Man Kos is mos vleis en brood ... en dis hoe dit by my huis werk. Male sonder tal sien ek op Facebook hoe mense vra ...
Suiwer Bees |
"Hoe kry ek my steak sag ?"
Net een antwoord vir dit ... Koop die regte steak by die regte plek.
So is dit dan dat ek by my geliefde vleiswinkel inloop en daar word ek begroet deur 'n groot glimlag.
Waarde vir geld |
Wimpie straal en hy hou trots 'n helse stuk bees in die lug sodat ek beter kan sien.
Nou kyk ek het al baie van die dry aged ding gehoor en baie gewonder. Nou reken hy nog ook dat die bees net gras gevreet het sy hele lewe lank. Die vleis lyk baie goed en ek hou van die kleur van die vet. Ek moet dit eenvoudig probeer.
Nouja en so is dat dan dat ek hier in my kombuis staan met die moerse chops op die tafel. Poppie is baie skepties, sy is nie eintlik 'n groot vleisvreter nie en o ja ... die ding moet dood gebraai word. Met die soort steak gaan dit verseker nie werk nie en ek sê maar liewer niks ... al wat ek weet is dat vir so hoë gehalte stuk bees is daar net een manier ... Medium Rare.
Net die minimum speserye |
Warm vuur |
Dis 'n dik stuk vleis en dis 'n warm vuur ... maar as daar een ding is waarvoor hierdie boerseun nie skrik nie, dan is dit vleis en vuur.
Vir 18 minute word die stukke bees deur die vlamme begelei en vertroos. Alles word met presisie gedoen en sonder 'n gesels ... hier moet respek wees en dit vereis toewyding.
Nou moet hy rus |
"Agt Minute se rus ..." is al wat ek sê terwyl ek wegstap na my kantoor toe. Ek gaan 'n twakkie vat en myself in die regte geestestoestand kry vir die fees.
Die klokkie lui en toe begin die finale voorbereiding ... ek sit een tjop op my gunsteling plank en haal die groot mes uit sy blok. Daardie stuk Duitse staal glip langs die been af soos 'n warm naald in 'n blok botter in. Geen slagtery, net 'n netjiese bestuur van die lang lem. Die vleis is murgsag en sappig en my bek water. Die been word eenkant toe geskuif en sonder enige inspanning verdeel daai lang mes die stuk vleis in mondpas skyfies.
Man Kos |
Eerste hap wat ek vat is sonder enige sout ... ek moet eenvoudig eers proe hoe pure suiwer grasgevoerde bees ... hemels ... enige tyd so sag soos fillet maar net tien maal meer smaak. Die volgende repie tik ek so teen die hopie growwe sout op die plank en dis 'n smaak ervaring wat ek nie maklik kan beskryf sonder om simpel te raak en allerhande sinnelose frases en brabbel taal te gebruik nie.
Ek het darem 'n lepel vol aartappelslaai ook gevat.
Weereens is dit bewys ... 'n goeie steak op jou bord begin by 'n goeie vleiswinkel wat goeie steaks verkoop.
As jy in Nelspruit is dan gaan soek jy vir Wimpie op by El Madre Slaghuis en sê virhom jy soek van daai bees wat hy aan oom Colyn verkoop het.
Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.
Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking
Thank you for your comment. The comments on this blog are moderated and yours should appear soon.
Greetings
Colyn.