Vrydag 24 Januarie 2014

Botterbroodjies - Skons met 'n kinkel ...

Ek maak my oë oop en die eerste wat ek hoor is die drup in die geute. Die Laeveld is koel en nat. Ek sit en staar deur my studeerkamer venster uit oor die lowergroen plante en bome terwyl ek aan my koffie slurp.

Dis 'n mooi wêreld die en onwillekeurig dink and die Psalm se woorde ...

"U meetsnoere het vir my in mooi plekke geval."

Hierdie druilerige weer laat my verlang, laat my verlang na die geure uit my ouma se kombuis ... 'n kombuis waar die koolstoof altyd warm gegloei het en op dae soos die dan het sy vir ons pannekoek gebak. 'n Kombuis met 'n skoon geskropte hout tafel en een klein venstertjie. Die plek was altyd so in 'n halfskemer gehul. Blommetjies tapyt op die vloer en plastiek blokkies tafeldoek oor die tafel. 'n Laaikas met rakke bo-aan waar allerhande kombuisgoeters gepak was. Maar die ou swart koolstoof en seepsteen wasbak, dis wat ek die beste kan onthou.

Ek verlang na my ma se kombuis ... 'n silwerskoon blink kombuis met 'n spierwit elektriese stoof en net so wit yskas. 'n Gryserige "panelite" tafel en kaste teen die mure wat elkeen eksie perfeksie gepak was met nie een dingetjie uit sy plek uit nie. "Stainless steel" wasbak wat altyd skitter blink gevryf was, vadoeke netjies op 'n balke teen die muur en in 'n klein bakkie op die kant, die sponsie met a suurlemoen skyfie op.
In haar kombuis het sy my begin leer kosmaak toe ek skaars ordentlik op die tafel kon sien. Ek het maar op die stoel gestaan sodat ek mooi kon bykom. Daar het my liefde vir kosmaak begin. By haar het ek ook geleer om skoon en netjies te werk met kos.

Nouja soos ek reeds genoem het, die soort weer laat my verlang. Ek steek nog 'n sigaret aan en terwyl die blou rook luierig by die venster uitkrul onthou ek my ma se skons, sy was lief vir skons maak en sy was nooit lui om dit te maak nie. Vir baie lank het ek dit vermy maar so maand terug het ek besluit dat ek moet die ding baasraak.

Nou kyk, skons is nie so maklik as wat baie jou wil vertel nie. Nee, die ding moet reg wees om werklik 'n skon te wees. Die meeste kere bied mense en plekke vir jou skons aan maar dan is dit in werklikheid eerder Amerikaanse "biscuits" en nie skons nie. Skons moet uitmekaar kan breek en nie met 'n "snap" nie. As jy hom oopbreek moet die tekstuur so effens vogtig wees maar nie taai nie en verseker nie krummelrig soos koek nie. Skons moet ook veerlig wees en nooit dig nie.

Wel by my vierde poging het ek versigtig gebreek, gehap, gekou en toe geglimlag.

"Poppie ... dis nou groot woorde die maar hierdie is die lekkerste skons wat ek ooit in my lewe geeët het."

My vrou het my skepties aangekyk en toe self geproe.

"Nie sleg nie." het sy met 'n glimlag gesê en nog 'n hap gevat.

En so het ek hierdie jaar een vir een van dit wat ek basiese resepte noem, aangepak en oor en oor gedoen tot ek seker is ek kan dit doen sonder om flops te kry. Ek glo dat as jy 'n goeie versameling basies resepte in jou arsenaal het kan jy baie regkry deur die basiese resepte so bietjie te "twist".

Nouja vandag gaan ek die skons so bietjie "twist" ... ek het die idee gisteraand gekry terwyl na a TV program oor lekkernye gekyk het.

Ek glo baie van julle het al na die pakkies meel mengsels op die rakke gekyk en ek glo ook baie het al van die mengsels gekoop. Ek koop gereeld die crumpets mix want ek hou van crumpets en dis baie makliker om so pakkie om te dop as om al die verskillende bestandele uit te haal en bymekaar te sit. Een gevaar van die mengsels is dat die bakpoeier kan verslaan as die pakkie bietjie bejaard raak. So ek gooi maar altyd so bietjie bakpoeier by en so knippie koeksoda ... net vir die wis en die onwis soos my ma so gesê het.

So rukkie terug sien ek toe mos Sasko maak ook nou sulke pakkies en omdat ek daarvan hou om nuwe dinge te probeer, toe koop ek hulle skons mengsel. Ek hou van die pakkie, nie papier nie so hy gaan nie aanklam in nat klimate nie en ook ok wees in die yskas. Maar wees gewaarsku ... toets hom sommer daar in die winkel, sommige sakkies is nie so dig geseël nie. In elkgeval gooi ek maar hier ook so bietjie bakpoeier by vir "luck".

Nou kom ons begin bak ... soos gewoonlik raak ek nou weer langdradig met my stories ...


Die basiese bestandele ... baie min, Sasko pakkie, margerien of botter, melk en een eier. Ek gooi ook so knippie sout in.

Hier is so paar wenke;
1. As jy jou melk afgemeet het, spuit so goeie blerts suurlemoen sap daarin. Dit maak die melk dik en gee meer smaak.
2. As jy jou meel uitgegooi het, klits dit lekker goed met jou "wisk" ... party mense sif dit, die sif is nie vir my nie. Die groot idee agter die sif of the wisk is om lug in die meel in te kry want dit kompakteer in die pakkies.
3. As jy die melk by die eier voeg, klits dit regtig goed. Jy wil nie die eierwit drade in jou meel in sit nie.
Sit jou oond solank op 200C met a rakkie in die middel.

Nog 'n ding wat ek nie baie smaak voor gehad het nie was die botter of margerien wat jy in die meel moet invryf. Met my missie om skons reg te kry het ek maar oë toegeknyp en dit begin doen. Deesdae is dit amper terapeuties vir my en dit gee my tyd om so bietjie te besin. Gebruik jou vingers gryp sulke bondeltjies meel en botter en woel dit. Jy sal gou sien hoe die meel begin verkleur en die klonte wegraak.

Nou kom 'n belangrike stap en dis nie sommer ou vrou stories nie ... moenie die meel en melk mengsel te woes meng nie ... dis hier waar jy die verskil gaan maak en jou skons in "biscuits" gaan verander.
Ek maak 'n dammetjie in die midel van die bak en gooi die eier-melk mengsel hierin. Dan vat ek 'n tafelmes en begin die mengsel insny. Dis bietjie tydrowend maar daardie mes verhoed dat jy die mengsel onnodig knie.


Soos jy kan sien, die mengsel is nog nie vas nie. Die volgende stap is waar die kinkel begin, ek deel die deeg in twee. Strooi meel op my oppervlak en maak die eerste helfte plat. Jy moet versigtig wees, baie mense rol dit uit met 'n koekroller maar ek doen dit nie want dit kan jou deeg oorbewerk. Ek druk die deeg liggies met my vingers uit in 'n langwerpige vierkant. Wees geduldig, dis die moeite werd.


Die puriste gaan die blok se kante nou mooi reguit sny maar ek doen dit nie, hoekom moet ek daai deeg mors net vir looks ... dis 'n ander storie as jy nou die ding doen vir 'n kompetisie, dan kan jy maar gerus mooi reguit kante sny.

Ek druk die blok dat dit so min of meer vingerdukte dik is of 10mm vir die wat van akkurate mates hou.


Ek het so twee koppies vol vrugtekoek mengsel oor gehad van my kerskoek bakkery en dit was geweek in lemoensap. Eers het ek 'n lekker laag aarbei konfyt gemeer en toe die vrugte. Jy kan enige kombinasies van konfyt, vrugte en selfs neute gebruik.

Die volgende het ek die ander helfte van die deeg platgedruk ... probeer die twee so naby as moontlik aan mekaar te hou want jy moet onthou hierdie is 'n losserige deeg en dus nie so maklik om op te tel nie.


Nou het jy vleitige vingers nodig en so bietjie "luck" om die bolaag om te dop bo-oor die onderlaag. Dit klink moeiliker as wat dit is.


Druk nou die bolaag liggies vas op die onderlaag en dan sny jy dit in skywe. Ek gebruik a pizza cutter maar enige skerp mes sal die werk doen. Onthou dis 'n losserige deeg, so sny versigtig en pasop dat jy nie die mes trek nie.


Ek spuit my bakplaat en gooi dan meel oor wat ek rondskud tot die plaat mooi bedek is. Doen maar die moeite want as van die konfyt uitbak gaan jy dalk sukkel om die skons op te lig en die pan gaan moeilik skoonmaak.


Maak seker jy los genoeg spasie om die stukke want hulle rys mos so bietjie. Ek het so bietjie kaneel en bruinsuiker oorgestrooi nadat ek die bokante met eier geverf het.


Twintig minute later en daar is hulle. Mooi goudbruin en die kaneel ruik heerlik. Ek het myne geeët met Creme Fresh. Dit was heerlik.

Ek hoop die moedig so paar mense aan om skons te maak.

Lekker kook en bak tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook bladsy. Gaan like hom ... dis nou as jy my stories like.

Geniet dit.


2 opmerkings:

  1. Ek het nog nooit van droee skons gehou nie. Maar hier het jy nou die perfekte oplossing, dit klink hemels!
    Ek se mos altyd die mans is meer waaghalsig as ons vrouens as dit by kosmaak kom. . . . of gooi ek nou 'n klip in die bos?

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Damkie Dalene, ek het ook al regtig in skons vasgeloop wat mens wurg. Ek het geklopte room gemaak en soos 'n doop sous gebruik saam met die.

      Vee uit

Thank you for your comment. The comments on this blog are moderated and yours should appear soon.

Greetings
Colyn.