Wys tans plasings met die etiket Vark. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Vark. Wys alle plasings

Vrydag 24 Augustus 2018

Vetkoek - Vark lekkerte

Vandag is dit koel en klam in die Laeveld. Daardie tipe koue wat jou kort kort laat mik vir iets om aan te peusel. Augustus is mos ook Vetkoek maand en Amagwinya feeste is volop.

Wel hierdie jaar het ek besluit om ietsie anders te doen. Ek het vetkoek en vark Prego gemaak.

Vetkoek en Prego Steak
Nou voor ek verder gaan ... feitlik almal wat Prego ken, weet dat die goed gewoonlik stinkend van die knoffel is en dit is presies wat my enige dis wat die woord Prego in het, laat vermy soos die pes. Sit daar by dat dit van die minder goeie snitte gemaak word en jy sit met taai en seningrige stukkie vleis wat hop van die knoffel en meer van 'n troosprys is as iets van waarde.

So tydjie gelede het ek 'n verhouding aangeknoop met die plaaslike ESKORT slaghuis in Nelspruit. Hy het aangebied om die #ManKos Potjiekos span te borg. Dit was natuurlik 'n goeie ooreenkoms want ons Potjiekos spyskaart is 100% gebou op vark.

Voeg hier by die feit dat ek 'n groot liefde vir varkvleis het en jy kry nogal interesante disse uit die vark se lyf uit.

Terug by vandag. Ek staan in die kombuis en wonder oor wat ek in my vetkoek wil insit. My oë dwaal deur die yskas en toe onthou ek, Andrè het vir my 'n pakkie van ESKORT se Prego Steaks gegee om te probeer.

ESKORT Prego Steak
Op die oog af is dit duidelik dat die vereiste chillis is aanwesig en dit lyk na 'n goed gegeurde olie in die pakkie. Ek het nou al geleer dat vark nie regtig van baie hoë hitte hou nie en ek smelt so teelepel vark vet in my pan. Toe ek die pakkie oopsny ruik ek dadelik dat daar knoffel in die storie is en ek frons, maar nouja dis die tradisie en ek gaan maar kyk hoe rof is dit regtig.

Daar is vyf mooi stukkies steak in die pakkie en ek hou van dit wat ek sien. Ek braai dit vir so 90 sekondes op die een kant en draai om. Goed gebraai met die regte hoeveelheid korsie wat gevorm het. Nog negentig sekonds en albei kante is mooi gebraai maar ek vermoed dat dit nog rou gaan wees. Halfgaar vark is nie regtig iets wat jy moet eet nie.

Ek haal die steaks uit die pan uit ... daar is nou 'n goeie laag gebraaide sous en chillies besig om vas te brand. Ek gooi so kwart koppie water in die warm pan in en dit begn dadelik borrel. Met 'n lepel skraap ek die pan bodem mooi skoon en pak die steaks terug in die sous in. So een minuut aan elke kant en ek sny die dikste een met 'n mes. Die kleur is reg en ek haal dit uit en laat rus terwyl ek my vetkoek voorberei.

Ek bak my vetkoeke vir die soort ding altyd sodat dit heeltemal hol is. Baie plek vir vulsel met 'n heerlik korsie.

Bietjie botter ... of baie ... skeppie appelkoos konfyt, tuisgemaak, breek die steak in stukkes en pak 'n mooi lagie in die holte. Volgende, dun skyfies tamatie en 'n klompie slaai blare.

En daar is hy ... heerlik ... baie lekkerder as wat ek verwag het en die knoffel is vir my, 'n man wat sensitief is vir koffel, gladnie 'n probleem nie.

Ek kan die pakkie  #ESKORT Prego Steak aanbeveel. Dis goeie waarde vir geld en anders as met baie Prego pakkies, is hierdie vleis heerlik sag en sappig.

Lekker Vetkoek dag vir julle.

Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.

Saterdag 19 Mei 2018

Vark - Vlentertjies is Spotgoedkoop

Ek het lanklaas oor die ding van goedkoper kos gepraat. Dis iets wat my na aan die hart lê en ek is deesdae geweldig pryssensitief as ek disse beplan.

Bulk pak Varbene
Vandag wil ek julle vertel van die ESKORT MEATY BONES. Hier by my Varkwinkel in Nelspruit is dit weggesteek agter in die winkel waar die koppe en pote in groot pakke aangebied word. Met die eerste oogopslag dan wonder mens erg oor wat is nou eintlik in die sak en dis heel normaal om maar verby te hou. Ek is egter nogal 'n nuuskierige mens en ek is ook nie bang om iets vir 'n eerste keer te probeer nie.

Klaar gekook
Sowat 18 maande terug het ek my eerste ontmoeting met die 2kg sak Meaty Bones gehad. Sedertdien het ek dit nog drie maal gekoop en twee van my vriende het dit ook gewaag om die sak bene te koop. Ek het mooi rekord gehou van ons almal se ervaring en vandag kan ek met sekerheid sê dat daar tussen 800 en 1,000 gram vleis aan daardie bene sit. So teen die huidige prys van R49.00 vir die 2kg sak is dit dus om en by R49.00kg vir die vleis.

Heerlike vlentertjies
Wat belangrik is om te weet is dat dit werklik hoë gehalte vleis is. Wat jy in die sak kry is hoofsaaklik rugstring bene wat natuurlik uitval is waneer die duur snitte van die bene afgesny word.

Nou so maak ek ...

Sop
1. Gooi die bene in my stoompot met 'n groot ui wat in stukke gekap word en twee wortels. Dan maak ek 500ml van Ina Paarman se "stock" aan. Ek gebruik of die Hoender sop of Groente sop poeier. Dis die in die boepens botteltjies. So twee opgehoopte teelepels op 500ml water.

2. Nou kook ek die bene vir 50 minute.

3. Haal die bene uit en laat effe afkoel. Dan skraap ek soveel as moontlik van die vleisies af en kook die bene weer vir 20 minute in die stoompot. Nou skraap ek die bene baie skoon.

Pastei
4. Die water sous wat in die stoompot is gebruik ek vir die maak van sop en ek gooi so 100gr van die vlentertjies ook in die sop.

Waarmee jy nou opeindig is 'n bak vol heerlike vark vlentertjies wat ek gebruik in bredies, sop, pasteie en herders pasteie.

Ek en my vrou kry gemiddeld so 4 maaltye uit die bak vleisies uit plus die aanvanklike sop.
Bredie
Nouja na my mening is dit 'n groot winskoop. 10 borde kos waar die proteien ongeveer R5.00 per bord is.

Gaan kyk bietjie by die ESKORT winkel en probeer dit gerus.

Die vlentertjies is baie veelsydig en jy kan ook frikkadelle, krokette en patties met dit maak. Daar is so baie dinge waarvoor die vleisies kan aanwend maar die belangrikste is steeds die feit dat jy baie min betaal vir baie goeie varkvleisies.

Ek dink deur net so bietjie te sit en mooi te dink oor wat ons wil maak kan ons nogal lekker eet sonder om duur te betaal daarvoor.

As jy nie 'n stoompot het nie kan jy die bene in 'n oondpan pak met dieselfde goed as wat ek in die stoompot sit. Maak toe met blinkpapier en sit in die oond teen so 110C vir die nag. Die volgende oggend het jy 'n pan vol heerlikheid.

Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.

Vrydag 31 Julie 2015

Vark - Kaiings is en bly lekker

Omtrent 'n jaar gelede het ek die eerste storie oor kaiings geskryf en die storie is een van die gewildstes op my blog. Vark - Kaiings is onweerstaanbaar vir my. Gaan lees dit gerus.

Niks so lekker saam met pap soos kaiings nie.
Sedertdien het ek vele navrae oor dit gekry en die grootste probleem was die prys wat ons moet betaal vir die rou kaiings. Die vernaamste rede hiervoor is dat varklies mos deesdae 'n lekkerny geword het en die slagters vra 'n premium prys daarvoor. Weg is die dae to varklies as 'n goedkoop snit geklassifiseer was.

So kom dit dan dat ek Woensdag dorptoe gaan en 'n draai maak by die nuwe Eskort Vleiswinkel in Riverside ... daar waar Fruit en Veg was.

Natuurlik is ek van mening dat hier darem a goeie klompie vark snitte sal wees ... maar my oë rek ... hier is baie meer as net varksnitte. Soos mens kan verwag is daar a menigte van die bekende en ook onbekende ESKORT produkte.

Kyk daardie prys !
En toe sien ek dit raak ... Pork Back Fat ... R29.95 / kg ... wow ... dis 30% van wat ek betaal vir die varklies kaiings. Toegegee, daar is minder vleis in maar die feit is ook dat mens kaiings maak vir daai lekker klein sagte vet klontjies met die krakerige velletjie oor. So ek koop 'n pakkie wat so net onder die 1.3 kg is en dit kos 'n skamele R37.91. As jy so bietjie meer vleisies wil sien in jou kaiings kan jy 'n klein pakkie van die Stirfry koop wat hulle aanhou en dit by die vet in sny.

Ek maak kaiings hoofsaaklik om die skoonvet te kry want ek gebruik dit baie plekke in my kokery in plaas van botter, margerine of kookolie.

So hier het jy dus die geleentheid om kaiings te maak teen 'n baie bekostigbare prys. Ek gaan nou nie weer die hele proses beskryf nie want dis volledig gedoen HIER ...

Hier volg 'n reeks fotos wat die proses wys.


Jy het 'n lekker skerp mes nodig.

Sny alles mooi in blokkies

Ek gooi braai speserye op.

Nou is dit tyd om die vlam kleiner te maak.

Heerlike kaiings.

Lekker skoon varkvet.

Nou sal ek baie meer gereeld kaiings maak.


Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.

Maandag 05 Januarie 2015

Vark - Lekker ou eisbein

Lekker krakerige varkpoot
Eisbein, dis nou lekker Man Kos waarvan vrouens ook hou. Die lekkerte is in baie formate beskikbaar en met honderde resepte. Gerook, gepekel, gebraai of gestoom ... teveel om op te noem. Wat waar is, is dat sommige resepte meer geslaagd is as ander.

Klaar in die stoompot
So tydjie gelede vertel 'n vriend my van die vark lekkerte wat hy in die Fillipyne raakgeloop het en hy verduidelik in groot besonderhede wat dit was. Ek lyk maar skepties en later die aand toe spring ek op Google.

Klaar in die oond
Hulle noem die ding Crispy Pata. Die straatkos manier is waar die finale kookproses in diepvet gedoen word maar jy kan dit ook in die oond afrond. Baie mens gaan skrikkerig wees om so hele varkpoot in die diepvet in te sit.

Maak nou nie saak hoe jy hom gaan afrond nie, die eerste deel is dieselfde. Dit beteken jy moet die varkpoot sag kook in speserye. Ek gebruik my elektriese stoompot ... 40 minute en die poot is lekker sag.

Klaar in die diepvet
Nou moet jy die vark laat droog word. Oornag in die yskas sonder enige bedekking is genoeg. Die vel moet heeltemal droog wees.

Volgende vir my is die geur van die poot ... ek sit hom in 'n oondpan op 'n rakkie en vryf hom goed in met my gunsteling braaispeserye. Dan oond toe vir 1 uur teen 160C.

Reg vir die tafel
As hy nou uitkom sal jy sien dat hy al begin krispie raak. Nou kom die riller gedeelte vir baie ... daai poot gaan nou in die diepvet braaier in teen so 170 C. Dis 'n gespoeg en spat vir die vale hel in die begin, so wees versigtig. Hou hom dop en sodra jy sien die hele varkvel is lekker bros haal hom uit en laat rus hom op a draadrak. Dit laat baie vet en olie afdrip. Jy wil hom so tussen kamer temperatuur en warm kry ... jy moet hom gemaklik met die hand kan hanteer.

Op die bord
Die straatkos manne eet hom saam met lekker baie chips en 'n braai doop sous.

Vir opdiening druk jy hom eenvoudig plat met jou handpalms. Die vel breek in stukke en die vleis val van die bene af.

Ek het myne opgedien met lekker vars brood, plaasbotter en 'n bakkie spicy butternut sop.

As jy nie die diepvet ding wil doen nie dan maak jy so ... uit die yskas uit en sit jou sout en spesery op en dan oond toe ... baie warm ... 220C vir 20 minute ... dan draai jy die oond af na 170C vir nog 20 minute. Die resultaat behoort min of meer dieselfde te wees.

PS ... die ding is geil en jy moet dit nie elke dag maak nie.

Eet lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook bladsy ... Man Kos ... Like hom as jy wil.

Donderdag 17 Julie 2014

Vark - Ham en kaas varkies

Ham en kaas varkies
Ontbyt ... vir meeste van ons is dit eenvoudig bacon, eiers en toast. Na ek die Bacon en Kaas Snaxies gemaak het staan ek in die kombuis en kyk na die goedjies wat oorgebly het en wonder ... hoekom nie meer lyf nie ... Ek het heelwat goedjies gekoop toe ek die gereg moes maak vir Nina Timm se program en daar was 'n paar goedjies wat ek nie gebruik het nie.

Nouja ek is nogal bekend daarvoor dat ek 'n towenaar is met oorskiet kos uit die yskas. Meeste kere is dit verseker sulke ONE HIT WONDERS want die oorskiet is mos nie altyd dieselfde nie.

Lekker Ham
Ek maak die pakkie ham oop wat ek by My SPAR gekoop het en sny sulke 5mm repe af van die blokkie mozzarella kaas af.






Ham en kaas rolletjies


Ek sit een repie kaas op die kand van die ham en rol hom om. Nog 'n repie en maak die rolletjie klaar.






Mosterd op die brood


Volgende vat ek sny prood, hierdie keer sny ek nie die korsies af nie. Rol hom lekker plat met die koekroller, as jy pas opgebreek het met jou liefie en sy het die kombuisgekry, gebruik sommer 'n brandewyn bottel.





Brood en ham rolletjies




Smeer mosterd op die brood en rol die ham rolletjie daarin toe.



Bacon om en reg vir die oond

Volgende draai ek bacon repies om die hele rolletjie en daar lê die Man Kos Varkie, reg vir die oond.




15 minute later ...
Smeer jou bakplaat lekker met olyfolie. Oond lekker warm op 200C ... jy wil die varkie nogal vinnig bros kry. So 15 minute behoort heeltemal voldoende te wees.

Ek het dit bedien met suikermielies en 'n slaai. Jy kan dit saam met eiers bedien dan het jy die hele ontbyt.

'n Lekker kaas en sampieone sous sal ook baie lekker wees as jy dit oor die varkies gooi. Die moontlikhede is groot.

Hierdie kan die basis vorm van 'n baie lekker Saterdagoggend ontbyt.

Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook blad ... Man Kos ... Like hom stukkend as jy wil.

Saterdag 12 Julie 2014

Vark - Bacon en kaas snaxie

Bacon en Kaas Snaxie
Die hele wêreld om ons is deesdae vol kosstories, prentjies en praatjies. Mens sien honderde lekker goedjies en dink ... Dit moet ek maak .... en dan karplaks kom 'n nuwe prentjie op.

So tyd terug sien ek die goedjies, ek weet nou nie eers meer mooi waar nie maar ek het a nota in my boekie gemaak en toe gister besluit ek dis een van die goed wat ek die naweek gaan maak.

Hier is hy ...

Man Kos se Bacon en Kaas Snaxie.

Rol die brood uit
Bestandele:
1 vars gesnyde wit brood. Die pre-pack brood werk perfek.
1 Pakkie swoerdlose varkspek ... Streaky Bacon sonder die velletjie.
1 Pakkie van die gesnyde kaas vir toebroodjies.

Draai toe met Bacon
Metode:
Sny die korsies af van die snytjie brood
Rol hom nou mooi plat met 'n koekroller. Net in een rigting en net so twee of drie rolle.
Die uitgerolde broodjie sal nou nie meer vierkantig wees nie.
Sit nou 'n snytjie kaas op die een punt ... kyk foto.
Rol hom nou mooi styf op.
Draai nou die bacon repies om die broodrolletjie. Ek het twee stukkies gebruik per rolletjie.

Ligbruin en kraakvars
Vat 'n bakplaat en smeer hom met olyfolie en pak die rolletjies op.
Oond op 180C vir 15 minute rakkie in die middel.
Dan draai ek die oond op na 210C vir 10 minute. Maar staan en hou dop. Oonde verskil. Jy wil dit net ligbruin laat word en nie brand nie.

Die rede vir die eerste deel is om die bacon vet goed te laat uitloog. Dan maak jy dit net krispie op die einde.

Pak op handoekpapier.

Maak 'n lekker sousie wat soetsuur en mosterd is. Ek het ook basil blare bygesit.

Jy kan die broodjie dun lagie lekker mosterd oorsmeer, jy kan repies jalapeno insit, jy kan gekerfde suur uitjies insit, jy kan maple stroop oor die bacon sit voor jy bak ... daar is so baie moontlikhede. Moet net nie die vulsel te dik maak nie want dan gaan dit uitloop. As jy nie die kaas snye het nie ... rasper maar en sit mooi op, weereens nie te dik nie.

Lekker kook tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... Like hom stukkend as jy wil.

Luister na Nina Timm op RSG vir meer kos stories.

Dinsdag 17 Junie 2014

Vark - Kaiings is onweerstaanbaar vir my

Vandag is ek op 'n vreemde plekkie in my kop. Die winter lig, kaal bome, stowwerige strate, warrellende blare ... alles dinge wat my na 'n donker plekkie in my kop laat gaan. Sien die ding het so begin ... dit was in Augustus maand in Johannesburg se Garden City dat ek so deur die dokter se spreekkamer venster gestaar het ... alles buite was dood en kaal takke het soos vingers na die hemel gereik.

Binne in my was dit asof 'n blok lood op my siel gaan lê het ... dertig minute tevore het ek van my bike af geklim en met 'n veerligte stap die paadjie opgekom na die spreekkamer toe ... my vriend en dokter moes die steke in my nek uithaal waar hy tien dae terug 'n ding uitgesny het. Dis mos niks het ek gedink en op my fiets geklim in Pretoria ... die goue gras langs die pad af het liggies gewieg in die wind en die sonlig het geel op die pluime gedans. Die fotograaf in my het duisende prentjies gesien terwyl die swart teer onder my verbygegly het ... dit was lekker om te leef en dit was lekker om in die laat winter bike te ry.

In sy spreekkamer wou ek sommer deur stap na die kamer toe waar hy klein goedjies regmaak ...

"Wag eers ... kom sit hier by die tafel ... ek moet iets met jou bespreek."

Instinktief het sommer dadelik geweet hier is nou 'n ding ...

Woordeloos sit ek luister na sy relaas en verduidelikings en sy stem begin al meer na 'n stem op die radio klink terwyl my oë deur die die venster staar en vashaak op die dooie droë plante in die tuin. Dit was nie wat ek wou hoor nie ... verseker nie.

"Maar moenie nou teveel worry nie ... die was net 'n uitsaaing ... ons moet nou die primêre bron van die kanker kry en dan sal ons weet wat om te doen ..."

Die res gaan ek nou nie oor praat nie want dis geskiedenis ... die belangrikste is dat dit in 1982 was en ek is nog hier. Maar van daardie dag af het die ding van die plante wat so afvrek na die somer my erg omgekrap.

Nouja, vanoggend was ek weer by die dokter ... hierdie keer om steke uit my duim te laat haal en toe ek uit die spreekkamer uitloop toe vang die winter lig my en ek sien die baie dooie bome om my ... darem nou nie so erg soos op die Hoëveld nie ... dis een van die groot redes hoekom ek in 1994 Laeveld to geskuif het ... die doodgaan ding is baie ligter hier.

Kaiings is Man Kos
Beelde van my kinderdae op my ouma se plaas kom by my op. Winter was mos groot slagtyd en ek dink aan die vark slagtery ... die groot ou seeppot wat op die vuur staan waarin die vet uitgebraai word en ek onthou hoe sy die krummels uitgeskep het en in 'n geblomde erde bakkie gesit het ... dit was die beste deel van die hele slagtery vir my ... lekker vars brood en kaiings.

Ek stop by die slaghuis want hulle het my laat weet die skaap harte wat ek bestel het is daar. Binne dwaal ek so tussen die yskaste deur en besluit ... miskien moet ek tog bietjie kaiings maak. Die pers en die radio en die TV bly ons hamer met hoe mens gesond moet eet maar ek onthou my ouma se lagplooitjies en sien hoe sy die vet van haar lippe afvee ... en sy het amper 90 geword ...

Vark lies
"Te moer met dit !" ... brom ek en wink die slagter nader. Ek verduidelik hom mooi presies wat ek soek en hy lag so diep uit sy maag uit ...

"Oom ... jy gaan mos nou koningskos maak ... onthou net 'n lekker potjie pap."

Nouja terug by die kos ... laat jou slagter vir jou 'n lekker stuk varklies in blokkies sny. Maak seker daar is genoeg vet anders moet jy maar so bietjie spek by sit.

Die maak van die kaiings is nie baie moeilik nie maar dit kan nogal morsig raak op en om die stoof want die vet wat so uitbraai kan nogal spat. So ek gebruik maar 'n groot pot.

Begin stadig
Eerste soek ek die geil vet stukkies uit en dit gaan eerste pot toe. Nou braai ek dit uit totdat daar 'n goeie klomplie vet in die pot is. As jy dit nie doen nie is die gevaar daar dat jy jou kaiings gaan aanbrand in die begin.

So 90 minute in
Nou gooi ek die res van die lies in die pot in en dit spoeg en spat soos die koue stukkies in die warm vet beland. Moenie die deksel opsit nie want dan gaan jy die goed kook en dit gaan lank vat om uit te braai. Ek strooi 'n ordentlike klompie braai speserye oor die stukkies vleis want ek is nie lus vir geurloses kaiings nie.

Hou maar die pot dop en roer gereeld. Maak veral seker niks brand vas onder in die pot nie. Ek sit een van daai spatsel siwwe oor die pot om die vet binne te probeer hou.

Nou is dit reg
Na 2 ure is die kaiings reg. Ek skep dit uit met 'n siflepel in 'n bak in waar ek handoek papier onder in het. Nou nie iets wat my ouma gedoen het nie maar ek doen dit maar om my gewete te sus.

Laastens skep ek die uitgbraaide vet af in 'n beker in ... die gaan in die tye wat kom baie lekker werk om aartappels te braai en om maalvleis te geur ... ag man daar is sommer baie gebruike vir dit. Lekker uitgebraaide varkvet.

Ek het met 1.6 kilogram se lies begin en op die einde het ek 'n lekker bak vol kaiings gekry en so 450 ml vet.
Lekker pap ... reg vir die kaiings

Hierdie kaiings kan jy nou op baie maniere gebruik. Jy kan 'n lekker slaai maak en kaiings oorstrooi of jy kan dit op pizza sit. Jy kan dit op brood sit of in 'n omelet insit saam met kaas en sampioene.

Maar die heel beste vir my ... 'n lekker bakkie slappap en kaiings.

Lekker kook tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook bladsy ... Man Kos ... LIKE hom stukkend as jy wil.

Sondag 13 April 2014

Varktjops - ek braai dit weer

Soos ek al voorheen gesê het ... ek hou baie van varktjops. Dis vir my 'n groot lekkerte en dit gee my oop die geleentheid om al my lekker konfyte wat ek maak, te gebruik want vir my werk mooi saam met so soetigheidjie.

So rukkie terug het ek 'n lang beskrywing gegee van hoe ek Varktjops gaar maak ... hier is die artikel.

Vannaand gaan ek nie die lang storie skryf nie want alles is reeds gesê in "Varktjops ... groot lekkerte."

Sny die vel mooi af.
Vir my begin die ding al daar in die vleiswinkel. Ek soek my chops mooi uit. Ek soek a mooi vetlagie maar nie te oordadig nie want dan betaal ek teveel vir vet.

Nou by die huis. Kry 'n lekker skerp mes en sny die speklaag en vel af van jou tjop af.

Soos jy kan sien op die foto, ek los darem so bietjie vet oor aan die tjop ... jis mens moet darem dit bykry as jy eet want wat is 'n vark tjoppie nou sonder die ou vetjie.


Vel gesny
Volgende sny ek die vel deur sodat dit blokkies vorm ... kyk na die foto. As jy nie 'n vlymskerp mes het nie kan jy dit knip met 'n kombuisskêr.









Speserye op
Nou gooi ek speserye op die vet repe. Hier kan jy gooi waarvan jy hou maar onthou, die pan gaan baie warm word en jy wil nie goed opgooi wat bitter kan raak as dit bietjie te warm kry nie.









Dan sit ek die spekrepe in my ysterpan ... die pan is koud. Sit die repe neer met die velkant op die pan bodem. Jy wil die vel eerste begin braai want hy gaan opkrul as hy warm raak en jy wil hom eerste so bietjie laat warm kry.

Ek gooi so twee eetlepels water in die pan en sit die vlam aan. Nou is nie 'n goeie tyd om rond te gaan loop in die tuin nie want jy moet jou oog op die vel en vet hou anders gaan dinge verkeerd loop.


Spek is in die koue pan

Die vel het nou begin braai

Klaar gebraai

Jy moenie toelaat dat die pan erg oorverhit en jou vet en speserye brand nie want nadat jy die vel repe uit die pan uitgehaal het gaan jy die tjops in dieselfde pan braai. Geur jou tjops soos jy daarvan hou en sit dit in die pan. Moenie die pan oorlaai nie want dan kook die tjops voordat hulle begin braai.

Vir my pan en stoof braai ek die tjops so 5 minute aan 'n kant.

Tjops is in die vet op die vuur

Lekker gebraai na 5 minute op die kant

En hier is die eindresultaat ... heerlike sappige varktjops met bros en krakerige velstroke. Nou kan jy gerus probeer om ietsie soets saam met die tjops te bedien.

Skep so twee etlepels appelkoos konfyt in a bakkie, gooi so bietjie gemaalde swartpeper, rissie poeier, blertsie balsamiese asyn en 'n halwe teelepel mosterd poeier by. Roer goed en mikrogolf so vir 2 minute. Heerlike soet/suur lekkerte saam met jou tjoppie.

Min dinge wat vir my so lekker is. Jy kan aartappels in enige vorm hier by bedien en ek het klein pampoentjies gemaak met kaneel en marshmallows.

Iets wat ek myself mee forseer deesdae is om nie sommer meer as drie soorte kos op die bord te sit nie. Dit verbloem te maklik die smake.

Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is die skakel na my ... FACEBOOK BLADSY

Hier is die skakel na my ... MAN KOS BLOG




Maandag 27 Januarie 2014

Varktjops 'n groot lekkerte ...

Ek is mal oor varktjops en is mal oor man kos. 'n Lekker vark tjop is Man Kos vir my. Die grootste probleem wat ons het is dat die oumense ons gewaarsku het teen rou varkvleis en derhalwe word 'n vark in sy maai in gebak, gebraai en gebrand. 



Moderne slagpales is op die ball en mase
ls is nie werklik meer 'n groot issue nie. Solank jy by 'n betroubare vleiswinkel jou vark koop hoef jy nie regtig te kwaai te worry nie.

As gevolg van eeue se indoktrinasie moet ons almal maar ons ou metodes herdink want die moderne gevoel is dat mens vleis moet kan proe vir wat dit is en dat die deurgekookte, dood gebakte voorbereidings metodes nie regtig meer vanpas is nie. 

Tog met vark moet jy versigtig wees ... maar daar is 'n groot verskil tussen gaar en moerland toe.

Tweede issue is dat jy sien die tjop in die pakkie en dan hoor jy al hoe kraak die vel tussen jou tande. Dit veroorsaak dat ons fokus op die crispy kry van die vel. Ongelukkig beteken 'n crispy vel gewoonlik 'n uitgedroogde tjop. Daar is baie faktore wat die crispy vel beinvloed en hitte is maar net een.

Nou hoe gemaak ...

Plan 1:

1. Sny daai spekvel dadelik af as jy die vleis voorberei en sit dit eenkant.
2. Spice of sous jou tjop met jou geliefde spesery of sousie. So blerts suurlemoen en so leksel heuning maak a varkie altyd mooier en ek gooi ook sommer so bietjie mosterd saad oor.
3. Kyk nou na jou spekstrook ... spice hom en sit hom in jou gekose pan ... so middelmatig warm ... laat lê die vel op sy vetkant, nie die vel kant nie, sodat hy lekker kan uitbraai. As jy vir die gesin kook gaan jy gou gou 'n lekker pannetjie vet hê waarin die velle borrel en spoeg.

Braai daai velle lekker bros en ligbruin ... passop vir brand. Dis omtrent soos kaiings maak. 

Nouja nou is die vel uitgesort en jy het 'n lekker pan met pure varkvet in ... pak nou jou tjops en terwyl die velle op papier lê en peins.

Braai die tjop tot hy so lekker korsie het en flip hom om. Nou die anderkant ... nog a flip vir so minuut en haal die tjops uit en sit dit op jou opdien bord ... laat hulle nou net solank rus as wat jy gebraai het.
Die rusproses is belangrik want die vlei is baie warm aan die buitekant, eintlik oorgaar maar nog koel in die binnekant, tydens die rus proses gee jy die hitte tyd om mooi stadig deur die vleis te trek en te balanseer ... dit laat jou vleis dan heeltemal gaar word in die middel. Ek was self verbaas toe ek lees dat vleis by 65 C gaar is. Al wat ons moet doen is om te leer dat temperatuur die vleis gaar maak en nie hoe dit lyk nie.
Siedaar ... liplekker sappige tjops en crispy vel. The best of both worlds.

Plan 2:

Hierdie plan is vir die wat 'n oond het en lus is om bietjie uit te hang.
Begin met 'n lekker diep pan ... kap so een of twee appels op in blokkies. Gooi genoeg water in om die appels te bedek. Strooi nou so twee of drie eetlepels suiker oor, bruinsuiker is lekker vir my, 'n blêrts heuning en suurlemoensap. Bietjie sout en laat die water toe om te begin kook.

Nou hier kan jy jou smaak so bietjie prikkel ... ek gooi kaneel, gemaalde gemmer en nutmeg in die appel pan ... moenie te kwaai wees met die gemmer nie. Net terloops, ek is nie 'n slaafse volgeling van mates as dit by geur kom nie. En moenie vergeet dat daai knippie sout gewoonlik al is om die smake te laat opspring.

Hou jou oog op hierdie pan ... jy wil hê daar moet 'n lekker sous vorm in die pan. Moenie worry oor die appels nie ... hulle gaan nog oond toe, so hulle gaan verseker gaar word ... werk aan die sous.

Terwyl die appels nou pret in die pan het, gooi jou geliefde speserye op die vark tjops en vryf dit so bietjie in. Ek jaag ook sommer bietjie aartappels deur my mikrogolf oond sodat dit klaar gaar is.

Vat 'n bakplaat en smeer hom met olie. Pak nou die tjops mooi uit op die plaat, maak seker jy plaas die beste kant bo want jy gaan die tjops nie omdraai nie.

Maak jou oond lekker warm, so 180 C werk vir my. Eintlik so bietjie aan die verkeerde kant van 180 C ... menende warmer.

Skep nou die appelsous oor jou tjops en pak op elke so paar stukkies appel. Los die res van die sous en apples in die pan, jy dit later gebruik as jy opskep.

Wat ek gewoonlik doen is om nou so bietjie room en 'n knerstie mosterd by die sous in die pan te sit en dit net lekker warm te hou, moenie laat kook nie want dan gaan die room split.

Sit die aartappels nou ook op die plaat.

Nou in die oond in op die middelste rakhoogte ... so 30 to 40 minute kan werk maar hou maar a ogie. Jy wil hê die vleis moet vinnig bak maar dit moenie brand nie.

Jy sal sien as dit reg is vir jou. Sit die oond af en berei jou borde voor. Laaste haal jy die tjops uit en jy lig hom mooi op uit die pan uit en sit hom op dieselfde kant in die bord. Skep nou die laaste appels en sousies oor die tjops en geniet dit.

Gewoonlik sal die vel nou ook lekker bros wees maar as jou tjops 'n dik vel aan gehad het, soos wat soms gebeur ... sny ek die velle af sodra die oond afgaan en sit die klomp repe in a pan en braai dit verder uit.


PS ... Checkers het deesdae wonderlike vark snitte.