Dinsdag 30 Desember 2014

Kombuis - Miet o die pyngedagte

Miet ! ... dis 'n woord wat omtrent elke kok se hare laat orent vlieg en mense in trane laat uitbars. Daai klein wettertjies wat oor jou hande stroom as jy 'n pak meel oopmaak. Hulle lê daar in die spierwit meel soos fennel saadjies en jy wil sommer die geweer gaan haal ... dan besef jy dit gaan nie help nie en jou oë dwaal oor die inhoud van die gifkas ... moord is ligtelike vir dit wat werklik in jou gedagtes omgang.

Goeie houers
Ek twyfel of daar kokers is wat hulleself nog nie in die goedjies vasgeloop het nie. So klein dingetjie wat so groot gemors van jou koskas kan maak. Hulle geliefkoosde rondhang plekkie is meel maar hulle klim in omtrent al jou droë goed in ... rys, pasta, hawermout, koekies, krummels, beskuit, jellies, soppoeiers, koring ens. As hulle daar in is, wel dan is dit maar gooi weg. As jy mooi oplet sal jy sien dis hoofsaaklik produkte wat mielies of een of ander graan bevat.

Daar is ander infestasies wat amper soos die meel mot miet lyk wat ander produkte in ons kombuis aanval maar dis nie dieselfde ding nie. Kerrie produkte kan wurms in kry en ander speserye kry 'n ding in wat die poeier in klonte maak asof dit met spinnekop web gemeng is. Dis 'n tipe swam.

Gelukkig is al die goed min of meer onskadelik vir ons as mense en kan op die ergste tot 'n ligte los magie aanleiding gee vir die meer gekunsteldes. Vissermanne, jagters en bikers kom gewoonlik niks oor nie.

Vanaand skryf ek die storie want die afgelope week of so is omtrent al die kosgroepe op Facebook vol stories oor miet. Ek dink die algemene klimaat maak dit net makliker vir die goed en hulle is besig om mense tot raserny en soms tot waansin te dryf.

So rukkie terug het ek 'n storie geskryf oor die bewaring van die bessies wat ons so ten duurste koop en dan binne 'n dag of twee is hulle poegaai. Bewaar jou aarbeie ... is iets wat jy gerus kan gaan lees.

Nou laat ons fokus op MIET ... eerstens is die woord MIET eintlik nie korrek nie want dit is 'n generiese term vir 'n stadium in baie insekte se lewens. Die MIET wat ons as kokke mal wil maak is 'n stadium in die lewenssiklus van die Meel Mot.

Vir menigte is 'n miet infestasie 'n ernstige refleksie op hulle higiëne en dit maak hulle waansinnig as die goed opgemerk word.

Die van julle wat my goed gereeld lees sal weet dat ek baie keer verwys na WISKUNDE. Nouja kom ons kyk na die wiskunde agter die miet probleem.

Om jou huis, en veral kombuis, miet vry te hou moet jy so paar basiese voorsorgmaatreëls toepas. Net soos met die aarbeie ... doen so klein bietjie ekstra moeite en jy kan jou meel en graanprodukte vir baie maande beskerm.

Dink mooi ... my ouma het na die oes haar meel laat maal en dan was dit in sakkies in die spens gebêre tot die volgende oes. Sy het nie yskaste, vrieskaste of plastiese houers gehad nie. Al wat sy gedoen het was om vyetakkies en stukke kerse tussen die sakkies meel te bêre. Glo my vry ... jy kan vandag nog so werk met jou meel produkte.

Baie kaste met baie deurtjies
Wat is anders in meeste huise as by my ouma ... mees opvallend is al die kaste met mooi deurtjies. Dis die begin van jou probleem want as daar nou ietsie is wat die miet se lewe darem lekker verryk dan is dit 'n donker plekkie. Gaan nou verder en kyk dieper ... daai kas is gepak met goed dat die rakke buig en elke gleufie en hoekie bied skuiling vir die ongediertes.

Genoeg wegkruipplek vir gediertes.
Drie maande terug haal ek 'n pak meel uit my meelkas uit ... dis so deftige swart plastiese krat kompleet met 'n deksel en al. Toe ek die pak meel op die tafel neersit spring my hare orent ... nou kyk vir 'n ou met 'n bles is dit 'n lelike gesig want nou lyk my kop soos 'n takkraal. Ek is nie iemand wat bang is om die nodige kragwoord te tik nie maar ek gaan verseker nie dit hier tik nie want die stroom obsene klanke laat my vrou angstig uit die kamer in die gang af draf. Die ou man klink wild !

"Hier is miet in my meel !" is die afgewaterde weergawe van my woorde aan haar toe sy in die kombuis inkom.

"Kom slaap ... dis al middernag ... ons kan môre in die daglig kyk wat gaan aan."

Nouja ... so pak ek daai kas uit die volgende dag en my bloed kook. Heel pakkies koring en mieliegrys is soliede blokke ... swart en vrot. Ek gebruik Eureka se meel en ek inspekteer elke pak behoorlik. Spoedig is dit duidelik dat die meel niks oorgekom het nie. Die miet wat ek gesien het was onder die flappe van die pakkies maar die pakkies is ordentlik geseël, so die miet was nie in die meel nie.

En nou kom ek by die eerste stap wat jy moet doen om jou kombuis miet vry te hou. As jy daar in die winkel staan ... kyk mooi na daai pakkie meel wat jy wil koop. Dop hom om en tik hom sommer so liggies met die plathand. As hy lêk ... los hom net daar. As hy 'n gaatjie in het is die kanse goed dat hy miet in het.

Tweede stap ... kry vir jou ordentlike plastiese houers vir die produkte wat miet in kan kry. Moenie die gekleurde goed koop nie want jy kan nie deur dit sien nie. Ek het bykans 'n sielkundige probleem met boksies en is 'n ou wat boksies het waarin ek my boksies bêre.

Meel houer met Lourier blare in die meel.
Hier by my is 'n Plastiek Winkel wat houers verkoop van alle groottes en kleure en daar het ek die regte goed vir my kos gekry. Dis vierkantige en reghoekige houers met 'n deksel wat aan al vier kante so flappie het wat die deksel toeknip en lugdig seël. Mens kry dit by omtrent al die winkels wat plastiesehouers verkoop.

Ek koop nie rondes wat soos koekblikke lyk nie want so ronde ding vat teveel plek. Die boksies stapel maklik en pak maklik.

Ek was nou 'n man op 'n missie en ek het die internet deurkruis. My kop het vir my gesê dat miet is nie 'n nuwe ding nie en die oumense moes die goed hanteer het. So paar dinge het gou duidelik geword ...

1. Meeste van die tyd bring ons die miet van die winkel af huistoe.
2. Miet hou van donker plekke.
3. Moenie vir hulle voerplekke maak nie.

Alles mooi oop en duidelik sigbaar.
Volgende stap bel ek my broer en vra hom om my yskas kamer te kom opknap. Ek wou die plek nog altyd as 'n spens ingerig het en nou was dit tyd vir dit. Ons skuif die yskas en vrieskas so bietjie rond en daar kry ek 'n lekker stuk oop muur vir my spensrakke.

Die rakke word mooi uitgemeet en ek maak seker dat dit ruim genoeg is om ordentlike pakplek te voorsien.

Volgende stap is om Plastiek Winkel toe te ry ... nou kyk, dis nogal 'n uitgawe maar as jy dit afspeel teen die koste van kos en die skades wat mens lei dan is dit 'n goeie belegging. En soos die wat my ken weet ... ek kort nie baie aanmoediging om boksies te koop nie.

Die 9 liter houers is perfek vir 2x2.5kg pakke meel. Ek koop ook 'n klompie van 5 liter en so klompie kleineres.




Alles mooi toe en sigbaar
Volgende stop is by my Koekbak Winkel ... Bakers Bin ... en daar koop ek 'n pak Lourier Blare ... Bay Leaves ... ek het so 6 maande terug 'n paar vyebome geplant maar hulle is nog te klein om takkies te gee vir die spens.

Volgende stop koop ek twee pakkie outydse wit kerse.

Nou was ek reg vir die groot oorlog teen die miet. Die oumense se grootste wapens was vye takkies, lourierblare en wit kerse en ek het dit alles. Die plastiese houers is 'n bonus.

Terug by die huis begin ek die kaste in die kombuis uitpak. Alles word sorgvuldig inspekteer en dan in die plastiese houers gesit. Laastens gooi ek so paar lourierblare in die houer en maak toe.

Twee ure later is die rakke mooi gepak en die kaste omtrent leeg. Aanvanklik was my vrou half opgetrek oor die goed wat nou so oop staan maar so paar dae later toe noem sy so terloops dat ons dalk meer rakke in die spens moet insit.

Ten slotte ... moenie dat mense jou stories vertel oor gif nie ... die goed is gevaarlik by kos en amoniak en motballe gaan jou kos laat stink en vreemd laat proe.

Goedkoop en effektief
Dis onprakties om alles in die yskas of vrieskas te pak want die nadeel van dit is dat dit jou meel en ander produkte klam kan laat word. Veral vandag se dae met "loadshedding" ... as daai yskas of vrieskas afgaan dan vorm daar groot hoeveelhede kondensaat op die houers.

So dis eenvoudig ... maak seker jy bring nie die miet huistoe van die winkel af nie. Hou jou goed in lugdigte houers en sit lourierblare in die meel en in die houers. Laastens sit die kerse in jou kaste. Ek breek elke kers in drie stukke en versprei dit.

As jy toegang tot vye takkies het ... gebruik dit.

Sodra jy die voedselbron vir die miet afsny sal hulle verdwyn.

Mense sê maklik jy moet alles wegsmyt ... dis onnodig ... as dit nog in die begin fase is met so klompie wat rondskarrel kan jy dit uitsif ... maar jy sal dadelik kan sien of jy dit kan doen.

Hierdie goed is bekend daarvoor dat dit die Meel Motte afskrik ...
1. Bay Leaves
2. Cedar
3. Lavender
4. Mint
5. Fig Stems

Geniet jou kokery en trap daai miet se gatte vas op die ou boeremanier sonder om jou kos te vergiftig.

Hier is my Facebook Blad ... Man Kos ... Like hom as jy wil.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Thank you for your comment. The comments on this blog are moderated and yours should appear soon.

Greetings
Colyn.