Dinsdag 20 Desember 2016

Konfyt - Appelkoos is altyd 'n wenner

Somertyd is ook Appelkoostyd ... daardie verruklike geel goedjies met die rooi wangetjies. As jy hom oopbreek, dis nou te sê jy het goeie appelkose in die hande gekry, dan is daar mos 'n geur wat jou laat glimlag en die sagte sappige vruggie trek mooi skoon weg van die pit af. En dan as jy hom in jou kies druk en die eerste kou gee ... 'n geur wat my laat terugverlang na my kinderdae op die Hoëveld ... ons het rondgespeel onder die groot appelkoos bome op my oupa se plaas en was omring deur die geur van appelkose.

Heerlike tuisgemaakte Appelkooskonfyt
Maar o genade ... dan was daar ook die nagmerries van teveel groen appelkose eet en die daaropvolgende appelkoosmaag, soos my ouma dit genoem het. Dis juis die appelkoosmaag ding wat my altyd versigtig maak as ek by appelkose uitkom, en goeie brieke aan my belusting vir die vruggies sit.

Noodgedwonge is appelkoostyd ook die tyd vir appelkooskonfyt en dis 'n ander storie ... wel dit was 'n langdradige en tydrowende proses met die gepaardgaande oorkook en aanbrand. Alles dinge wat die meeste mense kopsku maak vir appelkooskonfyt kook. Ek is 'n kranige konfytkoker en daar is min dinge wat ek nie al in my konfytpot gehad het nie ... sommiges was heerlik maar daar was ook maar 'n paar lelike blapse.

Hertzoggie in 'n pan
Desember maand is ook die tyd vir Hertzoggies en Jam Têrtjies. Albei goedjies wat baie staatmaak op goeie appelkooskonfyt. Ongelukkig is dit wat ons deesdae in blikke koop meer pampoen as appelkoos en dit is maar 'n flou verskoning vir die ware Jakob. Ja, ek weet daar is tientalle spesialis konfyte deesdae in die winkels maar dis duur, soms peperduur. As jy jou oë oop hou kan jy winskopies koop by die vrugterakke in jou Supermark ... sodra die appelkose begin afgaan dan merk hulle dit gou af en dis dan die tyd om te koop.

Laat November lees ek Annelien Pienaar se Appelkooskonfyt (Skakel) resep raak en dit laat my frons. Dis heeltemal anders as wat ek geleer het. Maar nouja, ek is nie iemand wat skrik vir 'n nuwe metode nie en ek besluit net daar en dan dat sodra ek die geleentheid kry gaan ek die metode van Annelien probeer.

Die grootste verskil van Annelien se metode is dat jy die appelkose bedek met die suiker in 'n bak en dan laat staan jy dit vir 'n tyd. Sy beveel oornag aan maar ek laat myne so 18 ure staan. Na sowat 8 ure is daar al heelwat vog in die suiker en dan roer ek die mengsel om met a groot lepel. Daarna roer ek so elke uur. Wat nou gebeur is dat die suiker die vog uit die appelkose trek en die suiker begin 'n stroop vorm. Afhangende van hoe ryp jou appelkose is, mag dit nodig wees om bietjie water by te gooi. Ek laat die hele strooptrekkery maar eers klaarmaak alvorens ek besluit oor die water. As jy baie ryp appelkose het dan is die water nie nodig nie. My tweede klomp appelkose was minder ryp en ek moes so koppie water bygooi. Sit so 5 pitte in die bak saam met die suiker. Maak seker jy tel mooi hoeveel jy insit want jy wil dit uitskep voor jy begin ernstig kook. Die pitte bring 'n lekker smaak in die konfyt.

So toets ek my konfyt
Nou met konfytkook is die grootste doelstelling, om soveel as moontlik water uit die vrugte te kry want dis die water wat kan veroorsaak dat jou konfyt sandsuiker maak. Met Annelien se metode trek die suiker die water uit voor die tyd en as jy begin kook dan is dit baie gou uit jou konfyt uit, andersins is dit ure en ure se kook.

Sodra van die appelkose in die stroop begin verkleur dan is tyd vir kook. Ek gebruik 'n lekker dikboom pot, dit voorkom dat die konfyt sommer aanbrand. Dis belangrik want anders as gewoonlik, kook jy die konfyt baie vinnig. Op die foto kan jy ook sien ek sit 'n houtlepel oor die pot neer. Dis om te keer dat die konfyt oorkook in die begin.

Om die konfyt te kook is daar drie fases waarvoor jy moet oplet;

Eerste fase in die begin:
Fase een
Moenie jou plaat te warm maak nie. Daar is baie onopgeloste suiker in die pot en jy kan die storie maklik laat aanbrand. Roer aanhoudend totdat al die suiker opgelos is. Dis die tyd wat jy kan besluit om ekstra water by te gooi as die sous te min lyk vir jou. Spoel maar die kante van jou kastrol af met 'n nat kwassie om die suiker af te was want dit kan kristalle in jou sous veroorsaak.


Tweede fase:
Fase twee
Die suiker is opgelos en nou moet jy die plaat warm maak. Hoe vinniger jy die konfyt afkook hoe ligter is jou konfyt in kleur. Nou kan jy nie die pot alleen los nie. Dis ook nou die tyd om 'n houtlepel byderhand te hou om oor die pot neer te sit want die konfyt gaan baie skuim maak sodra die stroop warm raak en die water af dryf.

Spoedig gaan die konfyt erg begin skuim en opkook in die pot. Dis goeie praktyk om nie te klein potjie te gebruik nie. Jou aanvanklike mengsel wat in die pot ingaan moenie by die halfpad merk verbygaan nie anders gaan jy moet bontstaan vir oorkook.

Roer die konfyt deurentyd met 'n houtlepel en maak seker jy bly die boom van die pot skoon skraap.
Afhangende van die toestand van jou appelkose sal jy nou opmerk dat daar skif begin vorm tussen die skuim ... moenie nou oor dit bekommerd raak nie ... jou grootste probleem is die feit dat jou pot kan oorkook terwyl daar nog so baie water in die konfyt is. Dis een van die redes hoekom ek van 'n gasstoof hou ... as die skuim te woes raak dan draai ek die vlam kleiner en die pot bedaar amper onmiddelik. Dan laat ek hom so bietjie kalmeer en jaag weer die vlam op dat dinge kan gebeur ... met 'n elektriese stoof moet jy maar die pot op en af van die plaat skuif.

Dis baie belangrik dat jy gedurende die fase nie vir 'n oomblik die pot alleen los nie want dan gaan jy verseker deurloop onder 'n oorkokery of aanbrandery. As die nood sou roep is dit die beste om maar die pot van die hitte af te skuif, of die vlam toe te maak, en jou dinge gaan doen en terugkom en weer aangaan.

En dan ... eweskielik ... net so vinnig as wat die pot konfyt oorhoeks geraak het en net wou oorkook, dan kalmeer hy. Nou is fase twee verby, dit duur omtrent so tien minute.

Derde Fase:
Fase drie
Nou is jy in die finale afronding fase. Hierdie fase is ook so tien tot vyftien minute. Hou die hitte so hoog as moontlik en roer aanhoudend. Nou is die tyd om maar die skif af te skep. Sodra jy begin agterkom dat die borrels begin ontplof en stroop spatsels skiet so dan en wan uit die pot uit is jy baie naby aan klaar. Draai nou die hitte af na middelmatig toe anders gaan jy brand en jou hele stoof en omgewing bemors met stroop spatsels.

Daar is baie metodes om te toets of jou konfyt reg is en die populêre een is om so skeppie konfyt op a koue bordjie uit te skep en jou vinger deur dit te stoot ... as dit begin opfrommel dan is dit blykbaar reg. Ek gebruik 'n meer eenvoudige en praktiese metode. Ek vou 'n stukkie handoekpapier dubbel en sit dit op 'n bord. Dan drup ek so lekker druppel konfyt op die papier en kyk wat gebeur. Aanvanklik sal jy sien die druppel word omtrent dadelik platgetrek soos die papier die water uitsuig. Toets maar elke twee minute of so ... sodra jou druppel vir so dertig sekondes bly sit sonder om 'n nat randjie te vorm is jy klaar. Die hele kookproses duur so tussen 30 en 40 minute.

Al wat nou oorbly is om dit warm in gesteriliseerde flesse in te skep en te seël.

Resep:
1.2 Kg Appelkose
800gr wit suiker (Om en by 75% van wat die vrugte se gewig is.)
10 gr sout (Opsioneel)
250ml water - opsioneel

Jy kan maar kaneel byvoeg as jy wil of ster anys ... net ietsie anders.

Skakel: Annelien se Appelkooskonfyt

Lees maar my storie mooi deur en jy sal dit maklik regkry.


Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Thank you for your comment. The comments on this blog are moderated and yours should appear soon.

Greetings
Colyn.