Saterdag 20 Desember 2014

Hoender - My hartjie my liefie

Man Kos is iets waaroor ek gaande kan raak en partymaal is Man Kos nou gladnie iets waaroor baie vrouens gaande sal raak nie.

Hoenderhartjies en pap
Die hele wêreled is vol stories oor al die hormone en medikasie wat in die hoenders ingeforseer word om hulle vinniger te laat groei en daar word groot bohaai daaroor gemaak. Wat my egter verstom is die hoeveelheid mense wat gaande raak oor die hoenderlewers. Kyk, vertaan my mooi, ek is ook baie lief vir hoenderlewers maar die Wiskunde van hoenderlewers werk nie vir my nie, veral nie die massaproduksie hoenders nie.

Die lewer is die orgaan wat die ligaam moet skoonmaak en as sulks die grootste versamelaar van gifstowwe. Nou hoe verdedig jy jou renons in battery hoenders maar jy eet die klein gifbommetjies met oorgawe ... ek vra maar net.

So 2 jaar terug het ek opgehou met hoenderlewer koop of eet tensy ek weet waar die hoenders vandaan kom.

As plaasvervanger het ek begin om die hartjies te gebruik. Die hartjies laat vir Poppie uitslaan van hoendervleis en sy gril tot in haar tone ... maar dis nie my probleem nie.

Sny die vetklont en are af
Om die hartjies lekker te maak moet jy bereid wees om so bietjie moeite te doen. Daar is so klont vet aan die bokant van die meeste hartjies en die are en slagare loop deur die vet. Die are is taai en kan ook maar grillerig in die bord lyk.

Braai die vet uit
So, eerste stap ... sit ek 'n pan op die stoof en maak hom warm. Vat nou die hartjies een vir een en met 'n lekker skerp mes sny die vetklont af. Mik mooi dat jy die are vang maar moenie teveel van die hart self afsny nie.

Gooi nou die afgesnyde vetklonte in die pan en braai dit uit soos met kaiings. Wees geduldig ... jy soek al daai vetjies in die pan. Skep nou die kaiings uit en gooi braaispeserye in die vet in. Laat dit lekker braai maar nie brand nie.

Uie en hartjies
Nou gooi jy gesnipperde uie in die vet in en roorbraai dit vinnig. Dit kan dalk nodig wees om so eetlepel of wat olie by te sit. Ek skep so eetlepel varkvet in die pan in.

Nou sit jy die hartjies in en roer goed. Strooi Robertson's se Hoender Speserye lekker mildelik en so twee teelepels suiker. Soos dit begin braai sal jy gou sien dat daar 'n sous begin vorm. Ek gooi nou 'n koppie hoender aftreksel in. Volgende gooi ek so twee teelepels van Ina Paarman se Bruin Uie Sous poeier in en bly die storie maar gereeld roer.

Speserye is op
So 10 minute in en ek gooi 250 ml Room by. Hou dop en bly roer gereeld. As jou sous nie dik raak nie kan jy maar dit met Mielieblom verdik.

Sit die plaat af en begin jou borde opstel. Jy moenie die hartjies "overcook" nie want dan word baie taai.

Heerlik en geurig
Ek eet dit met pap, kapokaartappels of op roosterbrood. Dis baie lekker saam met roereiers of op ommelet. Ek gebruik dit ook in pannekoek as vulsel. Ek maak ook koring risotto en gebruik die hartjies daarin.

Jy kan ook klein peusel sosaties maak saam met suuruitjies en glanskersies.

Dis nie lekker as dit koud is nie.

Lekker kook tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... Like hom as jy wil.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Thank you for your comment. The comments on this blog are moderated and yours should appear soon.

Greetings
Colyn.