Vrydag 21 Julie 2017

Menu - Toeba - Peanut Botter en Jam

Meeste manne hou van 'n toebroodjie maar die gemeenskap het ons ongelukkig na 'n plekkie toe gevat waar toebroodjies verfynde poefter goedjies geword het wat grênd mense saam met hulle tee drink. ManKos hou nie van die ding nie en en ons maak 'n Toebroodjie met stamina ... of nog beter ... ons noem dit 'n Toeba.

Op ons spyskaart is daar so paar Toebas en vandag wys ek julle die een wat die meeste van ons met sulke wasige ogies na die horison, of plafon, laat staar.

ManKos Toeba
'n Toeba wat herinner aan koue wintersoggende, speeltyd op die skoolgronde en daar waar jy langs die pawiljoenmuur wegkruip vir daai skerp windjie ... jou kniekoppe rittel terwyl jou lyf die flou winter sonnetjie probeer insuig. Met koue stram vingers worstel jy daai deksel af van die Tupperware bakkie en dan kom daar 'n vonkeling in jou oë. Die sagte vars brood lê kant aan wal in die bakkie en jy lig die een helfte uit ... en jou hart sing.

Lekker dik botter met peanut botter en jêm ... jy vat daai eerste hap, sommer so uit die middel van die Toeba, ons byt nie klein happies van die hoekies af nie, nee, ons vat hom vol in die middel.

Die kante van die Toeba smeer jêm en botter aan albei wange af en jou oë gaan sommer toe as jy daai mondvol begin kou. Die ryk romerige botter en peanut botter gly oor jou tong en dan vang jy daai super soet stukkies konfyt. Jy kou stadig en elke beweging ontsluit nog geure en smake en dan loer jy af na dit wat oor is in jou hand, tog te bang dis te min. Die tandmerke lê duidelik afgeets deur die lagies botter en jy grinnik ... ongestoord oor die jêm kolle op jou wange.

"Jis ma jy kan darem 'n Toeba maak."

Nou vat jy die krom punt aan die een kant en dan die die ander kant en as jy die die laaste hap vat dan knip jy die plastiek bak toe en vee jou mond skoon met die agterkant van jou hand. Die koue vergete en net so lekker warm gevoel in jou ingewande.

En dis wat 'n ManKos Toeba is ... nie net innerlike versterking nie maar ook geestelike verkwikking.

Ons is nie suinig nie
Daar is verskeie Toebas op die Mankos Menu en jy moet maar jou oë laat dwaal oor wat daar is en moenie bang wees om vir jou eie mengsel te vra nie ... ons is nie bang nie ... ons meng enige ding wat in die spens is. Kaas en Marmite, konfyt en kouevleis, roereier en heuning ... vra maar, ons is gek oor Toebas en enige versoek word na geluister ... niks is te mal vir ons nie. Hoekom ... want 'n Toeba is die vervulling van smagtinge en nie noodwendig net kos nie.

Bestel een of twee of drie ... peuselhappie of maaltyd ... ManKos Toebas kan hulle man staan. Tamatie met sout en peper vir voorgereg, Ham, kaas en roereier vir hoofgereg en lekker vyekonfyt vir nagereg ... ek sê mos ... peuselhappie of maaltyd ... ManKos Toebas is daar vir jou.

Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Thank you for your comment. The comments on this blog are moderated and yours should appear soon.

Greetings
Colyn.