Saterdag 24 Februarie 2018

ManKos - Aartappelslaai met houding

Aartappelslaai is iets wat meeste mense van hou. Dit is ook dan so dat ons mense aartappelslaai ken as blokkies of skyfies aartappel wat gesmoor word met mayonnaise en kondensmelk in een of ander verhouding en die resultaat wissel van soet tot suur afhangende van die verhoudings.

Daar word sout, peper en 'n horde ander speserye bygevoeg na smaak of volgens oorlewering. Al wat nog kort is gherkins, suur uie, rissies en wat nog meer ... en natuurlik die tradisionele vereiste ... gekookte eiers, gekap, geskyf of gekrummel.

Aartappelslaai en Wors
En dit is wat die meeste van ons ken as aartappelslaai ... en dit wissel van lekker tot walglik, afhangende van die eters. Ek kan nog verder gaan en verduidelik dat dit van warm tot yskoud opgedis word, aartapples van bros tot glasig en die eiers van helder geel tot blou. Die byvoegings kan strepe waterigheid of klonte verdikte mayonnaise insluit in die resultate, om van die reuk nie eers te praat nie.

Een groot voordeel van die hordes Kos Programme op Televisie is dat ons blootgestel word aan baie onbekende dinge. So is dit ook dan dat ek op 'n dag sit en kyk na 'n program en die meise reken sy gaan BBQ Chicken maak met Potato Salad. Ek steek 'n sigaret aan en sak terug in my stoel ... dit wil ek sien.

Groot was my verbasing toe ek sien daar is nêrens mayonnaise of kondensmelk op die werksblad nie.

Hier is wat ek gedoen het na die program en dit was heerlik.

Stoom twee middelslag aartappels, jy kan dit kook ook. Maak dit goed gaar.

Sny in wedges en deel elke wedge weer in drie. Jy soek lekker bytgrootte blokkies.

Jy kan dit met die skil of sonder die skil doen.

Nou in glasbak ...

2x Eetlepels Olyfolie.
1x Eetlepel Botter
1x Teelepel lekker Chili Sous. (Jy kan meer maak as jy wil.)
Sout en growwe peper na smaak.
Chili Flakes na smaak.
1x Eetlepel chutney van jou keuse.

Geurig en lekker
Roer goed en sit in die mikrogolf vir so 30 tot 45 sekondes. Jy wil die mengsel lekker warm hê.

Klits dit nou goed met 'n draadklitser.

Gooi die aartappel stukkies in die glasbak en roer goed deurmekaar.

Bedien warm met so bietjie paprika bo-oor.

En daar het jy nou 'n nuwe variasie van aartappelslaai wat heerlik is saam met braaivleis.

Natuurlik kan jy die ding uitbrei na hartelus maar die kern is en bly ... niks mayonnaise of kondensmelk nie. Ook niks eiers nie.

Probeer dit gerus, die is die beste as dit warm bedien word.


Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Thank you for your comment. The comments on this blog are moderated and yours should appear soon.

Greetings
Colyn.