Woensdag 10 Desember 2014

Braaivleis - Ai die alewige oorskiet

Braaivleis Koekies
Braaivleis is mos Man Kos waarvan vrouens ook hou. Dis mos nou die feestyd en as daar een ding is wat 'n boerseun doen as hy kuier, dan is dit braai. Maar soos omtrent almal al ondervind het, die braaiery is gewoonlik oordadig en vanaand as al die gaste huistoe is, dan staan jy in die kombuis en kyk na die bak vleis wat oorgebly het. Ek self is deesdae nogal ernstig oor porsies maar nouja, dis ek.

Vandag gaan ek julle bietjie vertel wat ek met oorskiet braaivleis maak.

By my is daar ook gewoonlik die gebakte aartappels wat nie alles opgeeët is nie. Trek die skil af en kap dit in blokkies, moenie bekommerd wees oor die wat fyn breek nie. Die idee is om met stukkies op te eindig omtrent so groot soos ertjies.

Volgende kap jy 'n ui ook in sulke fyn blokkies. As jy dalk mielies ook gebraai het kan jy dit van die stronk afsny. Jy kan ook oorskiet sampioene opkap.

Nou kies jy so paar stukkies vleis en kerf dit ook in baie klein blokkies.

So maak ek ...

2 Koppies gekerfde vleis
1 koppie aartappel stukkies of kapokaartappels
1/3 koppie uie
1/3 koppie sampioene
1/3 koppie mielies
2 eiers
1/2 koppie meel
1 teelepel bakpoeier.

PS ... hierdie mengsel moet jy maar self met sout en peper dokter want die vleis het gewoonlik baie speserye op.

As jy nie sampioene of mielies het nie, maak die uie maar meer.

Jy kan eintlik die koekies maak met enigeiets, hoender, wild, wors en vis ... net wat jy het.

Jy kan ook die vleis meer maak. Waarna jy moet mik is om 4 koppies van bogenoemde in jou mengbak te kry.

Nou breek jy twee eiers in en 'n halwe koppie meel en die bakpoeier.
Meng dit baie goed en kyk, jy soek 'n redelike slap mengsel. As dit te nat is, gooi nog bietjie meel in en as dit te droog is moet jy so lepel op 'n slag melk bysit.

Moenie rof raak in die pan nie
Nou 'n lekker warm pan. Ek sit varkvet in maar jy kan olie en botter gebruik. Sodra die vet warm is, gooi so teelepel braaispeserye in die olie en roer vinnig.

Skep nou grootlepels vol in die pan en druk dit versigtig plat. Kyk op die foto. Nou moet jy nie oorhaastig wees nie ... die koekie is nie baie stewig nie en jy moet toelaat dat daar 'n mooi korsie braai voor jy dit versigtig omkeer en die anderkant doen. Moenie die koekies te dik maak nie.

Ek sit dit sommer net met slaai voor. Tipiese aandete, die dag na die braai.

Man Kos Braai Koekies
Hierdie koekies is ook baie handig om in die yskas te hou vir die knaagdiere in jou familie ... in my huis hoor ek net kort kort gaan die yskas deur oop en as ek vra dan word daar met 'n bol kies gemompel ...

"Ek soek net ietsie."

Bak en brou lekker tot ek weer 'n storie skryf.





Hier is is my Facebook bladsy ... Colyn Kook Man Kos ... like hom as jy wil.




Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Thank you for your comment. The comments on this blog are moderated and yours should appear soon.

Greetings
Colyn.