Maandag 07 Augustus 2017

Menu - Stew - Bees en Bone

Op die ManKos menu sal jy hierdie een sien ... Stew - Bees en Bone ... en dit is daar omdat dit my laat terugdink aan dae toe my ma drie groeiende seuns en 'n hardwerkende man moes voer. Dit was 'n luuksheid om vleis in die bord te kry en sy was 'n towenaar om die vleis te rek.

Bees en Bone Stew
Hierdie stew word gemaak van blade steak ... en dis maar taai, vir seker nie 'n prima snit nie. Maar daar is geen taai stuk vleis wat kan staande bly teen 'n lang stadige kook nie. Hy word gekook en geprut totdat elke veseltjie murg sag is en jy met 'n sous in die pot sit wat sprankel van geur.

ManKos maak daardie sous lank en dik en hy kry uie en drie soorte bone in. Die geur en smaak kom hoofsaaklik van die bene en vleis en dan tert ons dit op met lekker speserye en kruie ... alles werk mooi saam om jou te laat glimlag as jy daarna kyk, laat grinnik as jy daaraan ruik en dan is jy doodstil en kou stadig ... baie stadig want jy wil niks mis nie.

Vir kleur en bietjie ekstra geur gee ons so paar blokkies gebraaide soet pampoen ... 'n man hou mos van 'n soetigheidjie op sy bord.

Ek dink terug aan Augustus winde wat huil om die huis se hoeke en 'n koolstoof wat gloei in die hoek. Die pot se deksel wat wat so liggies rittel soos die stoom die deksel kort kort oplig ... en bo alles onthou ek die geur van daardie stew.

Dan by die tafel ... daar sit ons in groot afwagting en kyk terwyl my ma vir elkeen sy bakkie uitskep. Pa vra die Seën en dan word dit stil om daardie tafel. Die klik klanke van lepels op porselein is omtrent al wat jy hoor ... o ja ... en natuurlik die huilende wind. In my agterkop dink aan die mense wat minder bevoorreg is, soos pa dit in sy gebed altyd noem en ek maak my oë weer vir 'n wyle toe.

Die stukkies bees val uitmekaar tussen my tande en elke byt breek 'n boontjie ... die ryk sous smeer my tong en dan sluk ek ... maar die volgende lepel vol is alreeds op my lippe.

En dan op die einde, so lekker sny vars brood wat jy so deur die bakkie sleep en elke druppel van die sous opsuig. Man dit was goeie tye.

So sit aan, vra die Seën en stuur jou siel op 'n salige reis van geur en smaak wat jou sal laat dink voor jy weer van die beste stew praat wat jy al geëet het.

O ja ... natuurlik gee ons vir jou 'n sny of twee brood ... heerlike vars brood. Mens kan mos nie die sous in die bord los nie.

Geniet hom ... hy is gemaak van net die beste. Hierdie is nou ManKos waarvan vrouens ook hou.

Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Thank you for your comment. The comments on this blog are moderated and yours should appear soon.

Greetings
Colyn.