maak.

Hier is my storie oor 'n Steak Broodjie.

Vandag wil ek so bietjie verder gaan en stap vir stap mooi verduidelik hoe ek geroosterde toebroodjies maak. My manier is verseker nou nie die beste manier nie maar vir my het dit smaak en tekstuur wat dit in 'n ander klas plaas.

As mens na geroosterde toebroodjies kyk dan is daar so paar dinge wat my die horries gee. Kom ons vat hulle so een vir een ...

1. Die bleek siel ... kyk, as jy my nou regtig wil omkrap dan moet jy vir my so bleekvaal stuk brood gee en dit toast noem. Hierdie ding het my al baie ongeskik laat optree.
2. Die verpletterde siel ... hierdie een is nogal meer algemeen as wat mens so wou sien. Dis waar die toebroodjie in die rooster ingesit is en die operateur doen sy daaglikse krag oefening op die masjien. Die dingetjie kom uit dat hy amper lyk soos twee lagies pannekoek met ietsie tussen in.
3. Die olie lap ... nou hy kan in enige van die twee voriges se klas val maar met die bonus by dat wat ookal daarin gesit was, asook die buitekant is so met die vet besmeer dat dit wat op jou bord of in die pakkie beland my nogal sterk herrinner aan 'n vadoek wat gebruik word om die stoof mee skoon te maak.

Nouja, nou het julle 'n idee van hoe ek na roosterbroodjies kyk.

Hoe dink ek moet 'n roosterbroodjie lyk ?

Eerstens wil ek dit net weer duidelik stel, ek sê nie my idee is reg of die norm waarteen roosterbroodjies gemeet moet word nie maar dis bloot net my opinie ... die opinie van 'n man wat van lekker kos hou !

Dis my opinie dat mens van enigeiets wat jy maak, iets lekker en besonders kan maak. Al wat dit vra is dat jy regtig fokus, baie liefde insit en kook uit jou hart uit. Jy moet so bietjie moeite doen en dink terwyl jy die voorbereiding doen.

Ongelukkig het roosterbroodjies in die klas van vinnige, moeitevrye en maklike kitskos verval. Ja, dis seker in 'n mate nie heltemal verkeerd nie maar dis regtig nie nodig om dit af te skeep en uit te haas nie.

a. Roosterbroodjies moet ordentlik gerooster word.
b. Die broodjie moet smaak en tekstuur hê.

Dis waarmee ek begin
Ongelukig is dit so dat enige vorm van roosterpan wat toeklap, die tekstruur van die brood gaan vernietig. Die brood word warm, effens vogtig en die gewig van die roosterplaat laat alles inmekaar druk.

Nou hoe maak mens om dit te vermy ?

Ek gaan die ou staatmaker van kaas, ham en tamatie doen.

My pan op die stoof
Ek begin met a lekker groot plat pan op medium hitte op die stoof. Geen olie of vet in die pan nie.

Volgende sny ek my brood in mooi eweredige snye. Jy kan dunner of dikker gaan soos jy verkies. Vir my is dit net so knerts dikker as die gesnyde winkelbrood.

Baie liggies gesmeer
Ek smeer baie min botter op die buite kante en sit die twee snye in die pan. Dis belangrik dat die pan nie te warm is nie want jy wil die brood lekker warm laat word en dan 'n korsie bak.

Sodra jy die brood in die pan ingesit het kan jy ietsie op die brood smeer. Chutney, chilli sous, tamatiesous, blatjan of mosterd ... enigeiets wat jy van hou. Maar moenie teveel opsit nie.

Reg vir die vulsel
Nou plaas ek my kaas op die brood in die pan en sprinkel so bietjie gedroogde chili flakes oor en gemaalde swart peper.

Volgend plaas ek die ham op een sny van die brood. Die een gaan die onderkant van die broodjie wees. Op die anderkant kan jy nou jou tamatie skyfies sit en dit geur met sout en peper. Ek sprei ook bietjie mosterd op die ham.

Kaas en ham vir my
Nou moet jy geduldig wees ... moenie rondkarring met die brood nie. Hou dit mooi dop ... spoedig gaan jy sien die kaas begin smelt. Dis 'n goeie aanduiding dat die korsie begin bak.

Heerlik en bros
Lig nou die een broodjie, ek vat die tamatietkant want die tamatie is nou besig om in die kaas in te sak, lig effens op met 'n spaan en kyk of die kors begin bruin word. As dit die geval is moet jy die een nou bo-op die ander een sit. Doen dit flink en versigtig. MOENIE PLAT DRUK NIE. Gee die toebroodjie nou 30 sekondes langer op die kant en dan draai jy die hele toebroodjie om in die pan. Die kante behoort nou min of meer dieselfde te lyk.

Hierdie laatse draai is belangrik want wat jy nou behoort te sien is dat die kaas begin rys tussen die brood en die hele ding so effens op te plomp. Dis perfek.

Poppie like tamatie by
Lig die broodjie nou uit die pan uit en sit dit op 'n draadrakkie neer ... jy wil nou nie hê die brood moet op 'n bord lê en pap word aan die onderkant nie.

Maak jou opdien bord nou reg en dan sny jy die broodjie met 'n lekker skerp mes. Plaas dit op jou bord en bedien.

Kyk na die tekstuur
Wat jy nou op jou bord behoort te sien is 'n pragtige krispie toebroodjie. As jy hom byt gaan jy deur die korsie breek en dan is jy in sagte brood met die heerlike vulsel.

En daar is hy ...

 Man Kos waarvan vrouens ook hou !

Lekker eet
Ja ek weet dis bietjie meer moeite en dit vat meer tyd maar die resultaat is dit alles werd. Op die manier kan jy van geroosterde broodjies 'n lekker maaltyd maak.

Jy kan hoender en roomkaas maak, biltong en kaas ... jis die moontlikhede is amper oneindig. Wat egter belangrik is, is die feit dat jy 'n heerlike broodjie met karakter maak.

Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook bladsy.







Saterdag 19 April 2014

Kurper - lekker vars vis

Die laaste klompie maande kyk ek baie getrou omtrent elke kook program op die TV wat ek raak blaai. Wat my opval van die Engelse en Australiese programme is die groot hoeveelhede vis wat voorberei word. Omtrent elke program is daar vis op die tafel. Nou dit is seker te wagte van lande wat deur die see omsingel is.

Toe begin ek wonder ... hier by ons is die mense wat aan die kus woon gelukkig om 'n goeie voorraad vars vis te sien maar ons in die binneland, neewat jong, vars vis is regtig skaars.

So klompie jare terug het ek koi damme in my tuin gebou en deel van die projek was om dit so omgewingsvriendelik as moontlik te hou. Baie min meganiese filters en ek het 'n groot biologiese dam ingesluit ... hier is geen koi in nie en ek het visse ingesit wat moes help om die biologiese filtrering te bevorder.

Een van die spesies wat ek ingesit het was Vleikurpers. Maar nouja soos met baie van ons planne het die een ook nie presies uitgewerk soos ek beplan het nie en spoedig het die kurpers versprei na al die damme toe. Hulle doen 'n goeie werk met die biologiese proses maar hulle sit ook 'n redelike las op die stelsel want hulle dra by tot die bio-massa.

Vleikurper
So kom dit toe dat ek jaarliks die kurpers begin oes. Ek haal so tussen 25 en 30 kilogram kurpers uit aan die einde van die herfs.

Baie van ons mense trek hulle neuse op vir enige varswater vis en dit is jammer. Ek weet nie waar kom die renons in varswater vis vandaan nie en ek dink baie van dit is meesal snobisties.

Vandag gaan ek julle wys wat ek met die kurpers doen.

Vir my tafel haal ek die uit wat omtrent so groot soos my hand is ... hulle is so 12 to 18 maande oud. Onthou dis vleikurpers en word nie so groot soos die bloukurpers nie.

Rol in gegeurde meel
Maak die vis skoon en sny die koppe af. Jy kan natuurlik die koppe gebruik om vir jou "stock" te kook.

Volgende gooi ek sout, peper en Robertsons Mixed Herbs in koekmeel en meng dit goed. Dan rol ek die visse in die meel en maak seker dit bedek die vis mooi. Geen eier of melk nie. Ek wil nie regtig a deeg omsit nie, net so bietjie meel vir die speserye.
In die pan

Volgende smelt ek 'n stewige klompie botter in sonneblom olie. Sodra die pan warm genoeg is, dan sit ek die vis in. Ek soek so medium hutte, die botter meot net lekker skuim maar nie brand nie.

Eenkant is gaar
Dis vir my belangrik om nie rond te voeter met die vis nie ... laat dit rustig lê en stadig braai totdat die meel goudkleurig raak. Dan draai ek dit om. Sowat 4 minute aan 'n kant. Hierdie metode gee nie 'n kraak vel nie. As jy dit teveel braai word die vis te droog.

Sodra die vis gaar is haal ek dit uit en plaas op kombuispapier sodat die olie bietjie kan uitloog.

Ek eet die vis gewoonlik saam met vars brood en botter maar jy kan dit bedien met slaai, tjips, maak 'n pastei of 'n toebroodjie.

Mooi gebraai en heerlik
Die vis is heerlik. Vermy die sagte vel en ook die deel reg onder by die pens. Dis hier waar die gevreesde moddersmaak kan sit. Hierdie vis en dis waar vir al ons kurpers, het net 'n rugraat en ribbekas, niks van daai duisende graatjies wat jy in karp en geelvis kry nie. Dis lekker groot vlokke en vir my is die smaak heerlik.

So volgende keer as die familie of vriende gaan visvang, vra hulle om vir jou 'n kurper of twee saam terug te bring. Miskien ontdek jy iets wat jou gaan verras.

Heerlike man kos ... vars uit die dam uit
Lekker kook tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my FACEBOOK bladsy.







Sondag 13 April 2014

Varktjops - ek braai dit weer

Soos ek al voorheen gesê het ... ek hou baie van varktjops. Dis vir my 'n groot lekkerte en dit gee my oop die geleentheid om al my lekker konfyte wat ek maak, te gebruik want vir my werk mooi saam met so soetigheidjie.

So rukkie terug het ek 'n lang beskrywing gegee van hoe ek Varktjops gaar maak ... hier is die artikel.

Vannaand gaan ek nie die lang storie skryf nie want alles is reeds gesê in "Varktjops ... groot lekkerte."

Sny die vel mooi af.
Vir my begin die ding al daar in die vleiswinkel. Ek soek my chops mooi uit. Ek soek a mooi vetlagie maar nie te oordadig nie want dan betaal ek teveel vir vet.

Nou by die huis. Kry 'n lekker skerp mes en sny die speklaag en vel af van jou tjop af.

Soos jy kan sien op die foto, ek los darem so bietjie vet oor aan die tjop ... jis mens moet darem dit bykry as jy eet want wat is 'n vark tjoppie nou sonder die ou vetjie.


Vel gesny
Volgende sny ek die vel deur sodat dit blokkies vorm ... kyk na die foto. As jy nie 'n vlymskerp mes het nie kan jy dit knip met 'n kombuisskêr.









Speserye op
Nou gooi ek speserye op die vet repe. Hier kan jy gooi waarvan jy hou maar onthou, die pan gaan baie warm word en jy wil nie goed opgooi wat bitter kan raak as dit bietjie te warm kry nie.









Dan sit ek die spekrepe in my ysterpan ... die pan is koud. Sit die repe neer met die velkant op die pan bodem. Jy wil die vel eerste begin braai want hy gaan opkrul as hy warm raak en jy wil hom eerste so bietjie laat warm kry.

Ek gooi so twee eetlepels water in die pan en sit die vlam aan. Nou is nie 'n goeie tyd om rond te gaan loop in die tuin nie want jy moet jou oog op die vel en vet hou anders gaan dinge verkeerd loop.


Spek is in die koue pan

Die vel het nou begin braai

Klaar gebraai

Jy moenie toelaat dat die pan erg oorverhit en jou vet en speserye brand nie want nadat jy die vel repe uit die pan uitgehaal het gaan jy die tjops in dieselfde pan braai. Geur jou tjops soos jy daarvan hou en sit dit in die pan. Moenie die pan oorlaai nie want dan kook die tjops voordat hulle begin braai.

Vir my pan en stoof braai ek die tjops so 5 minute aan 'n kant.

Tjops is in die vet op die vuur

Lekker gebraai na 5 minute op die kant

En hier is die eindresultaat ... heerlike sappige varktjops met bros en krakerige velstroke. Nou kan jy gerus probeer om ietsie soets saam met die tjops te bedien.

Skep so twee etlepels appelkoos konfyt in a bakkie, gooi so bietjie gemaalde swartpeper, rissie poeier, blertsie balsamiese asyn en 'n halwe teelepel mosterd poeier by. Roer goed en mikrogolf so vir 2 minute. Heerlike soet/suur lekkerte saam met jou tjoppie.

Min dinge wat vir my so lekker is. Jy kan aartappels in enige vorm hier by bedien en ek het klein pampoentjies gemaak met kaneel en marshmallows.

Iets wat ek myself mee forseer deesdae is om nie sommer meer as drie soorte kos op die bord te sit nie. Dit verbloem te maklik die smake.

Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is die skakel na my ... FACEBOOK BLADSY

Hier is die skakel na my ... MAN KOS BLOG




Vrydag 11 April 2014

Hoender - Maaltyd met memories

Nouja ... soos menige ander het ek Donderdagaand voor die TV ingeskuif en geduldig gewag dat Kokkedoor 2 moet afskop. Weliswaar het die hoop nie beskaam nie en die program is reg in die gees van Kokkedoor.

Maar ek gaan nou nie 'n ding skryf oor die program nie, nee ek gaan skryf oor wat dit vir my gedoen het.

Met 'n effense glimlag op my gesig het na die deelnemers se gesigte gekyk toe hulle met die hoender uitdaging gegooi word. Kokkedoor 2014 het afgeskop met hoender resepte.

Moet darem noem ... jis ek het nogal nice pogings gesien en as mens inagneem dat die klomp "Onthou Kokke" se senuwees aan flarde was.

Vanoggend suig ek so aan my eerste Camel terwyl die reuk van koffie om my draai en ek staar uit oor my tuin.

"Wat sou ek gedoen het ?"

Poppie kom in my kantoor in met beskuit en kyk my so skeef aan ... en so wraggies vra sy dieselfde ding.

Gaste ... Andrè en Vera
Dit het my kop laat werk en ek begin ernstig wonder wat sou ek gedoen het. Belangrikste is dat die hoender die ster moet wees en dat daar verseker nostalgie betrokke moet wees. Teen tien uur het ek my planne agtermekaar en stel Poppie in kennis dat ons vannaand gaste gaan hê.






Hier is my spyskaart;

Hoenderhart Stampmielie Risotto
1. Voorgereg: Hoenderhart en Stampmielie Risotto.
Kom sit aan en geniet so terugflits in die verlede in, na 'n tyd toe geld skaars was en basiese kos die enigste was. 







Hoender dye en boudjies met chips
2. Hoofgereg: Ontbeende Hoender Dye en Boudjies met krakerige skyfies.
Nou is ons in 'n tyd waar dit beter gaan en ons beter eet. DIe luuksheid van diepbraai en speserye na hartelus.







Appel Fritters met Suurlemoen Room
3. Nagereg: Appel Fritters met Kaneelsuiker en Suurlemoen Room.
Hoender werk nie vir nagereg nie so ons kies maar koers boord toe met so draai by die melkstal verby.








Nouja, my gaste het dit geniet en ons is dik vriende uitmekaar.

Ek dink ek het die hoender laat koning kraai ... wat dink jy ?

Hier is my Facebook bladsy.

Lekker kook tot ek weer 'n storie skryf.





Maandag 07 April 2014

Karringmelk Beskuit - Hier gaan ek alweer

So tydjie terug het ek die loflied van hierdie heerlikheid besing en vertel hoe ek myne gebak het. Hier is die skakel na die storie ... Karringmelk Beskuit ... Ek stel voor jy gaan lees dit ook as jy die resep soek en ek vertel daar hoe ek die ding gedoen het.

Karringmelk beskuit
Wel Vrydag het ek die laaste een geëet en dus moes ek Saterdag weer bak. DIt is my tweede rondte met hierdie resep en dit gaan vinniger as die eerste keer. So 45 minute na ek die beskuit in die oond gesit het staan ek en kyk na die baksel op die koelrak.

Klaar gedroog en reg vir die koffie
Hulle lyk goed en ek breek die blok op in beskuite en pak in die oond vir die droog proses. Weer dieselfde as laas en so 6 ure latere is dit alles oor en die beskuit is in die houer.

Dis mooi beskuite en hulle proe lekker. Ek soek die wat die donkerste uitgekom het en pak hulle in a sakkie vir my broer. Hy hou van brood en beskuit wat so bietjie "over done" is.

Later die aand sit ek voor my rekenaar met a beker koffie en 'n beskuit en my kop begin werk. Die wat my ken sal weet dat ek hierdie lelike streep in my het om 'n ding te doen tot ek dit reg kry en dan in plaas van om dit daar te laat, raak ek waaghalsig.

Vir my was daar twee dinge wat ek verseker wou aanspreek. Noudat ek die basiese resep regtig onder beheer het was dit tyd om te kom met so paar kinkels. Hierdie kinkel ding het in die verlede al lelik skeef geloop maar dit het ook aanleiding gegee tot baie lekker dinge.

Eerste ding wat ek wou verbeter was die intensiteit van die smaak van die beskuit. Tweede ding was om te kyk of ek nie so bietjie meer "gemoedsrus" in kon sit nie. Dis darem suiwer wit meel die en dit is nie so goed vir my nie.

So is dan ook dat ek vroeg Sondagoggend in die kombuis is. Poppie loer my so skeef aan ...

"Wat nou ... jy het mos gister beskuit gebak ?"

"Ja ek het maar ek wil iets anders probeer."

"Aggenee man ... die goed is mos lekker soos dit is ... wat wil jy nou weer aanvang ?"

Die hoof bestandele
Sy is baie skepties en ek neem haar nie eintlik kwalik nie want sy het al eerstehands ondervind hoe ek 'n goeie ding kan opvoeter met my kinkel stories. Aan die ander kant het sy ook al baie gesien en geproe hoe ek met 'n kinkel 'n ding kan laat spring. Maar nouja, my Poppie sien maar altyd die glas as halfleeg en ek is al gewoond daaraan.

Semels en Cranberries is sigbaar
Eerste vervang ek die karringmelk met "Amazi" ... dis mos dikmelk. Dit het baie meer intense geur en behoort die beskuit se smaak lekker te verhoog.

Volgende gooi ek 'n koppie en 'n half semels in die meel in. Ek gooi een teelepel bakpoeier by.

Dan vir die gesondheid verkrummel ek twee koppies Kellogs Special "K". Ek kap ook 'n half koppie gedroogde Cranberries fyn ... ek soek daai suur smaak.



Mooi baksel karringmelk beskuit
Dit verhoog die droë bestandele heelwat en ek gooi 100gr meer Amazi in en nog 'n eier.


Weereens verfrummel ek die botter in die meel in met my handmenger en toe gaan alles in die mengbak van my Kenwood Chef in met die deeg haak.

Semels is duidelik sigbaar
Nou moet jy maar geduldig wees want dis nie a vinnige proses nie en die menger doen sy ding op lae spoed. Op 'n stadium begin dit vir my lyke of die mengsel te droog gaan wees maak ek los die menger maar uit dat hy aangaan met sy werk.

En dan skielik begin die deeg teen die haak opklim en ek kan sien dis gladnie te droog nie. Nou moet hy maar aangaan want jy wil 'n goeie gladde deeg kry. Na sowat 8 minute klou omtrent die hele klomp deeg aan die haak vas en ek toets dit. Die gluten het mooi ontwikkel en die deeg kan redelik rek. Nou is dit reg vir die volgende stap.

In die vorige baksels het ek die deeg in die pan ingedruk en dan gesny, hierdie een gaan ek maar my luiheid los en die bolletjies maak soos die resep sê.

Nou vir die droogmaak
Op 25 minute draai ek die oond af van 180 na 160. Die beskuit is mooi ligbruin en ek is bang dat dit gaan te kwaai verdonker as ek die temperatuur nie afdraai nie.

Pragtig goudbruin en heerlik
45 Minute later en die beskuit is uit die oond uit. So met die oopbreek slag kan ek sommer sien die tekstuur is mooi en toets a stukkie. Di korsdeel is lekker en die sagte deel het baie meer smaak as die vorige baksel.

Nou weer oond toe vir die droogmaak deel ... 45 minute teen 120 C en die beskuite het a mooi ligte kleurtjie en ek draai die oond af na 60 C toe.

Na sowat 5 ure breek ek eenbeskuit middeldeur en voel dat daar reg in die middel nog so kolletjie is wat nognie heeltemal droog is nie.

Karringmelk Beskuit
Op 6 ure is ek tevrede en sit die oond af. Ek los die beskuit vir nog a uur in die oond om af te koel en toe haal ek die panne uit om heeltemal af te koel.

Soos gewoonlik is daar mos maar so paar stukke wat sleg gereek het tydens die uitmekaar maak proses en die goed trek my soos heuning 'n by trek.

Jis die beskuit is lekker. Die dikmelk werk verseker beter as karringmelk en die semels en Bran gee dit 'n lekker tekstuur.

Nouja ek het die beskuit goed getoets en ek moet sê ek is baie tevrede. Dit slurp die koffie netjies op en daar is duidelike geure en tekstuur.

Ek is tevrede en beskou my missie met karringmelk beskuit nou as afgehandel.

Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy.

Saterdag 05 April 2014

Koffie - Lekker koffie sonder kapsules

Koffie, net die woord koffie laat mens sommer klaar beter voel en laat my dink aan lekker dinge. Boeretroos ... ek wonder waar kom dit vandaan, maar ek weet dis waar.

Koffie en beskuit ...
Nou is daar 'n nuwe ding, koffie kapsules ... ai die goed lyk, ruik en proe goed ... maar o genade ... dis mos nou 'n duur spulletjie die ... sommer niks vreemd vir een koppie om so R8.00 te kos nie ... en dis nou in jou eie plek. Maak nie saak hoe mooi die bemarkers die dinge omtower en opdis nie ... dis darem baie duur. Die oorspronlike masjiene en kapsules was gewaarborgde kwaliteit maar soos met alles het aanvraag ook aanleiding gegee vir "cheaper" opsies om die mark te betreë. En hier kom die moeilikheid, "no-name" kapsules ... "one machine fits all capsules" ... "economic replacement capsules" ... en so spoed die ekonomie voort. Die koffie kapsules ding laat my dink aan die uitbuitery met drukkers en die hervullings ... kyk dis nou rowery vir jou ... hoekom verkoop hulle nie liewers a bulk pack cartridges aan jou en gee die drukker verniet nie ?

Maar wag ... ek dwaal af ... die ding gaan mos nou oor koffie. Ja ek weet die is mos 'n blog oor Man Kos ... maar koffie is mos 'n groot deel van Man Kos ... Man Kos wat vrouens ook like.

Vir my kan koffie nog altyd goeie en lekker gedagtes laat opkom.

Ek dink aan my kinderdae en die moer koffie. Ja ek weet instant koffie is ook moer koffie ... jy moer net water by ... maar ek praat nou van regte egte moer koffie. Die handgemaakte flennie koffiesakkie wat sorgvuldig met die hand vasgewerk is aan bloudraad ring wat perfek om die koffiepot se bek pas. Ek onthou die heerlike geur wat so saam met die stoom opstyg as jy die kookwater oor die hopie moer in die sakkie gooi. Maar ek onthou ook my nukkerigheid as my pa vir koffie vra en die sakkie was nie uitgeskud nie.

Ek onthou ook die erde keteltjie wat so eenkant op my ouma se Aga stoof gestaan het, so eenkant waar hy nie prut nie maar waar hy ook nie koud word nie.

Ek sien my oupa op die stoep, gryse ou man met helder blou oë ... oë wat so vêr oor die lande uitkyk terwyl die son sak en hy slurp die warm koffie so uit die piering uit.

Ek onthou koue wintersoggende op die Hoëveld ... die ryp lê wit oor die grasperk en die windjie wat onder die toedeur deursleep is ysig om my voete ... maar my hande is gevou om 'n blikbeker met vuurwarm koffie waarin daar so klein eilandjie vars Jersey room dryf. Ja my ma het geweet hoe om my te bederf, die ou telepeltjie varsroom wat sy heel laaste in die koffie laat ingly.

En dan later jare toe kom die kitskoffie en baie van die magic van koffie verdwyn saam met die kits ding. Maar die kits koffie het sy plek volgestaan vir 'n koshuisbrak wat nie vrye toegang tot 'n kombuis het nie en in die laataand dan kook ons water in 'n blikbeker op 'n strykyster. Poeiermelk, suiker en kitskoffie ... 'n lekker blikbeker en die brousel. Ja dit was 'n brousel maar tog het dit 'n belangrike rol gespeel in my opgroei.

En toe my studente dae en daai vervloekste duiwelsdrek wat in die blink kanne in die koffiekamer aankom op gestelde tye. Jissim daai goed was sleg maar ons het dit gedrink en gesels en gekla en nog gedrink.

Ek onthou bike trips waar die reën my in my tentjie vas keer en ek prakseer 'n kookwatertjie op 'n draagbare stofie. En dan terwyl die water klap teen die tentjie sit ek en slurp die warm koffietjie uit die blik bekertjie en voel die warmte so in my maag in versprei.

Hierdie is maar 'n paar van die dinge wat ek onthou as ek aan koffie dink.

Koffie mengsel in die koppie
Deesdae is daar mos nou weer 'n oplewing in koffie kultuur maar ongelukkig slaan hulle ons met duur toerusting en duur komponente.

Ek het al baie keer in die winkel gestaan en so na die masjiene gekyk en gewonder, gewik en geweeg en dan die somme gemaak en weggeloop. Moenie my verkeerd verstaan nie ... ek is 'n ou wat vir goeie mes maklik groot geld uithaal, meer as wat sommige van die masjiene kos maar die wiskunde met die koffie kapsules werk nie vir my nie ... die goed is te duur per porsie en dis al ... en veral vir my wat so vier of vyf koppies koffie per dag drink. Ja en ek hoor die stories ...

"Man die is net vir spesiale geleenthede."

Koue melk op die mengsel
Nonsens sê ek ... so ek moet minder lekker koffie 90% van die tyd drink en dan net so elke dan en wan so ou kapsuletjie uithaal ... nee ... dit maak nie sin vir my nie.

So staan ek en staar deur my kombuisvenster ... dis laatnag en ek het nog 'n paar ure oor voor ek kan gaan slaap. Vroeër die dag het ek vir die soveelste keer voor die toonbank gestaan waar die koffie kapsule masjiene uitgestal word en al die goedjies se stories gelees en weereens het ek net my kop geskud en weggeloop.

Na die mikrogolf sessie
Ek begin die koffie mengsel aanmaak in my koppie terwyl ek wag dat die ketel kook .... en toe dink ek ... hoekom kan ek nie my eie ding uitwerk met dit wat ek hier in my huis het nie. Hoekom moet ek nog masjiene koop wat uiteindelik onder in die kas gaan beland want dit is net teveel moeite om die ding op te fire vir een koppie koffie ... en ja dan is dit ook nog daai prys.

Wat maak die masjiene eintlik ... hulle kook water of melk, maak stoom of skuim en so tower hulle 'n koppie koffie op en dit teen 'n moerse prys.

Ek kyk na my bestandele ... 1 teelepel goeie kitskoffie ... ek drink deesdae Douw Egberts, op sigself alreeds aan die duur kant maar dis vir my lekker en verseker nie R8.00 'n shot nie. Verder gooi ek twee teelepels suiker in, een teelepel Cremora en dan kookwater en melk.

Nouja ... dis mos basic en almal het dit in die huis ...

Roer die kookmelk mengsel
Op die ingewing van die oomblik gooi ek sommer die koue melk op die mengsel en ek speel nie ... twee derdes van die koppie vol koue melk. Eerste keer en ek probeer die poeiers oplos in die koue melk maar dit maak net klonte en klou aan die teelepel vas. Nee ... dit werk nie ... gooi maar uit.

Vat 'n skoon koppie, 1 lepel koffie, 2 lepels suiker en Cremora. Gooi weer die koue melk in die koppie en sit die koppie in die mikrogolf oond. My oond is groot een en ek weet hy maak melk warm tot net voor kookpunt op 1 minuut.

Ek wag geduldig en toe die tyd om is dryf daar so dik koffielaag op die melk. 'n Vinnige klits met die teelepel en alles is mooi opgelos. Nou maak ek die koppie vol met kookwater. Roer weer.

Ryk en lekker ...
Manne ... en daar staan my tuisgemaakte lattè en hy kos nie R8.00 nie.

Nouja ek doen dit nou so vir die afgelope 18 maande en menige eienaar van a koffie kapsule masjientjie het al met verwondering na my manier gekyk en hulle koppe geskud ... ek weet van een of twee wat lanklaas kasules gekoop het.

Jy kan natuurlik die Cremora en die suiker uitlos en minder melk ingooi maar die basiese idee is om die koffie in die melk te kook en dan die kookwater oor te gooi.

Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook blad.

Wees so vriendelik en "Follow" my hier en SHARE dit ook wyd en suid. Ons maak nie geld uit die goed uit nie maar dis baie lekker om te sien dat lesers die inhoud waardeer. O ja en +1 is ook belangrik.

Lees ook gerus my  Briekmerke Blog