Donderdag 20 Julie 2017

Menu - Padkos

Op die ManKos menu is daar 'n gereg, dis meer as 'n gereg ... dit is 'n plank met siel ... reg vir 'n vinnige aanvulling in 'n besige dag. Dit is nie eintlik 'n voorgereg nie maar 'n lekker klomp goedjies om jou deur 'n besige dag te help ... dis hoekom ek dit PADKOS noem want dis wat dit is.

ManKos se Padkos
Die dis bring herinneringe terug van langpad reise saam met my ouers. Dit was 'n tyd waar reise nog deeglik beplan moes word want paaie was nog nie snelweë nie en karre was nog vol nukke.

Ek onthou hoe my ma so aan my pa se skouer sou vat en sê ...

"Dawie jy moet nou vir ons 'n stopplek kry, die kinders raak honger."

Agter in die kar het ons opgewonde begin help uitkyk vir 'n stopplek en dan op die Hoëveld horison verskyn die teken ... 'n groot ou bloekomboom wat langs die pad staan, eensaam in die grasvlakte en ons weet ... onder daardie boom sal die sement tafeltjie en bankies wees waar ons gaan stop.

Terwyl my pa om die kar loop, die bande bekyk en dan die enjinkap oopmaak om die water en olie na te gaan breek my 'n paar takkies met blare af en stof die sement tafeltjie af. Sy haal die mandjie uit die kar uit en sit hom op een van die bankies neer. Eerste kom die rooi en wit blokkies doekie uit en hy word oor die tafeltjie gesprei. Dis reg, my ma het altyd 'n tafeldoek oor 'n tafel gesprei .... selfs oor die sement tafeltjie langs die pad.

Dan kom die eetgoedjies uit, hardgekookte eiers, frikkadelle, boerewors stukkies en die toebroodjies. Die toebroodjies was lekker dik gesmeer met botter, konfyt en kaas ... ja kaas was 'n luukse maar so reis was mos spesiaal en ma het uitgehaal en gewys.

En so sit ons om daardie tafeltjie, hou hande terwyl my pa die Seën vra en ook vir Liewe Jesus vra om ons te bewaar op die pad ... en dan eet ons die padkos ... verbygaande motoriste blaas toeter en waai ... dit was 'n tyd toe mense nog mensliewend was. Die Thermos fles word oopgemaak en ons kry elkeen so halwe bekertjie koffie ... regte blikbekers want in daardie dae was daar nie goed soos weggooi glasies nie. En dan as ons klaar was, dan het pa die watersak gebring en ma het 'n vatlappie uitgehaal ... natgemaak en die kinders se hande en monde skoongemaak terwyl pa die mandjie pak. En so val ons weer in die pad ... los niks agter nie behalwe ons spore.

Nouja ... dis wat op hierdie ManKos spyskaart te vinde is onder Padkos. Jy is dalk op reis tussen twee afsprake, of op pad terug van 'n kliënt af ... of dalkies moet jy iemand gaan besoek maar dit gaan 'n lang afspraak wees en jy weet jy gaan middagete mis.

Kom sit aan en ons gee vir jou PADKOS ... 'n Paar repies heerlike biefstuk, twee snytjies lekker vars Brood met botter, tuisgemaakte konfyt en geurige kaas. Ons gebruik botter en ons is nie suinig nie. Ja dis twee oop Broodjies want Toebroodjies is iets anders op die ManKos Spyskaart. Jy gaan ook 'n lekker gekookte eier kry wat gerol is in sout en peper mengsel ... daardie lekker bietjie brand net om jou smaak organe wakker te skud voor jy in die heerlikheid insak. En aan die kant ... stomende koffie.

As jy nou nie 'n rooivleis eter is nie kan ons vir jou 'n hoenderboudjie gee of 'n frikkadel ... dis mos ook goed wat in so padkos mandjie ingaan.

Eet sommer met die hand maar as jy fiemies het sal jy op die tafel sien daar is messe en vurke. Eet die broodjies een een of sit die vleis bo-op die kaas en vou hulle toe en maak jou eie toebroodjie. Maar pasop ... dit gaan 'n stewige toebroodjie wees want ManKos is nie fyn en pikant nie. En as jy klaar is sal jy vind ons gee vir jou 'n klam lappie om jou hande mee af te vee ... ons gee eintlik twee, een vir die afvee voor jy begin eet en een vir na die tyd.

En dis ManKos se PADKOS ... dalk ongewoon maar nie regtig volksvreemd nie. Eet dit eenmaal en moenie verbaas wees as jou kar sommer vanself die stilhou plekkie gereeld kom opsoek nie.

Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Thank you for your comment. The comments on this blog are moderated and yours should appear soon.

Greetings
Colyn.