Wys tans plasings met die etiket Konfyt. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Konfyt. Wys alle plasings

Donderdag 08 Februarie 2018

Konfyt - Wildevy geskenk van Bo

As die Here sy hand oopmaak dan moet ons net dankbaar wees en oes. So is dit hier by my gewees ...
Wildevy
Poppie ontdek 'n Wildevy wat vrugte dra en ons altwee skud net ons koppe ... meer as 20 jaar bly ons hier en nie een van ons het ooit die boom opgemerk nie.

Die vrugteboord loop erg deur onder die droogte maar die wildevy het duidelik gekreun onder sy drag ... dit lei ek af van die groot hoeveelhede wat op die grond lê.

So ons gaan haal 'n bak en oes darem so by die 2kg ... dis duidelik laatvye wat ons kry en ek en sy maak 'n nota om die boom volgende seisoen betyds te kom besoek.

Na so bietjie kopkrap het ek besluit dat ek so basterproses gaan volg met die vye en begin deur elkeen mooi af te was en in kwarte te sny.

Die oes
Leesbril op die neus ondersoek ek elkeen want vriende vertel my dat die goed gewoonlik besmet is.
So twee of drie trek reguit kompos toe maar die met miertjies in gaan in die skottel in.

Ek tap die skottel tot oorlopens vol met skoon water en sit my vergieter in die bak se bek in. Nou is die vergieter die hoogste vlak in die bak.

So 30 minute later is die oppervlak vol swemmende miertjies en ek gooi versigtig water by dat die bak oorloop ... met genoegdoening sien ek hoe die mertjies oor die rand verdwyn in die drein af.
Die week het ook bygedra dat die vrugte mooi uitgeplomp het.

Ek dreineer die vrugte en weeg ... 2kg

My standaard konfyt proses dikteer so tussen 70% en 85% suiker.

Ek maak 'n stroop van 1.7kg suiker, 1 koppie water en 'n eetlepel growwe sout.

Natuurlik en organies
Bring dit stadig tot kookpunt en maak seker dat die suiker opgelos is voor dit kook. Was maar die rant van die pot af met skoon water en kwas om die kristalle weg te kry. As jy dit nie doen gaan jy dalk versandsuiker probleme met jou konfyt kry ... of dit waar is weet ek nie maar dis hoe my ouma en my ma my geleer het.

Toets met handoekpapier
Sodra jy die helder borrelende stroop in die pot sien is dit tyd om die vye in te sit. Ek weet van die begin af die gaan 'n baie langer proses wees as my normale konfyt kook want die water in die vrugte moet uitkook. In my normale proses trek die suiker die vog uit terwyl dit oornag in die suiker lê. Ek het teen die manier besluit want ek was bang die "inlê" gaan die vye se tekstuur heeltemal afbreek net 'n papperysel los ... dis wat met gewone vye gebeur.

In met die vye, 1 teelepel gemaalde gemmer en 1/2 teelepel kaneel.

Nou geduld ... ek hou die temperatuur net so oor die 100 grade C ... 'n stadige kook ... onthou die mikpunt is steeds om die water uit die vrugte en stroop uit te kry. Ek roer elke 15 minute vir een uur ... roer maar versigtig sodat jy nie die vye verpleter nie.

Wildevye Konfyt
Na 1 uur gooi ek 'n halwe koppie vars suurlemoensap in. Nou nog kook vir 30 minute en toe begin ek toets. Kyk maar na die foto hierbo hoe ek toets. Die foto is van die mango konfyt maar die prinsiep is dieselfde. Jy kook tot die druppel mooi droog bly vir 10 sekondes.

Net onder twee ure en die konfyt is reg. Tot my verbasing is daar feitlik geen skuin nie weinig van daai digte slym strepe wat gewoonlik op jou kokende konfyt vorm nie. Ek vermoed dit is omdat die vye nie deur al die was en waks prosesse gaan van die gekoopte goed nie ... ek mag egter heeltemal verkeerd wees.

Die vye het kwaai weggekrimp en die uiteinde is 'n skamele 2 en halwe flessies konfyt ... maar dis heerlik en ek sê heimlik DANKIE.


Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.

Saterdag 20 Januarie 2018

Konfyt - Appelkoos en meer

As daar nou iets is wat my sommer breed laat glimlag, dan is dit 'n lekker sny vars Brood met goeie botter en lekker Appelkooskonfyt. En dis waar dit deesdae vir die meeste van ons stop ... die gedagte aan lekker Appelkooskonfyt. Dit wat in die blikkies opgedis word is lankal nie meer Appelkoos nie ... dis 'n soet pasta wat die regte kleur het maar weinig smaak het van appelkoos ... dis blykbaar grotendeels pampoen.

Konfyt kook is lekker vir my
Nouja hierdie is mos 'n ManKos blog en nou wonder baie seker wat het konfyt te maak met ManKos ... wel die waarheid is dat vir die meeste mans is Vleis en Brood al wat hulle nodig het maar so lekker blerts ordentlike konfyt maak dit gewoonlik net soveel meer lekker.

Soos ek al menigmaal gesê het, ek is nie groot op resepte skryf nie want daar is miljoene van die goed al geskryf en niks is regtig sommer uniek en nuut nie. So ek vertel gewoonlik maar die storie rondom die maak van iemand se dis met sy of haar resep.

Vanaand is een van die aande wat ek egter 'n resep gaan gee maar die verskil is dat ek gaan vir jou vertel van 'n manier om konfyt kook heelwat makliker te maak ... ja ... dis die ManKos manier van konfyt kook.

So toets ek vir die "SetPoint"
Dis nou die tyd van die jaar wat die meeste vrugte redelik beskikbaar is en soms is grootmaat koop goedkoop of jy is gelukkig om 'n boks vol iets persent te kry. Dis ook die tyd wat ek op baie kos groepe die vraag sien ... Hoe kook ek die of daai konfyt. Wat dan daarop volg is stortvloed van resepte en metodes en natuurlik ook die lyne en lyne se snert oor die of daardie onontbeerlike byvoegings of die of daai eeu oue "spesiale" ietsie wat eenvoudig net gedoen moet word. Ek lewer selde kommentaar en lag net in my mou ... as jy gedink het daar is Tokkelossie stories rondom Suurdeeg Brood bak ... wel, trek vas jou kousbande ... die stories rondom konfyt is nog meer vergesog en skrikwekkend.

Laat ek dit gou duidelik maak ... die metode wat ek vir julle hier gaan beskryf het ek reeds suksesvol gebruik vir Appelkose, Perskes, Tamaties, Suurlemoene, Guava en Lemoene. So, jy gaan die een storie lees en dan gaan jy bykans al die lekker konfyte self maak. Vye konfyt is anders en so ook Waatlemoenkonfyt.

In konfyt kook is daar so paar basiese dinge wat moet gebeur anders is die resultaat nie goed nie. Hier is die "Pressure points" soos die Masterchef mense sou sê ...

1. Jy moet al die water uit die vrugte kry.
2. Moenie dat die mengsel kook voor die suiker nie opgelos is nie.
3. Moenie die konfyt te donker laat word nie.
4. Kry die "set point".

Die 4 punte is waarom konfyt maak draai en ek gaan jou vertel hoe om dit te behaal sonder om mal te word agter die potte.

Bestandele:

1 kg Vrugte - Appelkoos, Perske, Tamaties, Guava, Suurlemoene, Lemoen
750gr tot 850gr Suiker (Jy kan dit kies afhangend van hoe soet jy die konfyt wil hê.)
125ml Vars suurlemoensap
1 tot 3 teelepels growwe sout. (Ek gebruik gewoonlik so 2 teelepels.)

Heel belangrikste is die suiker verhouding tot die vrugte - 75% tot 85% Jy kan self bietjie eksperimenteer met bruinsuiker, dit gee 'n heerlike karamelsmaak wat lekker is met Tamatie en Suurlemoen.

Hierdie is die basiese resep vir al die konfyte en dit is hoe ek die meeste van my konfyt maak.

So werk die lepel vir oorkook
Jy kan nou verder gaan en allerhande speserye byvoeg ... Chili Flakes by die Tamatie, Gemmer by die lemoen en suurlemoen, ster anys by die perske ... eksperienteer na hartelus maar maak eers een pot sonder al die byvoegings.

In die verlede het ek my perskes afgeskil soos my ouma dit gedoen het tot ek op 'n dag die klomp perskeskille afsonderlik gekook het en fyn geklits het met 'n stick blender en besef het dat daar 'n helse klomp smaak in daardie skille is ... toe stop ek om my perskes af te skil.

Deesdae was ek my vrugte mooi in louwarm water en die perskes skuur ek skoon met 'n skottelgoed sponsie ... daai hare is nie lekker of mooi in jou jêmpot nie.

Hierdie skif skep jy af
Appelkose breek ek net in die helfte en dis al. Perskes sny ek van die pit af en sny in repies, nie te dun nie, so dik soos 'n potlood min of meer. Tamaties sny ek in blokkies so min of meer so dik soos my duim. Guavas sny ek in skywe, so 4 of 5 per vrug en dan sny ek die skywe in kwarte. O ja, guavas skil ek af met a groente skiller vir konfyt, vir chutney los ek die skille aan. Lemoene en suurlemoene skil ek af en sny in skywe en dan sny ek die skywe in kwarte.

En dis wat ek doen vir die voorbereiding.

Nou benodig jy 'n bak van 5 liter. Dis belangrik dat die bak al die vrugte en die suiker kan hou.

Weeg jou vrugte en gooi dit in die bak. Weeg nou die suiker af en strooi dit bo-oor die vrugte sodat jy al die vrugte bedek. Sprinkel die sout nou oor.

Skil Guavas
As ek perskes kook gooi ek ook die pitte in die bak want daai vleisies om die pit kook lekker saam met die konfyt en is as kind was dit soos lekkergoed vir ons.

Met appelkose tel ek gewoonlik 12 pitte uit en gooi dit in saam met die vrugte. Die rede hoekom ek dit tel is sodat ek weet hoeveel ek moet soek voor ek die konfyt bottel. Die pitte gee smaak aan die konfyt.

Maak nou die bak toe. Ek maak dit gewoonlik toe met kleefplastiek.

Laat staan nou die bak met suiker en vrugte vir 12 tot 18 ure. Hoe langer hoe beter.

Guava konfyt
Ek glo die meeste mense kan onthou hoe die oumense se konfyt kokery 'n lang en irriterende kookproses was, ure en ure op die stoof met die onafwendbare oorkokery of aanbrandery. En dit is wat die meeste mense afsit om konfyt te kook.

Nou die rede vir die helse lang kokery is om die water uit die vrugte uit te kry en as jy nou bytel die water wat in die pot gegooi word in die begin om die kokery aan die gang te sit dan sit jy met 'n moerse klomp water wat uitgekook moet word en dis hoekom dit ure en ure gevat het.

Die vrugte wat jy nou onder die suiker toegegooi het gaan nou deur 'n natuurlike proses van ontwatering. Die suiker gaan elke druppel vog uit daardie vrugte trek en sodoende die basis vorm vir die suikerstroop. Die heel belangrikste is dat daardie vog is vol van die vrugtegeur wat onmiddelik jou stroop 100de maal meer geurig maak as gewone water. Veral die perskes gaan aan die einde van die 18 ure baie dun lyk. Moenie stress nie ... sodra jy begin kook gaan die perske stukkies weer lekker opswel.

Dis hoekom ons konfyt kook
Na 6 ure roer ek gewoonlik die bak vrugte en suiker met 'n houtlepel. Daar is nou baie vog in daai bak en jy begin 'n stroop vorm. Die roer verseker dat daar nie vrugte stukke bo-op die stroop dryf en nie ordentlik ontwater nie.

By 18 ure sal jy vind dat 'n groot klomp van die suiker reeds opgelos het in die onttrekte vog. So die natuur het die grootste deel van die kook werk vir jou gedoen sonder enige kokery en jy het baie minder water om mee te begin.

Nou kom ons by die regte kokery en ek het vir myself 'n ordentlike konfytpot gekoop. Die belangrikste van die konfyt pot is dat dit 'n lekker dik bodem moet hê anders gaan jy jou konfyt maklik aanbrand.

Tweedens moet hy groot genoeg wees anders gaan jou konfyt oorkook. My pot is 8 liter.

Nog 'n "SetPoint" toets
Roer jou suiker vrugte mengsel goed om meer suiker op te los en gooi die mengsel in jou pot. Gooi nou a halwe koppie water, 125ml in die bak en spoel die oorblywende suiker uit in die pot in. En dis jou mengsel waarmee jy begin.

Nou moet jy jouself kalm kry en staan maar en droom daar by die stoof. Jy moenie die pot alleen los en ander dinge doen nie. Pas hom op ... dis ongeveer 30 tot 45 minute wat jy nou insit vir baie lekker konfyt. 'n Klein opoffering om te maak in tyd.

Sit die plaat op medium hitte en roer die mengsel gereeld. Jy moet baie seker maak al die suiker is opgelos VOOR die mengsel begin kook. Dit vat so 5 tot 10 minute. Sodra die suiker opgelos is, dan draai ek die gas vol oop en roer bykans voortdurend. Binne 5 minute begin die mengsle lekker borrel en kook en begin skuim maak. Nou stel ek my horlosie vir 15 minute.

Perske konfyt
Ek lê 'n groot houtlepel oor die pot, klink na 'n ouvrou storie maar glo my vry, dit keer dat die mengsel sommer oorkook.

Jy gaan spoedig sien dat daar baie skuim begin vorm en kwaai opstyg. Roer hom maar plat ... moenie nou die storie volg van "SKEP DIE SKUIM AF NIE" ... daardie skuim bevat die oorgrote meerderheid van jou konfyt se smaak ... hanteer dit ... of skep maar af as jy smaaklose winkel konfyt wil hê. Die skuim word gevorm deur die stoom van die water wat uitkook en is deel van die proses. Aanvanklik sal die skuim baie lig wees maar namate die stroop verdik sal die borrels al groter word.

Pasop tydens die wilde kokery ... die onderste laag van die konfyt is baie warmer as die bolaag en sodra jy die lepel insteek om te roer gaan daardie warm laag basies ontplof soos jy die stoom vrylaat en die pot gaan woes borrel en spat. Glo my vry dat daai konfyt spatsels brand kwaai waar dit jou vel tref.

Die resultaat
Na 15 minute gaan die alarm af en nou draai ek die plaat af na medium.  As jy haastig is en nie die plaat afdraai nie kan jou konfyt baie donker word. Tydens die 15 minute het dit 'n paar keer gelyk of die pot gaan oorkook. Nou sal die pot kalmeer.

Roer nou die suurlemoensap by. Op die stadium sal jy nou sien die skuim is baie minder maar daar begin sulke dik duidelike digte skuim kolle en strepe op die konfyt vorm. Ek skep dit versigtig af met 'n grootlepel wat ek 90 grade gebuig het. Hierdie dik "skif", soos my ouma dit genoem het, kan jy gerus afskep want dis meesal onsuiwerhede wat op die vrugte was ... dit is ook soms duidelik olierig ... dis die was wat die verpakkers op die vrugte spuit en jy wil dit nie in jou konfyt hê nie.

Soet Lemoen konfyt
Nou kom ons by die plek waar jy die "set point" moet kry. Nou daar is baie stories oor dit en die mees algemene een is om van die konfyt op 'n koue piering te skep en dan die plassie met jou vinger te stoot om te sien of hy rimpel. Ek het gevind dis te omslagtig en nie baie betroubaar nie.

Vou 'n vel handoekpapier dubbel en sit dit op 'n klein bordjie. Plaas die bordjie op die stoof naby jou pot.

Ek stel nou my horlosie vir 5 minute. Sodra die klokkie afgaan roer ek die pot goed en sit so blertsie van die konfyt op die papier. Jy sal duidelik sien hoe die papier die water opsuig ... solank daardie blertsie 'n duidelike nat rand maak is die konfyt nog nie reg nie. Toets elke 5 minute. So by die 3de of 4de een gaan jy sien die konfyt druppel bly meer droog. Die toets is 10 sekondes ... as die randjie droog bly vir 10 sekondes is jou konfyt reg en jy kan maar die plaat afsit.

Vrugte onder die suiker
As jy pitte ingesit het moet jy dit nou uithaal. As jy wil kan jy nou so eetlepel vol goue stroop bymeng, net so bietjie ekstra versekering teen sandsuiker.

As jou konfyt ooit versandsuiker in die bottel ... moenie stress nie ... skep die bottel uit in 'n glasbakkie ... roer een eetlepel vars suurlemoensap by en blits in die mikrogolf oond vir 1 minuut ... roer mooi en blits weer. Blits dit 5 keer vir een minuut en roer. Bottel weer.

As ek perske konfyt kook laat ek die pot nog 5 minute kook na die laaste toetsie. Dit gee vir jou sulke lekker taai "rek en trek" perske konfyt. Moenie te vêr gaan nie want dan gaan die konfyt tammeletjie maak in jou bottels en jy gaan dit nie maklik uitgeskep kry nie. Ek maak sulke taai perske konfyt om in my beskuit te gebruik.

Suiker doen sy werk
Daar het jy dit ... al die "Pressure Points" gehanteer in niks langer as 40 minute nie. Suiker was opgelos voor jy kook, pot het nie oorgekook of aangebrand nie en jy het die perfekte "SetPoint".

Nou vir die bottel. Spoel jou flesse uit met warm water en sit net so nat in die mikrogolf vir 3 minute. Kook 'n ketel water en sit 'n glas bak by jou op jou werksplek.

Haal die bottels uit die mikrogolf en keer om op 'n vadoek om enige water wat nog in mag wees uit te laat.

Skep nou jou bottels vol ... ek het so lekker wye bek tregter gekoop om te help.

ManKos ... Brood en konfyt
Sit die deksels in die glasbak en gooi die kookwater op dit. Ek haal die deksels uit met 'n vurk en tik die water af op papierhandoek. Draai die deksels op en laat staan nou om af te koel.

En dis hoe maklik konfyt kook is.

Dis ook relatief spotgoedkoop gemeet teen gekoopte konfyt.

Hierdie storie is saamgestel uit dure ondervinding en dinge wat ek by my ouma, my ma, Helena Kruger, Daleen Brits en by Annelien Pienaar geleer het.

Regte ManKos ... Brood en Vleis
Ek glo ook dat omdat mans gewoonlik erg oor konfyt is, is dit niks minder as reg dat hulle die konfyt kook nie. Trek jou man nader en laat hy lees en moedig hom dan aan om dit te doen. Baie van julle gaan frons omdat ek dalk te min suiker gebruik, maar ek doen dit so want ek wil ook die vrugte proe. Meeste mense reken jy moet die suiker netsoveel as die vrugte maak ... ek doen nie.

Daar is mense wat jou vertel jy moet botter ingooi om die skuim te keer ... hmmmm ... ek sê liewer niks want dit sal onbetaamlike woorde wees. Die hele skuim proses is deel van die wiskunde om die water uit te kry. Bestuur dit net behoorlik want dit moet gebeur.


Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.

Sondag 23 Julie 2017

Konfyt - Guava konfyt bekoring

As jy van konfyt kook praat dan verskyn daar prentjies in 'n mens se kop ... lang ure voor die stoof, onvermydelike oorkokery en dan die altyd moontlike aanbrandery. Konfyt kook word vereenselwig met ure en ure se gestoei met 'n pot en dis die rede hoekom die meeste mense wegbly van konfyt kook af. Enige konfytkoker gaan jou vertel dat die hele kookproses is spesifiek daarop gemik om die water uit die vrugte uit te kry ... as jy dit nie doen nie gaan jou konfyt versandsuiker.

Heerlik en jy weet wat is daar in
Soos julle sekerlik by die tyd weet, ManKos is gefokus daarop om meer mans te laat kook en omdat ek 'n man is, weet ek dat mans nie sommer in langdradige prosesse betrokke raak in die kombuis nie ... ja ... 'n man kan vir ure langs die viswater sit en dit met oorgawe doen maar die blote gedagte aan ure agter 'n pot op 'n stoof laat hom sommer dadelik sy visstokke inpak en koers kies dam toe.

Vir my is dit die afgelope vier jaar of so 'n helse probleem as ek blikkies of pakkies goed sien op die supermark se rak ... my brein spin om al die goed wat in daai blikke of pakkies gegooi word en daar is meer as genoeg bewyse reeds dat ons vergiftig word deur die big brands.

Skil maar af
Nouja, ek is soos menige man, dol oor brood en 'n lekker broodjie met lekker konfyt is iets wat my na my jeug laat verlang. Omdat blikkies konfyt deesdae so suspisieus lyk vir my het ek so drie jaar terug begin konfyt kook. Nouja ... ek het die lang pad geloop en was baie naby aan opgee toe ek te doen kry met Annelien Pienaar ... sy  vertel my toe hoe haar ma konfyt gekook het. Wel, ek is altyd oop vir makliker maniere en ek het die basiese beginsels wat sy my vertel het gaan toepas. So oor baie potte konfyt heen het ek die proses vereenvoudig en opgebreek in klein komponente. Vandag gaan ek jou vertel hoe om Guava konfyt te maak.

Hoekom Guavas ... wel as die goed in seisoen is dan is hulle orals op straat by smouse en daar is groot pakke van dit. Die groot nadeel is natuurlik dat die vrugte sommer vinnig kan afgaan en in 'n papperysel ontaard. Maar Guava Konfyt is iets besonders en baie lekker. Ek dink dis die natuurlike balans tussen soet en suur wat dit so lekker maak.

Net terloops ... jy het dalk al iewers gelees of gesien kokers skep die skuim van die konfyt af ... moenie dit doen voor reg op die einde nie. Daardie skuim is smaak konsentraat en in die begin is daar woes baie skuim ... as jy dit te vroeg begin afskep gaan jy smaak inboet.

Dis die begin
Ek gaan julle die storie vertel rondom so 1kg guava stukkies ... my resep werk in verhoudings so jy kan enige volume vrugte gebruik.


Skil die Guavas af ... die skille is nie lekker in konfyt nie en kan ook jou konfyt onaantreklik laat lyk.

Kerf die guavas in blokkies omtrent so 10mm groot.
Suiker oor gegooi
Gooi dit alles in die bak en skud dat dit lekker plat en lê.
Nou gooi jy so 750 tot 800gr Witsuiker oor die die guava stukke, jy wil so kors oor die guava stukkies vorm.
Maak toe met kleefplastiek en los dit uit. Oor die volgende 12 ure gaan die suiker sy ding doen, dit gaan die vog uit die vrugte uittrek en jou 'n klomp ure voor die stoof spaar.

12 ure is verby
12 ure later ... lig die plastiek en roer die storie mooi deur met 'n houtlepel ... jy sal nou sien daar is reeds baie vog in die bak en dit vorm alreeds 'n stroop.
Maak toe en los nog 12 ure.

Nou moet jy dit goed roer, voeg 1 koppie water en 'n halfkoppie vars suurlemoensap in. Twee teeleepels sout en roer weer goed.

Sit dit nou in 'n lekker swaarboom kastrol en maak groot vuur onder dit.

Jy moet bly roer want jy wil al die suiker opgelos kry voor dit begin kook. Hou maar dop ... skielik gaan daai pot sterk begin skuim en op stoot. Stel nou jou timer vir 25 minute.

Kook lekker vinnig
Reguleer dit maar met die gasvlam, die deel is belangrik want nou dryf jy die water uit die mengsel uit. 'n Houtlepel wat so oor die pot lê sal verhoed dat die pot sommer oorkook.

Roer maar gereeld en hou die hitte so hoog jy kan. Maak veral seker jy skraap die bodem baie goed want dis waar aanbrand kan begin.

Vou 'n stukkie handoek papier dubbel en sit op 'n kleinbordjie. Die is nog 'n ManKos ding en dit werk baie beter vir my as die sogenaamde rimpeltoets.
Toets strokie

Op 15 minute moet jy begin toets. Drup 'n druppel op die papier. Kyk of die druppel heel bly en of die papier nat word om die rant. Solank daai druppel nat word is daar nog teveel water in die mengsel. Kyk mooi na die foto.


Toets elke 2 minute. Dis belangrik, want die konfyt kom baie vinnig reg hier op die einde.
Sodra die druppel droog bly vir 5 sekondes dan is jy reg. Onthou, hoe langer jy kook hoe donkerder en taaier gaan die konfyt word. As jy dit oordoen gaan die konfyt baie taai in die bottels word en jy gaan sukkel om dit uit te skep ... dis hoe mens rek en trek perske konfyt maak.

Klaar ... skep die skuimpie af
Draai die hitte nou af na baie laag en skep nou eers die skuim af ... dit sal sulke dik plassies en stringe op die opervlak vorm. Moenie te woes skep nie want glo my ... jy weet nie hoeveel smaak is in daai geel skuim nie.

Reg vir die bottels
Nou vir die bottels ... die algemene gebruik is om die bottels te kook in 'n pot en dan spook jy met daai warm bottels en brand nog 'n paar vingers, die wat nie reeds deurgeloop het tydens die konfytkokery nie. Die maklike manier is om jou bottels uit te spoel met koue water, keer dit vinnig om en laat val die meeste water uit maar jy wil nie die bottel droog hê nie. Pak die nat bottels nou in die mikrogolf oond en laat waai vir 2 minute. Die bottels is nou skoon. Ek vat dan die bottel oor sy bek met 'n klein vatlappie en dop hom om, om die laaste water te laat uitloop. Sit die bottles op 'n broodplank op my werksblad en skep maar die konfyt in.


Die deksels gooi ek in 'n glasbak en gooi kookwater oor dit. Ek haal die deksels uit met 'n vurk en druk dit droog met handoek papier en seël die bottels.

En so maklik is konfyt maak op die ManKos manier.

Ter opsomming:

1 tot 1.2 kg Guava stukkies
750-800gr Suiker
2 Teelepels sout
1 Koppie water
1/2 koppie vars suurlemoensap.

Hierdie proses werk net so goed vir perskes, appelkose, pynappel, mangoe en tamaties.

In my huis maak ons so elke twee weke al die tamaties en vrugte bymekaar wat oppad is kompos toe, skil af en sny die swart blertse af en kook konfyt. Soms meng ek dit wat daar is om 'n sinvolle mengsel te kry want dis tydmors om net een tamatie te kook. Jy kan appel en pere ook in die mengsels ingooi maar ek het nog nooit dit probeer met piesang by nie. Kyk mooi na wat die mengsel jou gekos het en vergelyk dit met wat konfyt kos in die winkel. 1kg vrugte eindig op in so drie en half 375ml botteljies ... by 'n padstal is dit omtrent R180.00 se konfyt ... neem nou in ag as jy dit met vrugte gemaak het wat oppad kompos toe was ... 'n helse besparing.

Nou daar het jy dit ... ManKos konfyt kook ... en konfyt kook is gladnie nodig om in so helse marteling te ontaard nie. Op my manier is dit selde langer as 30 minute van ek begin kook tot die bottels vol is nie.

Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.

Dinsdag 20 Desember 2016

Konfyt - Appelkoos is altyd 'n wenner

Somertyd is ook Appelkoostyd ... daardie verruklike geel goedjies met die rooi wangetjies. As jy hom oopbreek, dis nou te sê jy het goeie appelkose in die hande gekry, dan is daar mos 'n geur wat jou laat glimlag en die sagte sappige vruggie trek mooi skoon weg van die pit af. En dan as jy hom in jou kies druk en die eerste kou gee ... 'n geur wat my laat terugverlang na my kinderdae op die Hoëveld ... ons het rondgespeel onder die groot appelkoos bome op my oupa se plaas en was omring deur die geur van appelkose.

Heerlike tuisgemaakte Appelkooskonfyt
Maar o genade ... dan was daar ook die nagmerries van teveel groen appelkose eet en die daaropvolgende appelkoosmaag, soos my ouma dit genoem het. Dis juis die appelkoosmaag ding wat my altyd versigtig maak as ek by appelkose uitkom, en goeie brieke aan my belusting vir die vruggies sit.

Noodgedwonge is appelkoostyd ook die tyd vir appelkooskonfyt en dis 'n ander storie ... wel dit was 'n langdradige en tydrowende proses met die gepaardgaande oorkook en aanbrand. Alles dinge wat die meeste mense kopsku maak vir appelkooskonfyt kook. Ek is 'n kranige konfytkoker en daar is min dinge wat ek nie al in my konfytpot gehad het nie ... sommiges was heerlik maar daar was ook maar 'n paar lelike blapse.

Hertzoggie in 'n pan
Desember maand is ook die tyd vir Hertzoggies en Jam Têrtjies. Albei goedjies wat baie staatmaak op goeie appelkooskonfyt. Ongelukkig is dit wat ons deesdae in blikke koop meer pampoen as appelkoos en dit is maar 'n flou verskoning vir die ware Jakob. Ja, ek weet daar is tientalle spesialis konfyte deesdae in die winkels maar dis duur, soms peperduur. As jy jou oë oop hou kan jy winskopies koop by die vrugterakke in jou Supermark ... sodra die appelkose begin afgaan dan merk hulle dit gou af en dis dan die tyd om te koop.

Laat November lees ek Annelien Pienaar se Appelkooskonfyt (Skakel) resep raak en dit laat my frons. Dis heeltemal anders as wat ek geleer het. Maar nouja, ek is nie iemand wat skrik vir 'n nuwe metode nie en ek besluit net daar en dan dat sodra ek die geleentheid kry gaan ek die metode van Annelien probeer.

Die grootste verskil van Annelien se metode is dat jy die appelkose bedek met die suiker in 'n bak en dan laat staan jy dit vir 'n tyd. Sy beveel oornag aan maar ek laat myne so 18 ure staan. Na sowat 8 ure is daar al heelwat vog in die suiker en dan roer ek die mengsel om met a groot lepel. Daarna roer ek so elke uur. Wat nou gebeur is dat die suiker die vog uit die appelkose trek en die suiker begin 'n stroop vorm. Afhangende van hoe ryp jou appelkose is, mag dit nodig wees om bietjie water by te gooi. Ek laat die hele strooptrekkery maar eers klaarmaak alvorens ek besluit oor die water. As jy baie ryp appelkose het dan is die water nie nodig nie. My tweede klomp appelkose was minder ryp en ek moes so koppie water bygooi. Sit so 5 pitte in die bak saam met die suiker. Maak seker jy tel mooi hoeveel jy insit want jy wil dit uitskep voor jy begin ernstig kook. Die pitte bring 'n lekker smaak in die konfyt.

So toets ek my konfyt
Nou met konfytkook is die grootste doelstelling, om soveel as moontlik water uit die vrugte te kry want dis die water wat kan veroorsaak dat jou konfyt sandsuiker maak. Met Annelien se metode trek die suiker die water uit voor die tyd en as jy begin kook dan is dit baie gou uit jou konfyt uit, andersins is dit ure en ure se kook.

Sodra van die appelkose in die stroop begin verkleur dan is tyd vir kook. Ek gebruik 'n lekker dikboom pot, dit voorkom dat die konfyt sommer aanbrand. Dis belangrik want anders as gewoonlik, kook jy die konfyt baie vinnig. Op die foto kan jy ook sien ek sit 'n houtlepel oor die pot neer. Dis om te keer dat die konfyt oorkook in die begin.

Om die konfyt te kook is daar drie fases waarvoor jy moet oplet;

Eerste fase in die begin:
Fase een
Moenie jou plaat te warm maak nie. Daar is baie onopgeloste suiker in die pot en jy kan die storie maklik laat aanbrand. Roer aanhoudend totdat al die suiker opgelos is. Dis die tyd wat jy kan besluit om ekstra water by te gooi as die sous te min lyk vir jou. Spoel maar die kante van jou kastrol af met 'n nat kwassie om die suiker af te was want dit kan kristalle in jou sous veroorsaak.


Tweede fase:
Fase twee
Die suiker is opgelos en nou moet jy die plaat warm maak. Hoe vinniger jy die konfyt afkook hoe ligter is jou konfyt in kleur. Nou kan jy nie die pot alleen los nie. Dis ook nou die tyd om 'n houtlepel byderhand te hou om oor die pot neer te sit want die konfyt gaan baie skuim maak sodra die stroop warm raak en die water af dryf.

Spoedig gaan die konfyt erg begin skuim en opkook in die pot. Dis goeie praktyk om nie te klein potjie te gebruik nie. Jou aanvanklike mengsel wat in die pot ingaan moenie by die halfpad merk verbygaan nie anders gaan jy moet bontstaan vir oorkook.

Roer die konfyt deurentyd met 'n houtlepel en maak seker jy bly die boom van die pot skoon skraap.
Afhangende van die toestand van jou appelkose sal jy nou opmerk dat daar skif begin vorm tussen die skuim ... moenie nou oor dit bekommerd raak nie ... jou grootste probleem is die feit dat jou pot kan oorkook terwyl daar nog so baie water in die konfyt is. Dis een van die redes hoekom ek van 'n gasstoof hou ... as die skuim te woes raak dan draai ek die vlam kleiner en die pot bedaar amper onmiddelik. Dan laat ek hom so bietjie kalmeer en jaag weer die vlam op dat dinge kan gebeur ... met 'n elektriese stoof moet jy maar die pot op en af van die plaat skuif.

Dis baie belangrik dat jy gedurende die fase nie vir 'n oomblik die pot alleen los nie want dan gaan jy verseker deurloop onder 'n oorkokery of aanbrandery. As die nood sou roep is dit die beste om maar die pot van die hitte af te skuif, of die vlam toe te maak, en jou dinge gaan doen en terugkom en weer aangaan.

En dan ... eweskielik ... net so vinnig as wat die pot konfyt oorhoeks geraak het en net wou oorkook, dan kalmeer hy. Nou is fase twee verby, dit duur omtrent so tien minute.

Derde Fase:
Fase drie
Nou is jy in die finale afronding fase. Hierdie fase is ook so tien tot vyftien minute. Hou die hitte so hoog as moontlik en roer aanhoudend. Nou is die tyd om maar die skif af te skep. Sodra jy begin agterkom dat die borrels begin ontplof en stroop spatsels skiet so dan en wan uit die pot uit is jy baie naby aan klaar. Draai nou die hitte af na middelmatig toe anders gaan jy brand en jou hele stoof en omgewing bemors met stroop spatsels.

Daar is baie metodes om te toets of jou konfyt reg is en die populêre een is om so skeppie konfyt op a koue bordjie uit te skep en jou vinger deur dit te stoot ... as dit begin opfrommel dan is dit blykbaar reg. Ek gebruik 'n meer eenvoudige en praktiese metode. Ek vou 'n stukkie handoekpapier dubbel en sit dit op 'n bord. Dan drup ek so lekker druppel konfyt op die papier en kyk wat gebeur. Aanvanklik sal jy sien die druppel word omtrent dadelik platgetrek soos die papier die water uitsuig. Toets maar elke twee minute of so ... sodra jou druppel vir so dertig sekondes bly sit sonder om 'n nat randjie te vorm is jy klaar. Die hele kookproses duur so tussen 30 en 40 minute.

Al wat nou oorbly is om dit warm in gesteriliseerde flesse in te skep en te seël.

Resep:
1.2 Kg Appelkose
800gr wit suiker (Om en by 75% van wat die vrugte se gewig is.)
10 gr sout (Opsioneel)
250ml water - opsioneel

Jy kan maar kaneel byvoeg as jy wil of ster anys ... net ietsie anders.

Skakel: Annelien se Appelkooskonfyt

Lees maar my storie mooi deur en jy sal dit maklik regkry.


Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.

Vrydag 04 Desember 2015

Konfyt - Waatlemoen of Maketaan

Daar is baie min dinge wat lekkerder is as waatlemoen konfyt stukke en vars brood. Soos met baie van die outydse lekkernye is die konfyt ook besig om skaars te word en dit wat jy in die winkels koop is 'n flou verskoning. Man Kos gaan jou vertel hoe om dit te maak uit gewone waatlemoen uit.

Waatlemoen konfyt
Tensy jy 'n kontak het in die padstal bedryf of vriende of familie wat 'n vlytige boervrou ken, is jy gedoem want jy sal nooit die ware sensasie van maketaan ervaar nie.

'n Groot probleem vir die meeste van die mense wat graag die lekkerny self wil maak is die feit dat maketaan nie orals beskikbaar is nie. As kind het ons dit geken as "kafferwaatlemoen" ... maar deesdae is dit maketaan.

Die mense wat my ken weet dat ek 'n vlytige konfyt maker is en ek sal enige ding gebruik en konfyt maak. Ek is ook nie regtig a konfyt puris nie en vat kortpaadjies waar ek dit sinvol kan doen. Die eerste ding van konfyt maak is dat jy moet ontslae raak van die water wat in die vrugte is. Dit geld vir alle konfyt.

Tweedens moet jy 'n stroop maak wat die preservering kan help maar ook baie gaan bydrae tot die finale produk se smaak. Met goed soos tamaties, appelkose en perskes word die stroop omskep in 'n moes wat alles bydrae om 'n lekker eindproduk te kry.  Met die vrugte gooi jy die vrugte en suiker in 'n pot en begin kook. Die vrugte verskaf die water.

Waatlemoen word geskil
Maar maketaan is net soos groenvye ... die stroop is eenvoudig net wat dit is, 'n stroop. So die gewone toetse wat op konfyt gedoen word om te bepaal of die proses klaar is gaan nie eintlik werk nie want die stroop is baie loperig en net suiker en water. Dit gaan nie werklik set nie. Dis belangrik dat jy dit mooi verstaan as jy lus is om die lekkerny self te maak.

Ek het heelwat resepte vir maketaan konfyt maar vir die laaste poging het ek die riglyne van Annelien Pienaar van Boerekos met 'n Twist, gevolg. Haar resep is hier ... Maketaan Stukke.

Die eerste ding waar ek afwyk is dat ek gewone waatlemoen skille gebruik het. Hier by my is maketaan geweldig skaars maar almal van ons het toegang tot waatlemoen en gooi gewoonlik die skille weg.

Sny in ringe
Eerste het ek die heel waatlemoen bygekom met my Shogun Peeler. Kyk mooi na die fotos en jy sal verstaan wat ek doen. Die is die maklikste manier vir my en ook die vinnigste. Volgende het die waatlemoen in ronde skywe gesny want dit maak dit baie makliker om die vrug deel mooi uit te sny. Jy wil nie veel van die pienk vlees aan jou skil hou nie.

Deur in skywe te sny kan jy ook vinnig beheer kry oor die grootte van jou stukke skil.

Volgende sny ek die skilring in blokkies en dan is dit klaar. Dis baie belangrik dat jy besef dat hoe groter jy die blokke maak, hoe langer gaan jy kook en glo my, dis 'n lang proses.

Week blokies in Koeksoda water
Nou spoel ek die stukke skil baie goed af in water en dan bedek ek dit met water in a plastiek bak. Moenie a metaal skottel gebruik nie want jy moet dit so 12 ure week in koeksoda en die mengsel laat jou metaalbak verkleur en kan jou skil na blik laat proe. Meeste resepte sê jy moet in kalkwater week maar dis iets wat min van ons het so ek het koeksoda gebruik. Dit werk net so goed. So 3 eetlepels in die water.

Na 12 ure spoel ek die stukke goed skoon in koue water. Ek gaan ook nou die stukke deur en sny enige pienk vlees af. ... giet die water af en weeg. Jy soek so 1.5kg se skille ... myne was net onder 1.7kg en dis ok. Ek sal nie kleiner volumes sommer maak nie want die proses is lank en om so min te maak gaan net 'n mors van tyd wees. Gee liewer weg as jy nie so baie wil hê nie.

Die basiese stroop is 500gr Suiker en 750ml water. Maak die eerste sarsie aan in die pot waarin jy die aanvanklike stukke gaan kook.

500gr Suiker
750ml water

Kook eers sag in stoompot
Nou hier vat ek die eerste kortpad ... ek gooi al die stukke in my AEG Stoompot en gooi so 5 koppies water by. Klink baie maar moenie bekommerd wees nie. Die skille trek geen water nie, inteendeel dit stel water vry. So teoreties kan jy minder water ingooi maar ek vat nie kanse nie. As die skille brand kan jy dit maar wegsmyt.

Ek gooi nou ook so teelepel kaneel en 'n halwe teelepel Mixed Spice en 'n teelepel gemmer poeier in die stoompot.

1.5 kg skille (Min of meer)
1 teelepel Kaneel
1 teelepel Gemmer poeier
1/2 teelepel Mixed spice.

Kook nou in suikerstroop
Nou kook ek die skille vir 40 minute op High Pressure. Aan die einde hiervan moet jy die water alles wegsmyt. Dit gaan ook nie baie lekker ruik nie ... baie naby aan bossies reuk. Moenie jou nou aan dit steur nie. Onthou jy werk hier met 'n skil wat mens nie onder normale omstandighede eet nie. As jy nie 'n stoompot gebruik nie moet jy die skille in die water kook totdat jy vuurhoutjie deur die stuk kan steek. Dit kan twee of drie ure vat. Let wel, op die stadium het ek nog geen suiker in my water nie. Dis anders as wat die meeste boeke sê maar ek doen dit so want daai aanvanklike kokery haal die bossie smaak uit die skil en ek wil dit nie eet nie.

My stukke was so om en by 20mm by 10mm ... as jy die groot tradisionele blokke wil maak moet jy die stukke met 'n vurk prik voordat jy dit in die koeksoda week. Jy sal dalk ook 'n tweede sessie in die stoompot benodig want die binneste dele gaan nog hard wees. Alles die is goed wat deur die grootte van jou blokkies bepaal gaan word.

Voeg Muskadel by as jy wil
Nou kry ek die suikerstroop aan die kook in die pot en gooi dan die stukke skille daar in. Dis belangrik dat die goed vinnig kook, so jy moet 'n oog op dit hou. Die stroop behoort genoeg te wees dat die stukke vrylik kan swem en kook. As die stroop te min is, maak nog a "batch" aan en vul die stroop aan. Jou pot gaan bepaal of jy meer stroop moet insit. As dit 'n groot plat pot is gaan jy meer stroop nodig kry as 'n kleiner diep pot.

Baie belangrik ... dis skoon suiker stroop met geen gemmer in nie ... net skoon suikerstroop.

Ek het twee batches stroop in my pot gehad en dit het gekook dat dit bars. Ek het gereeld geroer met a houtlepel. Vir die eerste uur het ek die deksel op die pot gehou. Die bossies reuk is nou omtrent heeltemal weg.

Toe haal ek die deksel af en roer elke 5 minute. Die stukke het nou deursigtig geword en het reg begin lyk. Nog 30 minute se kook en toe sit ek die plaat af en maak die deksel toe. So het ek dit nou oornag gelos. Die is baie belangrik want nou begin daai skille die stroop insuig. Jy wil dit so goed as moontlik laat gebeur. Jy kan nou ook enige skuim wat gevorm het afskep. Daar behoort nie veel te wees as jy die proses gevolg het nie. As jy die suikerstroop kokery te gou begin het, gaan jy heelwat skuim kry.

Die volgende dag toets ek die stukke en die stroop is goed ingetrek en die konfyt is lekker maar dit kort nou smaak bevestiging.

In die bottels met genoeg stroop
Eerste kap ek vars gemer in baie klein blokkies. Ek sny eers repe, dan stokkies en dan kap ek die stokkies fyn. So tussen een en een en half eetlepel vol. Hou dit eenkant. Maak nou die finale batch stroop aan en sit solank die plaat aan onder jou pot konfyt ook. Dis baie belangrik dat jy nie koue stroop by die warm konfyt gooi nie. Albei moet kokend wees. Volgende gooi ek die gemmer in die konfytpot en dan die kokende stroop. Natuurlik moet jy versigtig wees want die goed kan jou lelik brand as jy nie fokus nie.

Nou moet jy by daai pot staan en gereeld roer. As jy nou agterlosig is gaan jy die suiker laat karamel vorm en dan kan jy dit maar wegsmyt. Dit moet die heeltyd lig en deursigtig bly. Spoedig gaan jy sien dat die borrels begin groter blasies vorm. Fyn skuim beteken die stroop het nognie verdik nie. Herdie laaste deel is nie langer as 30 minute nie. Sodra die borrels groterige blase vorm op die oppervlak sit jy die plaat af.

Jy kan toets deur a bord in die diepvries te sit vir so 10 minute en dan met a teelepel so blertsie in die bord te skep. Draai dit om te versprei en stoot jou vinger deur die blerts. As jy 'n paadjie kan vorm dan is dit reg.

Hier kom my finale kinkel. Nadat die plaat afgesit is en die borrels bedaar het gooi ek 150ml Muskadel in en roer dit mooi deur.

Heerlik op brood
Laat staan nou vir so 30 minute en skep in bottels. Jy gaan heelwaarskynlik stroop oorhou ... dis reg so. As jy te min het moet jy maar nog 'n batch aanmaak. Vir my was 3 batches genoeg. Met ander woorde totaal 1.5kg suiker en 2.25 liter water.

Hierdie is nie werklik konfyt nie maar eerder konserf, net soos groenvye ... die stroop word ook gewoonlik nie geëet nie en is net daar om die vrugte vogtig te hou en te bewaar.

Hierdie lekkerny is op sy beste saam met lekker vars brood en botter.

Ek kap dit fyn en roer in my muffins of skons in as ek dit bak. Dis ook lekker in roomys.

Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.

Donderdag 13 Februarie 2014

Maroelas - Colyn kook Maroela Konfyt en Jellie

Die Laeveld is lekker nat en as dit nie reën nie dan braai ons uit. Maar nouja dis maar die Laeveld. Februarie is dan ook Maroela tyd in die Laeveld, dit begin al hier in Januarie maar dis eers einde Januarie en begin Februarie wat die Maroelas regtig begin val.

Maroela Konfyt en Jellie
Ek het 'n paar Maroela bome hier in my tuin en 'n klompie op my grond. As jy deur die tuin stap dan ruik jy die Maroelas ... 'n reuk wat ek nie kan beskryf nie maar as jy hom ken dan sal jy dit nooit vergeet nie. Ok saam met die Maroelas kom die blêddie muggies ook ... duisende van hulle en ons hou die tuin skoon want anders dra die goedjies jou weg.

Elke jaar sien ek die Maroelas val en elke jaar neem ek my voor dat ons iets daarmee moet doen ... en elke jaar eet ek van dit. Eet is seker nou bietjie oordrewe want eintlik suig jy maar die sap uit die skil uit en dan sit jy vir ure met die vesel pit in jou mond.

Hierdie jaar het ek net eenvoudig besluit dat ek die vrugte moet benut. Ek gaan lees toe so bietjie en by Lekker Resepte vir die Jongergeslag kry ek toe die aanwysings.

Ek kommandeer die troepe op en gou gou toe word ek gepresenteer met 'n plastiek sak vol van die vruggies. Nou weet ek nie of dit uit kennis of blote geluk is nie maar die insamelaar het het 'n wye verskeidenheid vrugte ... baie rypes maar ook 'n goeie deel minder ryp vrugte in die sak. Ek is beindruk, vir een keer het halfmas instruksies tog 'n goeie gevolg gehad want ek wou nog verduidelik wat ek soek toe lui my foon en toe ek klaar is met die oproep toe is die man al weg.

Nouja ... soos ek sê, ek was gelukkig ... die mengsel was reg. Blykbaar moet jy so gedeelte minder ryp vrugte in die mengsel hê om 'n sukses van die storie te maak. Ek staan by die buite wasbak en spoel die vrugte af, maak seker daar is nie sand, gras of gediertes in die mengsel nie.

Ek gaan nie die resep in besonderhede verduidelik nie, dit kan jy gaan lees as jy die taak gaan aanpak. Ek gaan jou net vertel van die dinge wat ek gedoen het wat my aandag getrek het.

Die reeks resepte waarna ek verwys is handig want jy begin met die Maroelas ... kry jou jellie en daarna jou konfyt. Alles uit dieselfde oorspronklike maroelas uit.

Maroelas in die pot
Eerste stap is om die maroelas te kook sodat jy die sap kan uitkry. Ek sny elke maroela met 'n mes so halfpad om die skil. Gooi dit in die pot en bedek met koue water. Toe sit ek dit op die stoof op 'n medium vlam en laat hulle maar ordentlik kennis maak met mekaar. Ek het myne so vir 3 ure en nog 'n bietjie stadig laat kook met die deksel op ... my vermoede was dat jy nie teveel water wil laat verdamp nie en die maroela moes tyd gee om ordentlik uit te kook.

Waterige Maroela sap
Volgende gooi ek die spul deur 'n sif. en die vaal water mengsel gaan terug pot toe. Ek het dit in 'n ander pot gegooi en die maroelas terug in die oorspronklike pot gegooi en laat staan om koud te word.





Maroelas vir die konfyt
Die groot rede hoekom ek die maroelas laat afkoel het was om die pitte uit te haal. Nou kyk die was eintlik maar 'n morsige storie. Ek het elke maroela pap gedruk sodat die pit uitkom en dan het ek die maroela pit so deur my vuis laat glip om al die moes af te kry. Dit het my nogal 'n tydjie geneem.





By die eerste maroela wat ek so verpulp het, het Poppie net een kyk gegee ... geril tot in haar hakke en verdwyn kamer toe. My Poppie like niks van met haar hande in sulke papperye in nie en die blote aanskouing van dit gee haar die horries. Maar nouja ... ek ken haar so en dis seker een van die redes hoekom ek die meeste kook in ons huis want jy kannie 'n goeie kok wees as jy nie jou hande wil gebruik nie.


Maroela skille en moes
Ek gooi elke pit in 'n bak soos ek aangaan en die pitte is mylmerkers van my vordering. Bykans 3 kilos maroelas het 'n helse klomp pitte in. Laaste een gaan in die bak in en nou sit ek met a pot vol skille en moes. Nie baie ooglik nie. Volgende stap sou Poppie laat flou word het dink ek ... ek werk deur die pappery met my hand en breek al die skille in kleiner stukke. Dit ge my ook die kans om seker te maak al die pitte is uit.

Volgende stap weeg ek die klomp skille en gooi 50% suiker by, 'n ordentlike skoot suurlemoensap en toe terug stoof toe.

Die afgegooide water word ook 50% suiker bygegooi en twee eetlepels suurlemoensap. Ek gebruik sommer die uit die bottel uit want vir een of ander rede kan ek net eenvoudig nie sitrus bome laat groei hier by my nie ... en dit nogal in die hart van sitrus wêreld ... jis dit behoort my sleg te laat voel ... maar ek doen nie, koop 'n bottel en kom daar oor.

Dis nou naby middernag en ek het 'n klomp take in my besigheid wat my aandag verg so om die dag einde. Die elektroniese bank stelsels het nie respek vir my koskenades nie en is op 'n streng 24 uur klok. Jy is betyds of te laat en dit maak die verskil tussen steak of maalvleis op die tafel.

Albei potte is op die stoof en die jelliepot is baie water wat nie eintlik sommer kan verkeerd loop in 'n uur nie.

Die konfyt deel is ook baie waterig en ek is redelik seker hulle kan ook maar stadig aangaan sonder skade. Toe nie !

Maroela jellie
So kort voor 1 uur die nag toe is ek weer met volle aandag by die potte. Die jellie begin regtig mooi aankom maar die konfyt het so bietjie te ver gegaan op die bodem. Hoe vêr sou ek eers die volgende oggend uitvind, vir nou fokus ek op die jellie. Ek was aanvanklik baie skepties ... dit was 'n pot met khaki water in ... hoe gaan dit ooit mooi ligrooi jellie word het ek gewonder.


Maroela konfyt
Intussen sit ek maar 'n groot bord in die vrieskas en soos die skryfster in die resep aanbeveel begin ek die jellie toets toe dit helder begin raak in die pot. So by half twee se kant toe is dit reg vir my en ek sit die stoof af. Natuurlik is dit seker nie die regte ding nie maar glo my ... teen hierdie tyd was ek gatvol vir maroelas.



My dag begin so net na 6 in die oggend as die banke hulle eerste betalings sarsie prosesseer en dan moet ek reg sit vir moontlike haakplekke.

Redelik beneuk staan ek in die kombuis en wag vir die ketel om te kook ... ek is regtig nie 'n oggend mens nie en vanoggend is ekstra befoeterd ... ek het nie lekker geslaap nie en die aangebrande pot het by my gespook.

Ek sit albei potte op die laagste vlam en maak my koffie. Ek staan en kyk by die deur uit vir my honde terwyl ek so slurp koffie vat en toe 'n stewige trek aan my Camel. Die blou rook krul lui lui die lug in en my gemoed begin sak ... IT mense loop mos by tradisie op kafienne en nikotien.

Chaka ... my boerboel, loer my net so aan van sy lêplek af in die Lapa ... net soos ek is hy ook nie eintlik 'n oggend ding nie ... hmmm ... hy is eintlik heeldag nie in 'n goeie bui nie ... befoeterd gebore en bedonnerd groot geword ... Oubaas se honne ... hy is mos in elkgeval nie 'n troeteldier nie ... nee, hy is 'n waghond.

Ander dag vertel ek julle hoe hy my amper in die hospitaal in gepluk toe ek hom onderskep het waar hy volstoom oppad was na my tuin ingeneur toe.

Maroela Jellie
Ek moes nou daai mengsels weer warm kry sodat ek dit kan bottel.

So by half sewe gooi ek die jellie in botteltjies en toe kom Poppie in die kombuis in.

"Vir wat lyk jy soos rhenoster met 'n seer horing ?"

Terwille van ons huwelik en die kinders antwoord ek liewer nie en brom net ...

"Koffie asseblief ...."








Maroela jellie en konfyt
Ek was nou besig met die jam ... moet sê, dit proe lekker en my kop werk al klaar oor waar ek dit orals gaan gebruik. Ek is net vies dat ek nie my instinkte gevolg het nie en bietjie speserye bygesit het nie.

So dit was my ondervinding van Maroela jellie en konfyt.








Jammer ek het nie fotos geneem van die gebrande pot nie.

Hier is die link weer na die resepte toe ... Lekker Resepte vir die Jongergeslag

Wees so vriendelik en "Follow" my hier en SHARE dit ook wyd en suid. Ons maak nie geld uit die goed uit nie maar dis baie lekker om te sien dat lesers die inhoud waardeer. O ja en +1 is ook belangrik.

Lekker eet tot ek weer 'n storie skryf.

Lees ook gerus my Briekmerke Blog.