Saterdag 16 Augustus 2014

Suiker - Pak jou vrees vir suiker karamel weg

Krakerig en lekker
Kyk as daar nou 'n ding is wat my die horries gegee het dan was dit as ek die lyn 'n resep raaklees.

"Melt sugar in a pot and caramelise it."

Jissim my hare vlieg sommer orent en ek sien beelde van verkoolde kastrolle en ruik suiker wat brand. Die ding het mos die vuil manier om baie mooi aan te kom en jy staan penregop langs die pot en hou 'n wakende oog op die suiker ... en dan ... die hond blaf en jy kyk op, kyk uit by die deur ... gil op die brak en as jy terugkyk is daar so swartkol in die pot !

Dan is dit maar gooi weg en begin oor. Vanoggend werk ek aan die beplanning van 'n dis wat baie belangrik is vir my en ek soek kraak in die finale produk. 'n Goeie vriend, Sarel, stel voor ek maak 'n neut karamel blok en maal dit fyn. Nouja ... daar sit ek toe ... ek kannie by die karamel verby sluip nie ... die keer sal ek dit moet doen en die ergste is dat ek dit 'n paar keer sal moet doen.

Nouja ek is nie iemand wat myself sommer as 'n puris gaan uitgee nie want ek glo puriste is geneig om tegniese ontwikkeling te strem. Ek spring op Google en begin soek ... en sowaar ... flatervrye karamel is moontlik. En dit is in die mikrogolf oond en dis byna 100% voorspelbaar. So jy kan dit oor en oor doen met dieselfde resultaat.

Lees mooi en dink so bietjie ... en ek is seker skielik gaan daar honderde lekker krakerige happies opgedien word regoor die land. Grondboontjies, neute, bessies, droë vrugte, muesli, biltong, kaiings ... die moontlikhede is legio.

Hierdie is iets waarmee die manne hulle vrouens kan verras. Terwyl sy in die bad is kan jy die aanmekaar klap en sy gaan nie haar oë kan glo nie. Sit chocolate chips in, geglasuurde vrugte ... net wat jou hart begeer.

Al skottelgoed is die een beker, een klein bordjie, een groot bord en jou silikoon matjie of anders kan jy dit maar op 'n bord doen wat goed gespuit is met koekie sprei of op bakpapier.

Een koppie suiker
Hier is die storie ...

1 Koppie suiker en 60ml water in 'n oondvaste maatbeker.

Meng die water en suiker mooi dat jy so slapperige pasta kry.

60 ml water
Sit die beker in die mikrogolf vir 5 minute. Geen roerdery op oppassery nie.

Op 5 minute moet jy kyk ... die vloeistof moet byna die kleur van brandewyn hê. Moenie te donker maak nie want dit verkleur nog verder. As dit te lig is ... gee nog 30 sekondes en kyk weer.

5 minute later
En siedaar ... perfekte suiker karamel sonder die gemors en senuwee ineenstorting.

Ek gooi my neute mooi uit op a silikoon matjie wat in a oondpan lê ... nou giet ek net die karamel oor die neute en los dit om te stol.







Gemengde neute



WAARSKUWINGS:

1. Daai stroop is geweldig warm ... so moenie dink jy gaan 'n tongtippie toetsie doen nie.
Grondboontjies
2. Ek laat staan die beker op a groot bord in die mikrogolfoond. Dit help as die suiker dalk so bietjie oorkook.
3. Ek sit 'n omgekeerde klein bordjie bo-op die beker om te keer dat die suiker die hele oond vol spat terwyl die water af kook.
4. Hanteer die beker met a goeie handskoen.
5. Maak seker alles is reg sodat jy dadelik kan giet as jy die beker uit die oond haal.
6. Laat loop die warm water kran sodat jy die beker dadelik onder die warm water kan insit as jy klaar is. Dit maak die skoonmaak sommer kinderspeletjies.








Lekker kook tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... Like hom stukkend as jy wil.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Thank you for your comment. The comments on this blog are moderated and yours should appear soon.

Greetings
Colyn.