Donderdag 12 Januarie 2017

Kombuis - My gunsteling Gadgets

So tydjie gelede vra 'n goeie Kubervriendin my ...

"Wat sou jy graag in jou Kersfeeskous wou sien die jaar?"

Op daardie stadium was ek baie besig met met my regte lewe en kon haar nie antwoord nie maar die vraag het in my agterkop gedraal.

In my Kerfeeskous
Ek is seker baie julle het dieselfde probleem as ek ... jy sien 'n interesante dingetjie en dit lyk oulik en jy koop dit ... net om na een of twee keer se gebruik die ding in 'n kas of laai te sit en nooit weer te gebruik nie. Linza se vraag maal in my kop en ek staan en kyk in die negosielaai ... volgende maak ek die kas langsaan oop. Daar is handmengers, stickblenders, raspers, klitsers, kerfgoed wat my net laat lag. Meeste van die goed is duplikate van duplikate en niks word regtig ernstig gebruik nie.

Poppie klim in die kaste in en ons begin uitgooi ... twee goedjies glip terug in die kas in, een is 'n kerfdingetjie wat ek by die Pretoria skou in 1978 gekoop het en dis ietsie wat ek nogal kwaai gebruik het op 'n stadium. Deesdae lê hy maar net daar as 'n goeie herinnering ... sy weer wil nie afskeid neem van die ou bruin en roomkleur elektriese kerfmes nie. So elkeen van ons stoor maar ietsie wat sentimentele waarde het.

Twee groot plastiek kratte later en daar is plek in die laai en in die kas. Volgende gaan ek na Yuppie Chef toe en op hulle voorblad terg hulle my met 'n nuwe Kenwood ding ... hy doen alles wat ek in die krat gegooi het vanoggend en ek koop hom ... gaan terug kombuis toe en gooi nog 'n paar goed in die krat.

En so het ek my Kersfeeskous gevul met 'n handge meerdoel ding van Kenwood.

Nou gaan ek julle vertel van die gadgets wat ek baie gebruik in my kombuis ... goed wat ek nie sommer sonder wil wees nie ... verskoon my maar, maar ek is 'n groot Kenwood aanhanger en dus sal jy sien die goed is omtrent alles Kenwood. Hmmm ... Kenwood moet gerus my in gedagte hou as hulle weer dinge wil weggee.

Staatmaker menger
Eerste masjien is my Kenwood Titanium Chef. Hierdie masjien is 'n werkesel en hy doen omtrent alles wat ek wil hê hy moet doen ... van brood knie tot meringue maak ... hy doen dit sonder om swaar asem te haal. Ja ek weet die celebrity chefs maak groot bohaai oor Kitchen Aid maar vir my is hulle speelgoed teen my Kenwood.

Handig vir ligter take
Die volgende ding wat ek baie gebruik is so Kenwood Handmenger wat ook met 'n staander kom. Hy is nogal handig vir kleiner dinge en is maklik om skoon te maak. Ek gebruik hom gereeld vir die maak van versiersel en die meng van baie sagte koek mengsels. Hulle sê hy kan deeg knie maar ek het eenkeer probeer en die gekners en gekerm het my dadelik na die krag skakelaar laat gryp ... die outjie is kapokgewig.

Baie goeie opsies
Dan het ek ook 'n Kenwood Voedselverwerker, foodprocessor ... dis iets wat baie min mense regtig tenvolle benut want dis mos 'n storie om die ding te was na die tyd. Ek het daardie mental block eenkant toe geskuif want die realiteit is dat hy 500gr wortels rasper in 'n minuut of twee, hy vreet a 500gr blok kaas op in 'n japtrap en hy verpulp 'n kilogram mangoes sonder om eers te sweet. Ek gebruik die ding baie.

Handig en maklik om skoon te maak
Dan my jongste aankoop, die Kenwood Stickblender met al sy stukkies. Meeste mense gebruik die soort ding hoofsaaklik om sop te verpulp of kos vir babas te maak. Die ding het egter 'n magdom aanwendings en wat ek baie van die een hou is dat die ding waarmee jy goed kan fynkap is grootgenoeg om maklik dinge voor te berei vir twee mense. So ek gebruik dit baie in plaas van om die groot verwerker uit te haal.

Nog 'n ding van die Stickblender is die twee bybehore waarmee jy aartappels kan fyn maak ... 'n gewone Stickblender is nie goed vir kapok aartappels nie want die lem aksie aktiveer die stysel en dan sit jy met 'n taaierige pasta in plaas van donsligte kapokaartappels.

Altyd 'n wenner
En nou vir iets wat nie Kenwood is nie maar wel AEG ... my elektriese stoompot. Dis 'n ding wat van onskatbare waarde is. Ek maak geweldig baie stews met die pot. Jy koop die goedkoop bene en gooi dit in die pot saam met 'n aftreksel en 'n paar stukke groente en 45 minute later is daar 'n basis vir 'n pastei, of 'n stew of 'n sop en as jy slim werk sommer al drie voorafgenoemde.

Die grootste voordeel van die stoompot is die feit dat hy nie water verloor nie en derhalwe is daar feitlik geen kans dat hy kan aanbrand nie.

Ek hoop die storie is van waarde vir iemand en dat dit jou met nuwe oë laat kyk na al die gadgets wat jou kaste en laaie vol maak.

Moenie die waarde van die stukke gereedskap onderskat nie en gebruik die goed vir dit waarvoor dit ontwerp is.

Moenie die moeite van die skoonmaak toelaat om jou te laat voort ploeter met handgereedskap wat nie die gewensde resultate lewer nie, net omdat dit minder moeite is om te was.

Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Thank you for your comment. The comments on this blog are moderated and yours should appear soon.

Greetings
Colyn.